Ruaché is op 26 weke gebore en het met geboorte net 440g geweeg – soveel soos ’n blikkie koeldrank. Sy het op 19 weke ophou groei omdat sy nie voldoende voedingstowwe gekry het nie. Daar het tydens haar ma, Mari, se swangerskap ’n bloedklont in die naelstring ontwikkel.

Ruaché is vroeër die week weer aan ’n asemhalingsmasjien gekoppel en moes vir ’n operasie gaan om ’n voedingsbuis in haar magie te plaas.

Dokters het ook ’n opening in haar lugpyp gemaak (’n tracheostomie) om asemhaling makliker te maak. 

“Sy stoei vreeslik baie, so sy is nou onder verdowing sodat sy nie die pype en dinge kan uittrek nie. Sy huil ook vreeslik wanneer sy wakker is. Ek dink sy het maar pyn,” sê Mari aan Huisgenoot

Foto: Verskaf
Ruache moes nog 'n operasie die week kry. Foto: Verskaf

Die gesin het gehoop hulle eersteling sou al amper huis toe kan kom, toe sy dié terugslag gehad het. 

“Ruaché se longetjies het maar net aanhou sukkel en sy moes weer gehelp word en toe weer terug gaan op die ventilator.”

Ruaché het sedert haar geboorte baie gesondheidsuitdagings gehad. Haar derms het net ná geboorte geperforeer wat ’n algemene gesondheidsprobleem is by babas wat só vroeg gebore word. Haar derms moes tydens ’n operasie weer geheg word en was vir ’n geruime tyd buite haar lyfie in ’n sakkie. Dis egter weer, tydens ’n vorige operasie, in haar buik teruggesit.

“Dit gaan steeds goed. Ons is hoopvol en ons weet klein Ruaché is ’n klein fightertjie,” sê Mari. 

Mari het self ook haar eie gesondheidsprobleme gehad en het nes haar dogter by die dood omgedraai. Sy was vir weke in die hospitaal. Mari het nierversaking gekry tydens Ruaché se geboorte en ontvang nou verskeie kere per week dialise. Sy gaan ’n nieroorplanting benodig en is op die orgaanskenkerslys. 

Foto: Verskaf
Ruache is onder verdowing. Foto: Verskaf

Tog bly sy en haar man, Johan, positief. 

“Ons is dankbaar. Dit is ’n moeilike pad vol duwweltjies, maar die Here hou ons sterk,” sê sy. 

Johan en Mari ry elke liewe dag van Kempton Park na Pretoria om vir hulle enigste kind te gaan kuier. 

“Natuurlik wens ons sy kan net huis toe kom, maar ons weet sy moet eers sterker raak,” sê Mari.