“RSG maak beslis nie sy deure toe nie,” sê Magdaleen Krüger, die hoof van die SAUK se Afrikaanse radiostasie.

“Dis fopnuus dat RSG gaan sluit. Volgens die nuwe strukture wat nou oorweeg word, is dit duidelik dat die SAUK RSG as ’n baie belangrike stasie in die organisasie beskou.”

Magdaleen sê RSG sal in die SAUK se nuwe gekombineerde sake-eenheid ingedeel word. Ander stasies in die eenheid sal Metro FM, UkhoziFM en Channel Africa wees. 

“Dit is ’n pluimpie vir RSG dat die SAUK ons sien as ’n stasie van strategiese belang,” sê Magdaleen. “Dit is ’n aanduiding dat die SAUK erns met Afrikaans en erns met RSG het.

"Trouens, volgende jaar kan selfs verwikkelinge bring wat Afrikaanse radio verder sal uitbrei."

Dit het vandeesweek aan die lig gekom dat sowat 400 van die sowat 3 000 werknemers by die organisasie afleggingsbriewe ontvang het.

Ná Donderdag se SAUK-raadsvergadering is daar egter besluit om die proses vir sewe dae te staak om die nodige gesprekke met afdelings in die organisasie te voer.

“Ons weet al vir ’n geruime tyd dat daar finansiële probleme is, en daar was sprake van moontlike herstrukturering, maar dit is altyd ’n skok wanneer dit ’n werklikheid word,” sê Magdaleen. “Dit is iets wat nie net mense se werklewe raak nie, maar ook hulle persoonlike lewe.”

Tog bewonder sy haar span dat almal gefokus bly en steeds daartoe verbind is om uitstekende werk te lewer.

 

“Baie van die poste wat geraak word, is agter die skerms, en baie luisteraars sal waarskynlik nie eens die impak daarvan agterkom nie.”

Volgens die beoogde herstrukturering sal permanente omroepers in die toekoms slegs op ’n vryskutgrondslag werk. Dit beteken omroepers soos Martelize Brink, Haidee Muller, Fritz Klaaste, Jacqui January en Johan Rademan se stemme sal steeds op die stasie weerklink indien hulle dit so verkies.

Sy kon nie kommentaar lewer oor sprake dat salarispakkette geraak sal word nie, aangesien dit deel van die proses is wat deur die departement menslike hulpbronne afgehandel moet word.

  • Die SAUK is genader vir kommentaar; dit sal bygewerk word sodra dit ontvang word.