Hy is in sy weergawe van die paradys. Net met sy vingerpunte en tone, sonder die veiligheid van klimtoue en penne, klim hy soos 'n mens­like spinnekop teen die skilderagtige bruin krans in die afgeleë Cederberge op. 

Bo hom, afgeëts teen die blou hemel, is sy klimmaat. Dan kom hy by ’n oor­hangende rotslys en soek-soek sy pad sywaarts rondom die hindernis. Te laat sien hy die rots wat afgetuimel kom. 

Toe die 35-jarige Jethro Watson op die grond tot verhaal kom, is albei sy bene onder die rotsblok vasgepen. 

Maar terwyl die kosbare lewensbloed uit sy beseerde bene vloei en sy Amerikaanse klimmaat, Nick Muehlhausen, spook om hom te bevry, besluit hy: Die paradys gaan hom nie vandag vat nie.

“Ek wil net leef; ek wil net leef,” het Jethro vir homself gesê – vir die sowat 12 uur wat verloop het vandat hy onder die rots vasgepen is tot hy eindelik in die operasiesaal ingestoot is.

Soos ’n spinnekop klou hy aan ’n rots. Jethro is ’
Soos ’n spinnekop klou hy aan ’n rots. Jethro is ’n rotsklimmer wat nie toue gebruik nie. Foto: Verskaf

Die operasie het sy lewe gered, maar die prys was sy regterbeen. 

“Ek het geweet as ek my bewussyn verloor, sou dit die einde wees,” vertel Jethro vanuit sy hospitaalbed in die Netcare Christiaan Barnard-gedenkhospitaal in Kaapstad.

Dit is enkele weke ná sy gru­same ontbering in die Cederberge, tussen Ceres en Clanwilliam in die Wes-Kaap.

Sy herstelpad het pas begin.

Hy sal nog weke lank in die hospitaalbed wees, want benewens sy geamputeerde regterbeen is sy linkerbeen ook sleg gebreek. Maar dis nie in dié koelkop avonturier se aard om homself te bejammer nie. 

“Ja, wat gebeur het, is 'n tragedie vir my, maar baie goeie dinge het ook rondom dit gebeur,” vertel hy vandag ná sy daaglikse fisioterapiesessie.

“Mense het ongelooflike dinge gedoen om my te help. Hulle het alles uitgehaal. Die dokters het uitstekende werk gedoen om my te help oorleef en hopelik ’n goeie lewensgehalte in die toekoms te gee.”

Hy is die dankbaarste teenoor Nick, wat met sy kaal hande die rots van sy vergruisde bene afgelig het. Voor daardie dramatiese dag het hulle mekaar net 'n paar weke geken, maar die ongeluk het hulle vir altyd aan mekaar gebind. 

Jethro het agt jaar gelede met rotsklim kennisgemaak en was dadelik verslaaf aan dié uitdagende sportsoort. Hy het van Pretoria, waar hy as projekbestuurder vir 'n boumaatskappy gewerk het, na Kaapstad getrek om ’n “voltydse nomadiese rotsklimmer” te word.

Ten spyte van die ongeluk waarin hy sy been verloo
Ten spyte van die ongeluk waarin hy sy been verloor het, bly Jethro positief en wil hy hê sy storie moet ander inspireer. Foto: Verskaf

Hy het opgehou rook en sy dieet ver­ander na een ryk aan koolhidrate en groen blaargroente; hy het geglo dit sou hom maksimum krag en breinkrag gee.

Om soveel tyd moontlik aan rotsklim te kan bestee, het hy aanlyn projekbestuur begin doen om sy rekenings te betaal. 

In dié ekstreme sportsoort gebruik klimmers nie toue en harnasse wanneer hulle teen kranse uitklouter nie.

Hulle dra fyngemaalde kryt in ’n sakkie om hul middellyf en vryf die poeieragtige stof aan hul vingerpunte om hulle ’n greep aan groefies teen rotswande te gee, en spesiale skoene waardeur hul tone krake in die rots kan voel vir vastrapplek. 

Jethro sê sy klimtegniek het mettertyd verbeter; dis hoekom hy besluit het om Rocklands toe te gaan. Dit is ’n afgeleë rotsklimkamp in die Cederberge waar toegewyde klimmers van oor die hele wêreld bymekaarkom.

Hy het op 20 April sy kamp ingerig en beplan om die winter in Rocklands deur te bring. 

By die kamp het Jethro vir Nick, van Arizona in Amerika, ontmoet. Hulle het dadelik gekliek en rotse saam aangedurf. Op die oggend van 13 Julie het die twee nog ’n klim gedoen.

“Ek was in topvorm,” sê Jethro. “Ek het goed geklim; ek het goeie mense om my gehad. Dit was ’n fantastiese tyd. Ek was in die paradys.”

Min het hulle geweet wat wag en dat Jethro se lewe vir ewig sou verander. 

Die weerstoestande was perfek toe die twee ná ontbyt hul jongste klimavontuur aanpak. In Jethro se rugsak was sy kamera­toerusting, peuselgoed en water. 

Ek onthou hoe ek my been voel knak het, en die intense gewig.

Hy het tot by die oorhangende rotslys geklim. Nick, ’n meer ervare klimmer, was ’n paar meter bo hom. 

Jethro het met sy vingerpunte en voete ’n pad om die oorhangende rotslys begin soek . . . en toe sien hy hoe 'n rots bo hom na benede begin tuimel.

“Ek is nie seker hoe dit gebeur het nie, maar die rots het losgekom en begin rol,” sê hy.

Hy het vergeefs uit die pad daarvan probeer kom. Alles het so skielik gebeur. Saam met die rots het hy meters ver na onder geval. “Ek onthou hoe ek my been voel knak het, en die intense gewig.”

Hy het geskree en Nick het bergaf geskarrel. Daar het hy Jethro vasgepen onder die rots gevind en besef sy maat sou sterf as hy hom nie bevry nie. Nick het met ysere krag gebeur tot hy die rots van “so 1,5 m hoog” van die hulpe­lose Jethro se bene af gelig het.

Jethro sê sy linkerbeen was duidelik gebreek, maar sy regter­been was “'n gemors”.

“Dit was heeltemal vergruis en daar was baie bloed; die been het plat gelyk.”

Tog het albei kalm gebly.

“Ek en Nick is albei koelkop. Ons het die erns van die situasie verstaan en ons het albei geweet wat ons moes doen. Daar was geen paniek nie,” verduidelik Jethro.

'Ek het geweet as ek my bewussyn verloor, sou dit die einde wees'

Nick het sy hemp uitgetrek en dit om Jethro se regterbeen gedraai om die bloeding te verminder. Dit het later geblyk dit het sy lewe gered. 

“Nick het vir my gekyk en gesê: ‘Sjoe, jy’s gebreek.’

Toe skarrel hy bergaf om 'n selfoonsein te kry om die kampeer­terrein te bel, waar mense die parame­dici ontbied het.”

Jethro kan nie onthou hoe lank hy daar in 'n waas van pyn vir die reddingspan lê en wag het nie. Hulle het te voet opgedaag. Hy vertel hy het net daarop gefokus om te bly leef.

Maar hy onthou Nick was voortdurend op en af teen die berg om te kyk hoe dit met hom gaan, en ook om sigbaar te wees vir die paramedici.

Die reddingspan het Jethro gestabiliseer en pynmedikasie gegee voor hy per helikopter na die Mediclinic Milnerton in Kaapstad geneem is. Van daar af is hy na die Christiaan Barnard-hospitaal oorgeplaas vir gespesialiseerde behandeling.

Ek het nie daaraan gedink of ek weer sou kon klim of nie; ek wou net leef.

Dr. Kirsten Bischof het vir Jethro gesê sy regterbeen is dood – dit moet ge­amputeer word om sy lewe te red.

“Al wat ek kon dink, was dat ek wou leef. Ek het nie daaraan gedink of ek weer sou kon klim of nie; ek wou net leef.”

Toe hy ná die operasie wakker word, was hy sonder sy regterbeen. Sedert die ongeluk het Nick hom gereeld in die hospitaal besoek en hulle bly in kontak.

Hy het sy lewe te danke aan sy Amerikaanse rotsklimvriend en is diep dankbaar vir sy steun, vertel Jethro.   

Sy gebreekte linkerbeen sal maande neem om te herstel omdat dit op verskeie plekke gebreek is, maar Jethro hoop om genoeg beweeglikheid en krag in die been te herwin sodat hy kan rondbeweeg en dalk selfs weer kan klim.

“Selfs al is dit op ’n meer beperkte manier. Ek wil terugkeer na klim en stap.”

Jethro, ’n enkelloper, erken rotsklim is ’n “gevaarlike sport”.

Maar hy sê hy was altyd versigtig, en voor sy ongeluk het hy geen groot ongelukke beleef nie.

“Ek is nie kwaad vir die wêreld nie,” sê hy oor die ongeluk wat sy been geëis en sy deelname aan sy geliefde sport kortgeknip het.

“Ek is hartseer dit het gebeur en dis moeilik om te hanteer, maar ek glo dit sal ’n goeie uitkoms hê – op die een of ander manier.” 

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.