’n Onopereerbare breingewas is by Adalynn "Addy" Sooter van Arkansas in Amerika gediagnoseer en sy was in haar sterwensuur toe hul pa die kosbare oomblik tussen die twee sibbes vasvang. 

In die hartroerende plasing op sosiale media skryf hul pa die lewe vir die twee sibbes moes veel anders gewees het. “’n Seuntjie behoort nie sy kameraad, sy speelmaat, sy beste vriend, sy sussie te groet nie,” skryf hy. 

“Dit is nie hoe dit veronderstel is om te wees nie. Maar dit is die gebroke wêreld waarin ons leef,” skryf Matt. Foto: Facebook.

Addy se stryd met kanker het in Oktober 2016 begin toe hy tydens 'n gesinsuitstappie by die Silver Dollar City-temapark in Missouri gesien het sy loop snaaks, het Matt aan die tydskryf People vertel.

“Eers het een van haar bene vreemd geswaai, toe dink hulle dit is dalk ’n ortopediese probleem,” het Addy se ouma, Ann Sooter, aan Daily Mail Online gesê.

Maar die probleem het oor die volgende paar weke “erger geraak” en hulle het die dogtertjie dokter toe geneem. ’n Breingewas wat nie geopereer kan word nie, bekend as verspreide intrinsieke brugglioom, is by Addy (toe net twee jaar oud) gediagnoseer en sy is net ’n paar maande gegee om te leef, berig People.

Die gewas is ’n baie seldsame en aggressiewe vorm van kanker wat gewoonlik by kinders tussen vyf en nege voorkom en Addy was een van die jongste gevalle wat dokters nog gesien het. Die kanker ontstaan in die breinstam, wat ’n mens se spiere, senuwees, hartklop en asemhaling beheer.

Foto: Facebook.

Ná die diagnose het Addy 33 chemoterapiebehandelings ondergaan. Dit het sowat ’n halwe jaar help keer dat die gewas groei, berig Yahoo. Maar in Julie verlede jaar het alle hoop vervaag toe haar gewas weer begin groei.

Die gesin was desperaat om ’n kuur te vind en het ’n eksperimentele chemoterapiebehandeling in Mexiko op die proef gestel. Hulle het meer as R2,6 miljoen aan vervoer en mediese uitgawes bestee, maar die gewas het aanhou versprei.

In ’n sosialemedia-plasing wat die gesin op 2 Junie gedeel het, het hulle verduidelik al het Addy die vorige dag “as haar moedige, spelerige self” wakker geword, het haar simptome vinnig vererger en sy kon nie meer sonder moeite eet of sluk nie. Matt het geskryf “sy het waarskynlik nie veel meer tyd oor nie”. 

’n Dag later, op 3 Junie, is die nuus van Addy se sterfte in ’n plasing gedeel. “Om 1:04 vm. het ons klein meisie die wonderbaarlike genesing ontvang waarvoor ons so lank gebid het en by Jesus se arms ingehardloop,” lui die Facebook-plasing.

Addy. Foto: Facebook.

“Sy het van hierdie lewe na die volgende oorgegaan net soos sy geleef het: koppig, maar ook vreedsaam, en deur familie omring.”

Matt het ook gesê al is dit tragies, sal sy dogter se storie aanhou inspireer en sal sy selfs ná haar dood aanhou om ander mense te help.

“Vanoggend het sy haar gewasse, in die brein sowel as ruggraat, aan wetenskaplike navorsing geskenk met die hoop om kinders in die toekoms van ’n soortgelyke lot te red,” skryf Matt.

“Ons oulike meisie het daarvan gehou om mense te help en geskenke te gee, toe dink ons dit sal ’n uitstekende manier wees om haar vrygewige hart te toon.” 

Bronne: People.com, Dailymail.co.uk, Yahoo.com