Die superster-sibbe Karlien en Bobby van Jaarsveld se bestuurder-ma, Ronel Brink, erken sy het haarself die afgelope paar jaar laat gaan. Sy het op Instagram aangekondig sy gaan ’n haar leefstyl omkeer en aan haar gesondheid werk.  

Dit volg nadat sy Maandag op haar Instagram-blad ’n foto van haarself, agt jaar gelede, gedeel het.

“Vanaand vat dit al my guts om die foto te plaas. Hierdie foto is agt jaar gelede geneem. Die afgelope klomp jare het ek net laat gaan. Ophou oefen en net eenvoudig verkeerd en te veel geëet. Ek begin more met ‘n nuwe leefstyl. Dit gaan verseker ‘n bitter stryd wees. Ek gaan my bes probeer. As ek val, gaan ek eenvoudig net weer opstaan en aangaan.

"Ons familie het ‘n geskiedenis van hartaanvalle. Ek wil nie daardie pad stap nie. Ek wil my kleinkinders sien trou. Ek wil my agterkleinkinders ontmoet. As ek dit wil doen, moet ek aandag gee aan my gesondheid en my oorgewig probleem. Ek besef dit gaan baie swaar wees, want eks d*****s lief vir lekker eet.

"Maar eks by die punt wat ek moet draai. In die regte rigting. Die gesonder rigting. Soos ek die pad gaan stap, sal ek dit met julle deel. Dalk het iemand raad. Dalk inspireer ek iemand om dit ook te doen. Maar ja. More oggend begin hierdie journey,” het Ronel by die foto van haarself geskryf.

Die inskrywing het meer as 500 trefslae gekry en talle aanhangers het hul ondersteuning vir Ronel uitgespreek met inspirerende boodskappe in die kommentaarafdeling.

“Jy kan en jy gaan. Jy inspireer my nou ook. Ek gaan jou verseker dop hou. Bid vir jou want ek weet dit is nie n maklike pad nie. Mense wat nie oorgewig is nie verstaan nie hoe moeilik dit is nie. Al is jy hoe mooi buite pla dit ons altyd binne. Sterkte @ronelbrink1 jy is n pragtige vrou,” het een van haar aanhangers laat hoor.

“Sooooo opgewonde vir ma! Ons is hier vir ma,” het Karlien van Jaarsveld met ’n hartjie-emoji op haar ma se Instagram-inskrywing geskryf.

'n Ander aanhanger het opgemerk dat Ronel in haar foto van agt jaar gelede baie na haar seun, Bobby, lyk.

"Nee vrou moenie bang wees nie plak net jou foto op die yskas - kan nou sien na wie Karlien lyk op jou sexy foto - hormone is n naar ding - die beste dieet is bloedgroep - of Vegan wat baie mee sukkel - maar Vegan eet jy baie en sal werk vir jou. Daar is krag in gebed - bly Glo aan jou Goal,” was die raad van nog ’n aanhanger.