Die liggame van Sharnelle Hough (17) en Marna Engelbrecht (16) is op 26 Mei in die Hoërskool Stella se skoolkoshuis aangetref. Sharnelle, onder haar vriende as Lalla bekend, en Marna was boesemvriendinne.

'n Tasbare stilte het geheers toe van die begrafnisgangers Vrydag na afloop van die roudiens pienk, pers en blou ballonne in die lug loslaat. Al wat 'n mens kon hoor, was 'n droë kug en snikke.

Xander Bylsma (19), wat van die moord op die tieners aangekla word, se pa het ook vandag die diens bygewoon.

Ds. Stephen de Villiers en ds. Dries van Wyk het die diens vanuit die NG Noord-gemeente, Vryburg, waargeneem.

Foto: Jana van der Merwe.
Foto: Jana van der Merwe.
Foto: Jana van der Merwe.
Foto: Jana van der Merwe.

Van hul familielede en skoolmaats het roerend huldeblyke aan die twee tieners gebring.

Voor in 'n bundel waarin die huldeblyke vervat is, staan: "As ons na julle gekyk het, het ons die toonbeeld van perfeksie gesien. Julle was die deel van menswees waarvoor ons die liefste was. Uit julle het mens niks minder as glimlaggies en vriendelikheid gekry nie. Vandag gee ons julle vir Jesus, want Hy weet hoe spesiaal julle vir ons was."

Sharnelle (Lalla) se ma, Sonja, noem haar onder meer haar "Lallapansie" in die huldeblyk.

"My hart is stukkend hier waar ek nou sit. My kind, jy het die mooiste lag gehad, die mooiste ogies en jy was 'n mooi mens uit en uit. My liefie, jy sal nooit alleen wees nie en Marnatjie is nou daar waar julle altyd gelukkig en veilig sal wees."

Foto: Jana van der Merwe.
Foto: Jana van der Merwe.
Foto: Jana van der Merwe.
Foto: Jana van der Merwe.
Foto: Jana van der Merwe.
Foto: Jana van der Merwe.
Foto: Jana van der Merwe.
Foto: Jana van der Merwe.
Foto: Jana van der Merwe.
Foto: Jana van der Merwe.
Foto: Jana van der Merwe.

Marna se ouma, Marieta, skryf daarin hoe dankbaar sy is dat Marna en haar ma Donderdag by haar gekuier en geëet het. Sy sê sy sal Marna se liefde en glimlaggies onthou, en ook vir Sharnelle.

Sharnelle se oupa en ouma se boodskap aan haar vertel ook van hul oneindige pyn.

"Ons moes jou nie eerste groet nie. Maar my kleinkind, ons woorde is min en ons trane baie."

Die huldeblyk word afgesluit met die lirieke van See You Again, 'n liedjie wat deur Wiz Khalifa saam met Charlie Puth aan die akteur Paul Walker opgedra is. Dit was die temalied van The Fate of The Furious, die 7de fliek in die Fast & Furious-fliekreeks.

Xander, 'n gewese kêrel van Sharnelle en ook 'n oudleerling van die skool, is Saterdag in verband met die moorde in hegtenis geneem. Hy het vroeër vandeesweek in die landdroshof op Vryburg op twee aanklagte van moord verskyn en sal tot sy volgende verskyning op 6 Augustus in aanhouding bly.