“Hy bel my sedert gister al om te hoor hoe dit met my gaan en sê dat hy vreeslik alleen is,” sê Suzette. 

Rudi het Maandag ’n operasie ondergaan vir sy mantelvliesbreuk wat hy in Maart 2020 opgedoen het. 

Huisgenoot het destyds berig dat Rudi vir drie maande nie sou kon optree weens die erge pyn wat hy ervaar het nie en dat hy ook mediese behandeling ontvang het. 

“Hy het sere in sy keel gehad en dokters was destyds huiwerig om hom te opereer omdat hulle bang was hy kon uitbloei. Hy moes eers op die medikasie gaan voordat hulle hom kon help.” 

Weens die covid-19 regulasies mag Suzette hom nie in die hospitaal besoek nie en moes sy hom gister voor die hospitaal se deure aflaai. 

Die sanger Rudi Claase sê hy is die gelukkigste wat hy al ooit was sedert hy met sy Suzette getrou het. Saam met hulle is hul twee pekinese, ­Boegie en Boetie. Foto: Sonskyn Fotografie

“Hy is seer en bang en dit is glad nie lekker om alleen in 'n hospitaal te wees sonder besoekers nie.” 

Volgens Suzette het die operasie gister goed afgeloop. Rudi het egter ná die operasie gekla dat hy sukkel om asem te haal. 

“Die dokter was vanoggend by hom en het x-strale van sy bors geneem. Dit blyk dat dit net nagevolge van die operasie is en daar is niks fout met Rudi se bors nie. Hy is vooraf ook getoets vir covid-19 en die resultate was negatief.” 

Suzette sê sy glo Rudi sal more (Woensdag) ontslaan word. 

“Dit gaan egter ’n lang herstelproses wees. Hy sal eers oor ses weke weer kan sing.”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe