Die skokkende voorval het omstreeks 08:30 Woensdagoggend in Brisbane, Australië plaasgevind.

Voorlopige berigte dui daarop dat Hannah Baxter (31), Rowan se vervreemde vrou, en hul drie kinders Aaliyah (6), Laianah (4) en Trey (3) in hul sportnutsvoertuig was toe die voertuig aan die brand gesteek is.

Die drie kinders het op die toneel gesterf, terwyl Hannah later in die hospitaal aan haar wonde beswyk het.

Volgens ’n getuie het Rowan in sy vrou se motor gespring toe sy op pad was om die kinders skool toe te neem. Hy het na bewering daarna die voertuig aan die brand gesteek.

Aaron Snell, ’n buurman, het gesê dapper omstanders wat wou help is deur ’n woedende Rowan gekonfronteer wat hulle verhoed het om die vlamme te blus. Rowan het homself toe glo met 'n mes gesteek.

Een persoon wat wel die vlamme probeer trotseer het om Hannah en die kinders te red, was hul buurman Michael Zemek. Hy het self brandwonde aan sy gesig en arms opgedoen en is in die hospitaal opgeneem.

Hannah het met Michael se hulp daarin geslaag om uit die motor te spring en aan omstanders te gil dat hy “petrol op my uitgegooi” het. Vermoedelik het Rowan die brandstof by ’n nabygeleë vulstasie gekoop.

Rowan Baxter (met die bal). Foto: Gallo Images/Get
Rowan Baxter (met die bal). Foto: Gallo Images/Getty Images

Murray Campbell, ook ’n buurman, het vertel hy het verskeie harde plofgeluide gehoor en teen die tyd wat hy buite die huis gekom het, was die motor reeds in vlamme gehul. Hy het ’n vrou hoor skree.

Nog 'n buurman, Andrew Sinclair, sê hy het ook uitgehardloop toe hy die ontploffings gehoor het.

“Sy het reguit na my gekyk, gestaar. Dit was 'n kyk van pyn en skok wat my altyd sal bybly.”

Hy sê daar was gate in haar klere en haar vel het van haar liggaam afgeval.

Hannah het later in die hospitaal aan haar brandwonde beswyk.

Rowan het ook daarin geslaag om uit die brandende wrak te ontsnap, maar hy het op die sypaadjie langs die voertuig gesterf aan 'n meswond wat hy glo aan homself toegedien het.

Hannah se pa, Lloyd Clarke, het na sy vervreemde skoonseun as “skuim” en ’n “monster” verwys. Hy en sy vrou, Suzanne, het Rowan ook as ’n beheervraat beskryf.

Hulle glo Rowan het obsessief Hannah se selfoon nagespoor om uit te vind waar sy is. Sy moes gereeld haar wagwoorde verander.

“Dit was skrikwekkend,” het Suzanne gesê.

Die laaste keer wat die kinders in Rowan se sorg was, het Rowan en Hannah baklei toe hy die kinders kom aflaai het. Rowan het steeds in die gesin se huis gewoon, sowat 3 km van Hannah se ouerhuis af. Hannah en die kinders het by haar ouers gaan bly nadat sy uit die gesinswoning getrek het.

Volgens haar ouers het Rowan haar voor hulle in die voortuin aangerand deur haar aan die gewrig te gryp en haar arm agter haar rug in te draai. Dit het haar skouer beseer. Hy is toe aangekla van aanranding. Sy het ook 'n beskermingsbevel teen hom gekry.

Haar broer, Nat Clarke, sê sy suster en haar kinders is op die wreedste denkbare manier deur ’n gevoellose monster weggeneem.

Hannah en Rowan het mekaar 11 jaar gelede ontmoet en agt jaar gelede getrou. Volgens Nat het die romanse in ’n nagmerrie ontaard.

“Die laaste ding wat Hannah aan my vrou gesê het, is dat sy opgewonde is dat dit ’n goeie jaar gaan wees,” het hy in sy roerende huldeblyk aan sy suster op Facebook geskryf.

Hannah en Rowan is volgens berigte reeds in September van mekaar vervreem en was gewikkel in ’n toesig- en onderhoudstryd. Volgens die Facebook-groep Standup Speakout het Hannah aan een van haar vriende gesê sy is bly sy het “uitgekom”.

Rowan het sowat twee maande gelede een van sy dogters ontvoer en na 'n ander deelstaat in Australië met die kind gevlug. Die voorval het op 24 Desember verlede jaar plaasgevind en dit het vier dae geduur voordat die polisie haar opgespoor en aan Hannah terugbesorg het.

Rowan het die beskermingsbevel teen hom verontagsaam wat bepaal het hy mag nie binne 20 m van Hannah kom nie. Hy moes op 8 April in die Holland Park-landdroshof verskyn.

Die Queensland-polisie sê dis nog te vroeg om die tragedie as ’n gesinsmoord en selfmoord of as ’n ongeluk te beskryf. Daar is wel bevestig dat daar vantevore kontak met Hannah en Rowan gemaak is in verband met huishoudelike geweldskwessies.

Bronne: 9news.com, news.com.au, couriermail.com.au, cnn.com, nypost.com

Is jy 'n slagoffer van gesinsgeweld?

Hier is organisasies wat kan help: