Die alzheimerlyer Michael Joyce (68) het chroniese geheueverlies wat hom laat sukkel om van dag tot dag gebeure te onthou – maar hy het wonderbaarlik elke dag vir ’n week lank onthou dat hy weer vir sy liefdevolle vrou, Linda (64), gevra het om te trou nadat hy die groot vraag op 14 Januarie gevra het. 

Nadat vriende, familie en die gemeenskap op kort kennisgewing saamgewerk het om ’n seremonie te reël waar hulle hul troubeloftes kon hernu, het die Skots gebore paartjie – hulle is van Glasgow maar woon in Auckland, Nieu-Seeland – op Saterdag 20 Januarie voor 15 gaste in Hamilton Lake afgehaak.

Michael, ’n voormalige elektrisiën, voer ’n “opdraande stryd” sedert alzheimersiekte in 2010 by hom gediagnoseer is. Hy sukkel ook met disoriëntasie, gemoedskommelinge en spraakverlies, wat sy vermoë beperk om homself uit te druk en geskrewe en gesproke taal te verstaan.

Linda sê sy was “in die wolke” en “ongelooflik ontroer” toe haar man van 34 jaar vir die tweede keer vra om te trou – en nog meer in vervoering toe hy die volgende dag alles onthou het – iets wat weinig gebeur. 

Linda, ’n voormalige veeartsenykundige medisyneverteenwoordiger wat as kind Nieu-Seeland toe geëmigreer het, sê: “Michael het vroeg gaan slaap en hy raak dikwels rusteloos deur die nag, en toe kom hy ’n paar uur later uit en lyk verward en deurmekaar.

Ek het in sy oë gekyk en hom gevra wat is fout, en kon sien hy probeer vir my iets vra, maar hy kon nie die woorde uitkry nie. Toe hou ek sy hand en vra: ‘Wat is dit, my liefling? Wat probeer jy vir my sê?’"

“Daar was iets anders omtrent hom en die manier hoe hy na my gekyk het. Ek het in sy oë gekyk en hom gevra wat is fout, en kon sien hy probeer vir my iets vra, maar hy kon nie die woorde uitkry nie. Toe hou ek sy hand en vra: ‘Wat is dit, my liefling? Wat probeer jy vir my sê?’"

“Hy het met trane in sy oë na my gekyk en stotterend gesê: ‘Sal jy met my trou?’ Ek was stomgeslaan en vir ’n minuut heeltemal sprakeloos. Maar ek het natuurlik geantwoord: ‘Ja, my liefling, ek sal verheug wees om met jou te trou.’"

“En toe slaan hy werklik my asem weg toe hy vra: ‘Wanneer?’ Dus het ek toe geantwoord: ‘Wat van hierdie naweek?’ En dit was dit. Ek het gedink dis maar net een van die gevolge van sy alzheimers. Maar toe hy die volgende oggend wakker word, het hy alles onthou en was so opgewonde oor ons troudag."

“Dit was wonderbaarlik. Hy het dit elke dag vir ’n week lank onthou. Die alzheimers het hom so vergeetagtig gemaak dat dit my werklik verstom het. Hy is in die latere stadium van alzheimersiekte, wat dit nog meer wonderbaarlik maak dat hy daaraan gedink en boonop onthou het."

“Ons was net bestem vir mekaar. Ons is vir altyd toegewyd aan mekaar en ek sal hom tot die einde van tyd liefhet. Liefde oorwin werklik alles.”