Wie sou kon dink die mooi blon­dine met die skitterwit glimlag wat langs die skat­ryk sakeman, die pa van haar drie kinders, op foto’s pryk sou sulke desperate, kwetsende woorde kon kwytraak?

Jy gaan vandag sterf, en sy ook!!!

In die moordverhoor van die skatryk sakeman Jason Rohde het hofgangers na hul asem gesnak toe die Whats­App-boodskappe voorgelees word wat sy vrou, Susan, kort voor haar dood aan sy skelmpie gestuur het. Ook aan haar man het die 47-jarige ma van drie woedende woorde gestuur.

“Jy gaan vandag sterf, en sy ook!!!” lees een van die boodskappe wat Susan vir Jason gestuur het.

Die “sy” na wie Susan verwys, is Jolene Alterskye, die kollega en minnares van die voormalige uitvoerende hoof van die eiendomsagentskap Lew Geffen Sotheby’s International.

Susan en Jolene Alterskye, Jason se minnares, het ook vir mekaar vurige boodskappe gestuur.

Die plofbare boodskappe wat in die Kaapse hooggeregshof voorgelees is, verklap waarskynlik die geestestoestand van Susan, wie se lyk verlede jaar op 24 Julie in haar hotelkamer op die spoglandgoed Spier naby Stellenbosch gevind is. Jason is van moord aangekla en word tans verhoor.

Gelukkiger tye vir Susan en haar 'sielsgenoot', Jason.

In sy pleitverduideliking het hy oor sy vrou gesê: “Ek glo, met respek, die spoed waarteen haar emosies gewissel het en haar onvermoë om rede te verstaan of haarself rasioneel te laat geld het tot haar selfdood gelei.”

Maar nadat die selfoonkenner Anne-Marie van Niekerk getuig het oor die inhoud van die driestuks se WhatsApps aan mekaar word opnuut oor Susan se geestestoestand gegis.

Hoe desperaat en ontsteld moes sy gewees het om haar man se skelmpie sulke vreeslike beledigings toe te snou dat Jolene teruggekap het met “gaan was jou mond”?

Kon dit wees dat Susan kon aanvoel haar man dryf ál verder van haar af weg – en dat sy radeloos en buite haarself van desperaatheid gevoel het?

Hoe voel dit wanneer ’n huwelik waaraan jy met alle mag probeer vasklou weens ’n derde party verbrokkel?

Wanneer jy uitvind jou man het 'n buite-egtelike verhouding

Hier deel ’n Huisgenoot-leser haar eie verhaal van pyn en hartseer en onthul: Dís hoe dit voel wanneer jy uitvind jou man het ’n buite-egtelike verhouding – en dís hoe diep jy in die ellende neerdaal wanneer jou hele lewe onder jou wankel . . . 

My man het ongelooflik eien­aardig begin optree. Hy was skielik gesondheidsbewus en wou graag oefen en gewig verloor. Teenoor my was hy afsydig – seksueel en emosioneel. Hy wou nie meer aan my raak nie, en niks van my en die kinders het hom meer gepla nie.

Hy was geheimsinnig met sy selfoon en het dit met ’n sleutelwoord gesluit.

Ek het geglo dit is sy werk. Dat hy baie hard werk. Vir ons. Eers ná die tyd het ek besef hy het nie vroeër werk toe gery om te gaan werk nie; hy het vroeër vertrek om by haar te wees.

Hy was geheimsinnig met sy selfoon en het dit met ’n sleutelwoord gesluit. Ek het nie geweet wat dit is nie, en hy wou my ook nie sê nie.

In my huwelik van 16 jaar het ek nie een keer gedink om my man se selfoon te vat en ondersoek nie.

Wanneer ons dogter sy sleutelwoorde ontrafel het, het hy woedend geword en dit verander. Hy het selfs met sy foon toilet toe gegaan.

En tog het ek destyds nie onraad vermoed nie; eers later het ek besef al die gevaartekens was lankal daar. Hoe eienaardiger hy opgetree het, hoe meer sielsongelukkig het ek geword.

Nie hy nie. Hy werk homself dood; waar sal hy die tyd kry?

Ek het druk op hom begin plaas dat dinge na ’n kant toe moes gaan. Hy het altyd gesê skei is nie vir ons ’n opsie nie. Dan sou hy vir my sê hy is lief vir my en ons moet hieroor praat.

Soveel kere het ek hom gekonfronteer, hom gevra of daar ’n derde party is. Hy sou net sê ek is so belaglik, hy gaan my nie eens antwoord nie.

Eindelik het ek sy gedrag met twee vriendinne bespreek. Albei het gesê daar is ’n derde party, maar ek het gesê daar is nie ’n manier nie. Nie hy nie. Hy werk homself dood; waar sal hy die tyd kry?

Die dag waarop ek uitgevind het, was ek op pad terug huis toe. Toe kry ek uit die bloute ’n gedagte.

Ek en hy het nog in die kombuis oorkant mekaar gestaan. Toe sê ek vir hom my vriendin sê daar is beslis ’n derde party en sy gaan ’n privaat speurder aanstel om hom uit te vang.

Toe erken hy dit.

Ek was geskok. ’n Lamheid het oor my gekom. Ek wou weet: Hoe oud is sy? Waar het julle mekaar ontmoet? Hoe lank is dit al aan die gang? 

Toe crack ek.

Eers het ek my trouring na hom gegooi en hom toe met my vuiste geslaan. “F** hier uit!” het ek geskree.

By ander mense kon ek dit raaksien, maar nie dit wat onder my neus gebeur nie.

Dit is ’n gevoel van absolute ongeloof. Jy dink dit kan nie waar wees nie. Dit kan nie met my gebeur nie. Ek glo dit nie. Dit voel letterlik of jou voete onder jou uitgeruk word. Jy hoor so baie daarvan en dit gebeur so baie om jou, maar ek kon dit glad nie sien nie. By ander mense kon ek dit raaksien, maar nie dit wat onder my neus gebeur nie. 

Ek sou baie met my man daaroor praat – daardie een verneuk daardie een – salig onbewus daarvan dat hy dit vier jaar aan my gedoen het.

Die volgende oggend voel jy vuil. Ek kan nie vir jou sê hoe vuil ’n mens voel nie. Jy weet nie waar hy was nie. Ek het gewas en gewas en gewas; dit het gevoel of alles jeuk.

So iets is ongelooflik vernederend. Dit tas jou hele menswees, vrouwees en selfbeeld aan. Jy voel of jy nie jou kop kan oplig nie. Daar was dae dat ek so depressief was, ek kon letterlik nie uit die bed klim nie.

Dikwels het ek die dae omgehuil. Dit voel of die trane nie wil ophou nie en of almal agter jou rug vir jou lag. Jy het seer. 

Ek het heeltyd gewonder: Hoekom? Hoekom het hy dit aan my gedoen? As hy nie gelukkig was nie, kon hy nie net van my skei nie?

Ek het tot ’n polisieman gebel en gevra of hy nie iemand ken wat my man kan uithaal nie.

Jy raak obsessief. Jy soek na leidrade en tekens. Ek het deur ’n fase gegaan waar ek elke bankstaat gefynkam het. Waar was hulle? Watter geld het hy op haar uitgegee?

’n Mens crack heeltemal. Jy kan nie anders nie. Ek het een aand in duie gestort en myself keduks gedrink. Ek het met ’n bottel wyn gesit en dit gedrink terwyl ek deur die bankstate gegaan en gehuil het.

My man het gesê dis my skuld; ek het hom verwerp.

Ek het tot ’n polisieman gebel en gevra of hy nie iemand ken wat my man kan uithaal nie. Ek wou hom laat doodmaak. So seer was ek. Dis die soort gedagtes wat jy kry. Jy kan nie daadie vernedering en verwerping verwerk nie.

Toe ek uitvind wie sy is, het ek op haar Facebook-blad gekyk. Naderhand het ek op haar Facebook-blad geboer. Ek het gesoek na foto’s van hulle saam en haar naam gegoogle om te kyk of ek meer van haar kon uitvind.

My man het gesê dis my skuld; ek het hom verwerp.

Tot vandag toe nog blameer hy my. “Dis jou skuld; jy het jou loopbaan gekies; jy was altyd by die werk.”

Ek het hom geglo en geweldig lank met selfverwyt geworstel. Ek het myself wysgemaak ek het ’n aandeel hierin. My man het die slagoffer gespeel en te kenne gegee dit is ek wat hom verwerp en weggestoot het. Alles was my skuld. Dit is my skuld dat hy alles verloor het.

In ’n mate het dit verligting gebring toe ek besef dit is nie my skuld nie; iets het by hom foutgegaan.

Tot vandag toe nog blameer hy my. “Dis jou skuld; jy het jou loopbaan gekies; jy was altyd by die werk.” Dit is sy manier om sy gedrag te regverdig.

Nadat ek uitgevind het hy het my vier jaar verneuk, het dit gevoel of ek ’n on­gelooflike leuen geleef het. Asof alles wat ek kan onthou, vals is – elke blom, uiteet en spesiale oomblik. Die lewe tot dusver wat ek onthou, was een massiewe klug. Dit het my meer verneder laat voel.

Ek kon glad nie glo of verwerk dat hy so ’n dubbele lewe kon lei nie en kon nooit verstaan hoekom hy so ver gegaan het nie. Toe ons destyds begin uitgaan, het ons mekaar belowe ons sal eerder skei voor ons mekaar sal verneuk. 

Hoekom kon hy nie net bly by daardie be­lofte nie?

Foto's: Misha Jordaan, Facebook