Die oomblik toe sy in die wêreld kom, moes sy al begin veg om oorlewing. Klein Lari-Chel Massey van Bloemfontein is gebore met net een nier, ’n gat in haar hart – en sonder ’n slukderm.

Deur die een operasie en mediese terugslag ná die ander is haar ouers, Leon en Lizelle, deur dokters aangeraai “om te kom groet, want daar is geen waarborg dat sy sal oorleef nie”.

Maar die pragtige blondekoppie hét oorleef – en ’n jaar gelede, ná vier jaar van buisvoeding, het sy boonop vir die eerste keer kos geproe nadat ’n dokter ’n slukderm uit ’n deeltjie van haar dikderm opgebou het.

Lizelle onthou die oomblik toe haar dogtertjie vir die eerste keer roomys proe: “Sy het niks gesê nie . . . Sy het net sit en giggel terwyl sy aan die roomys gelek het.”

Lari-Chel het ’n moeilike en traumatiese pad voor daardie eerste roomys geloop. Benewens die buisvoeding wat nou iets van die verlede is, moes sy al vyf operasies en talle hartstilstande deurmaak.

“Maar sy is ’n tawwe koekie,” sê Lizelle trots aan ons.

Lari-Chel kon ook vanjaar met haar skoolloopbaan in die gr. RR-klas aan die Laerskool Dr. C.F. Visser in Bloemfontein begin. Sy is baie kleiner as haar klasmaats, want sy weeg maar ’n raps minder as 12 kg omdat haar liggaam stadig ontwikkel het weens al die trauma wat sy moes deurmaak.

Sy staan ook net 98 cm hoog in haar skoene. Die gemiddelde gewig van meisies van haar ouderdom is amper 20 kg en hul lengte 1,1 m. Maar Lari-Chel woon twee maal per week oefenklasse by, waar haar afrigter onder meer aan haar balans en spierontwikkeling werk.

Vandag kuier ons juis hier in Estoire, ’n kleinhoewegebied buite Boemfontein, waar die afrigter Jenny van der Wath vir Lari-Chel klim-en-klouter-oefeninge laat doen. Leon en Lizelle straal van trots oor hul kleinding se vordering, “maar die afgelope vyf jaar was nie lekker nie”, erken hulle.

Lari-Chel doen twee keer per week spier­oefeninge by die afrigter Jenny van der Wath. Foto: Dino Codevilla

Tog sal sy dit weer deurgaan, sê Lizelle, “want vir haar sal ek kaalgat oor die berge stap”.

Leon en Lizelle, onderskeidelik ’n elektrisiën en boekhouer, was in die sewende hemel toe sy in 2012 hul tweede kind verwag. Maar hulle was salig onbewus van wat nog vir hulle voorgelê het, want te oordeel na die voorgeboorte-ondersoeke het niks met die baba geskort nie.

Die egpaar het destyds op Bloemhof in Noordwes gewoon; die naaste staatshospitaal vir die bevalling was in Welkom, want hulle het nie destyds tot ’n mediese fonds behoort nie. Toe Lari-Chel in Februarie 2013 gebore word, het die ginekoloog gesê: “Sjoe, sy is klein,” onthou Lizelle.

“Sy het maar 2,1 kg geweeg.”

Kort ná die geboorte het die dokters ontdek sy kan nie sluk nie en het hulle boonop vrugwater-infeksie by haar gediagnoseer.

“Die melk wat sy gevoer is, het eenvoudig by haar neus uitgeloop.”

Lizelle skud haar kop toe sy terugdink aan daardie tyd.

‘Ek werk nou met ’n hart so groot soos my duimnael’

“Sy het binneaarse voeding gekry, maar het gewig bly verloor. Drie dae later het sy net 1,6 kg geweeg en is sy oorgeplaas na die Universitas- Akademiese Hospitaal in Bloemfontein, waar bevestig is haar slukderm het nie ontwikkel nie.”

Boonop is ’n gaatjie in haar hart ontdek en moes sy op ses dae ’n operasie ondergaan om die gat te heg. Voor die operasie het die chirurg aan Leon en Lizelle gesê hulle moet hul kind maar kom groet, want hy weet nie of sy sal oorleef nie.

“Ek werk nou met ’n hart so groot soos my duimnael,” onthou Lizelle nog die dokter se woorde.

Sy herstel ná een van haar vele operasies. Foto: Dino Codevilla

Die senutergende drie uur lange operasie was ’n sukses, maar toe ’n gastroskopiese buis 15 dae later ingeplant word sodat sy buisvoeding kan kry, het haar hart drie keer gaan staan.

“Altesaam moes ons haar al agt keer ‘groet’,” vertel Leon verder.

“Dit het my woedend gemaak,” val Lizelle haar man in die rede.

“Dan het ek elke keer vir die dokter gesê wie is hy om te sê ons moet kom groet. Dink hy miskien hy is die Here?”

In daardie tyd het mense hulle ook gereeld getroos met die woorde “alles sal oukei wees”. Dit het Lizelle net nog meer omgekrap.

“Dit is die vieslikste ding wat iemand kan sê. Dan antwoord ek hulle met: ‘Lýk sy oukei vir jou!’ ”

Sy het nooit meer grimering gedra nie.

“Dit was useless, want ek het dit in elk geval afgehuil.”

By pa Leon, ma Lizelle en haar sussies, Le-oné (links, 2) en Monique (11). Foto: Dino Codevilla

Lari-Chel se slukderm-operasie sou in die Universitas-hospitaal gedoen word, maar nadat dit telkens uitgestel is, het hul huisdokter hulle verwys na prof. Peter Beale, ’n chirurgiese pediater van Johannesburg, wat die prosedure in Oktober 2016 uitgevoer het.

Die amper R1 miljoen wat die operasie gekos het, is deur die mediese fonds betaal, terwyl familie en vriende gehelp het om die R60 000 bybetaling in te samel.

Die jong pasiëntjie het voor die tyd presies geweet wat gaan gebeur.

“Wat gaan oom dokter doen?” het Lizelle kort voor die operasie weer vir haar gevra.

“Hy gaan my sny sodat ek met my mondjie kan eet,” het Lari-Chel geantwoord. Drie weke later het sy die eerste keer die tekstuur en smaak van kos geproe – einste daardie roomys . . .

Daarna het sy verlede jaar ook haar heel eerste verjaardagpartytjie gehad. Lizelle en Leon se boodskap aan ouers wat ook so ’n onbekende en traumatiese pad met ’n kind moet stap, is “om nooit op te hou glo nie, al lyk daardie paadjie hóé donker”. 

So het Lari-Chel ’n slukderm gekry

Die chirurgiese pediater prof. Peter Beale, wat die slukdermoperasie op Lari-Chel uitgevoer het, sê ’n slukderm wat nie ontwikkel nie, is ’n geboorteafwyking wat by sowat een uit 4 000 kinders voorkom.”

Meestal is dit makliker om die maag op te skuif sodat die slukderm met die keelholte verbind kan word, maar dit moet kort ná geboorte gedoen word.

In Lari-Chel se geval, wat reeds ’n gastrokopiese buis in haar maag vir buisvoeding gehad het, was dit makliker om die slukderm op te bou, andersins sou die buis ontkoppel moes word.

“Dan sou sy nie langer buisvoeding kon kry terwyl gewag is dat die slukderm ná die operasie genees nie,” sê hy.

Gedurende die operasie het hy ’n gedeelte van haar dikderm verwyder en aan die bopunt van haar slukderm geheg, waarna dit binne die keelholte geplaas en geheg is. Die dik- en slukderm is van dieselfde weefsel, wat dit ideaal maak om te gebruik.

Die operasie het sowat vyf uur geduur, normaal vir ’n prosedure van dié omvang, sê hy. Peter het reeds 10 sulke operasies uitgevoer. Hy is verbaas hoe vinnig Lari-Chel herstel het.

“Sy was net sewe dae in die hospitaal; bogemiddeld kort.”

By die Universitas-hospitaal in Bloemfontein het hulle vir haar ouers gesê sy sou sewe weke in die waakeenheid moes deurbring.

Foto’s: Dino Codevilla