Toni skryf:

Die tyd het eindelik aangebreek om ’n hoofstuk van ons lewens af te sluit. Dit was die moeilikste en emosioneel dreinerendste hoofstuk wat my ma, pa, Anthony en ek ooit moes deurmaak: twee jaar en agt maande wat soos ’n leeftyd gevoel het.

Gelukkiger dae. Foto: Facebook (Justice for Jayde)

Hierdie hoofstuk het altyd om een ding gegaan: die beskuldigdes in my suster se moordsaak. Elke oomblik van elke dag het om Christopher, Zolani, Sinethemba en Siyoni gewentel.

Ek is siek daarvan om daardie gesigte te sien en daardie name te hoor.

Dit is soos om dieselfde nagmerrie oor en oor te beleef, maar dis nie 'n droom nie en die boosheid is lewend en werklik.

Dit was baie moeilik om werklik oor die verlies van Jayde te treur, en dit is bykans onmoontlik om net aan haar en haar wonderlikheid en ons gelukkige herinnerings aan haar te dink.

Foto: Facebook (Justice for Jayde)

Daardie oomblikke is altyd oorheers deur woede en haat – en ek bedoel werklik woede en haat in die diepste vorm.

Verstaan asseblief dit is nou ons tyd om te rou, ons tyd om die vreugdevolle tye te onthou en om ’n weg te vind waarvolgens ons vorentoe kan gaan met ons lewens.

Dit kan nie plaasvind terwyl die Justice for Jayde-blad nog aktief is nie. Vir bykans drie jaar het my familie, wat baie privaat is, geen keuse gehad as om al ons foto’s en herinnerings met almal te deel terwyl ons self nie eens in staat was om daardie herinnerings te ervaar nie.

"Dit is nege maande vandat jy van ons weggeneem is. Ek voel so kwaad soos wat ek op daardie dag gevoel het en die manier waarop ons jou verloor het, spook by ons. Ek droom van die duiwels wat jou lewe van jou weggeneem het en wanneer ek wakker word, voel ek vir ’n oomblik soos ’n monster gevul met seer, woede, om alles in my pad te vernietig! Maar ek is net soveel beter as dit. Terwyl daar mense is wat graag van jou wil vergeet . . . koester ek jou elke oomblik van die dag. Jy is by my wanneer ek stap, wanneer ek praat en altyd by my in my gelukkigste oomblikke. Altyd lief vir jou, my suster." het Toni Inggs op 21 Januarie 2016 by die foto op Facebook geskryf.

Ek sê dit op die mooiste manier denkbaar met my hart op my mou: Ek vra die ongelooflike, ondersteunende mense van die publiek en die media om asseblief nou ons privaatheid te respekteer terwyl ons probeer om ons lewens weer te herstel.

Ons is vir ewig dankbaar en oorweldig deur die ondersteuning wat ons van vreemdelinge gekry het. In tye dat ons gevoel het ons leef in ’n slegte wêreld met slegte mense en slegte gedagtes, het julle aan ons bewys daar is nog steeds baie goed in die wêreld! Julle het ons geanker.

Toni by haar ma, Michelle, en pa, Derrick Inggs. Foto: Facebook (Justice for Jayde)

Baie dankie, uit die diepte van ons gebroke harte, dat julle vir ons die moed en krag gegee het om elke dag aan te pak.

Beste wense
Toni Inggs
xxx

CHRISTOPHER PANAYIOTOU

Vrydag 24 November 2017 het regter Dayalin Chetty in die hooggeregshof in Port Elizabeth in minder as 'n uur geen genade aan Panayiotou getoon toe hy hom tot lewenslange tronkstraf gevonnis het nie.

Chetty het gesê Panayiotou het absoluut geen berou getoon nie en was vir die duur van die verhoor uitdagend.

Sinethemba Nenembe, die huurmoordenaar, is tot lewenslank gevonnis op aanklag van moord, plus 15 jaar omdat hy Jayde beroof het.

Zolani Sibeko is tot 15 jaar gevonnis vir sameswering om die moord te pleeg.

Die drietal is op 2 November vanjaar skuldig bevind aan verskeie klagte, waaronder die moord op Jayde Panayiotou wat op 21 April 2015 voor hul huis in Kabega Park ontvoer is.

Panayiotou is op 4 Mei 2015 van haar moord aangekla. Ander klagte sluit in regsverydeling, ontvoering, roof en sameswering tot moord.

Jayde se lyk is die volgende dag in die veld in KwaNobuhle naby Uitenhage gevind. Haar dood stem ooreen met 'n teregstelling.

Luthando Siyoni, die beweerde middelman wat staatsgetuie was, is Donderdag 23 November 2017 deur Chetty as 'n leuenaar afgemaak. Hy word nou ook aangekla van moord, sameswering om 'n moord te pleeg en regsverydeling.