Vir Marina van Zyl was Webster Swanepoel, ’n weeskind en rugby-uitblinker wat sy op 12 ingeneem het, soos haar eie bloed. Foto: Fani Mahuntsi/Gallo Images
Vir Marina van Zyl was Webster Swanepoel, ’n weeskind en rugby-uitblinker wat sy op 12 ingeneem het, soos haar eie bloed. Foto: Fani Mahuntsi/Gallo Images

Vir vier dekades lank was Piet en Marina van Zyl se lewens oorheers deur die eise van kinders grootmaak. Eindelose skooltake, sportbyeenkomste, pleisters vir stukkende kniekoppe en salf vir gebroke harte . . . 

En ook nie vir net een of twee kinders nie, hoor! Daar was die egpaar se vier dogters uit hul vorige huwelike en Marina se drie susterskinders wat hulle onder hul dak geneem het nadat hul ma in 2000 in ’n motorongeluk dood is.

Dis dié dat sy en Piet (61) ’n dekade gelede uitgesien het na die spreekwoordelike leë nes, vertel Marina (67) vandag hier in hul huis in Meyerton, Gauteng. Want al sewe kinders was eindelik mondig en uit die huis, en hulle kon uitsien na ’n rustige aftrede. 

Maar toe word hulle onbepland weer ouers – dié keer vir Webster Swanepoel (destyds 12), ’n weeskind wie se ouers hom drie dae ná sy geboorte langs die Kliprivier in Johannesburg agtergelaat het. 

Sy was toe 57 en was geensins van plan om weer ma te speel nie, bieg Marina. Sy wou eintlik net vir die behoeftige jong rugby-uitblinker van wie sy verneem het ’n paar noodsaaklikhede koop. “Maar die Here het ander planne met ons gehad.”

Interview with foster parents,Coach and friends of
Webster was Marina en Piet se sonskynkind. Foto: Verskaf

Die egpaar het ook vir “Webbie” vir ’n naweek na hul huis genooi. “Dit was dadelik asof hy ons eie was,” onthou Piet bewoë.

Sommer gou was Webbie daar om te bly en hul drome van ’n stil huis vergete. “Kyk, met daardie besige lyfie was daar vir ons níks rus nie,” sê Marina en glimlag. “En hy kon jou met daardie groot oë tjoef-tjaf om sy pinkie draai.”

Vir hul mondige kinders was Webbie soos ’n nuwe kleinboet. En toe die uitgebreide familie die afgelope Kersfees ná baie jare en die uitdagings van die inperking weer saam kon braai, was Webbie (toe 22) ook daar. 

“Hemel, en hulle kon mekaar terg!” vertel Marina. “Webbie was die kaptein van die NWU-Vaal se rugbyspan, en almal het nog gespot hoe hy ons maar ’n geldjie sal moet leen wanneer sy Springbokdrome waar word. Ons almal het geweet dis net ’n kwessie van tyd.”

Maar op Oujaarsaand het daardie droom onverwags saam met Webbie in die bruin water van die Vaalrivier gesterf. En vandag, skaars ’n week ná sy verdrinking, sukkel sy gebroke pleegouers steeds om sy dood te verwerk.

“Ons is stukkend,” vertel Marina snikkend. “Maar ons baklei nie met God nie. Want saam met die seer kom die besef dat hy 10 jaar lank vir ons geleen is, en nou is hy huis toe.”

Interview with foster parents,Coach and friends of
Diegene wat hom geken het, was oortuig Webster – ’n veelsydige voorspeler – sou eendag vir die Bokke uitdraf. Foto: Verskaf

Die skielike dood en soeke na antwoorde

Dis net ure nadat Piet vir Webbie in die lykhuis moes gaan uitken. Hy het vreedsaam gelyk, amper asof hy wil-wil glimlag. 

“Jis, dit breek jou,” sê Piet hier by die familietafel in die lapa. “Ek dink nie enige ouer is gebou om so iets te moet beleef nie.” 

Hy was soos hul bloedkind, al het hulle hom nooit amptelik aangeneem nie. “Jy weet, hy het ons gekies, nes ons hom gekies het,” vertel Marina. 

“Hy het nie onvoorwaardelike liefde geken voor hy daardie eerste naweek by ons gekuier het nie. Daarna wou hy nie terug kinderhuis toe nie. Ons wou hom ook nie terugstuur nie; God het hom dan vir ons gegee.” 

Tydens hierdie laaste Kerstyd saam het sy haar Webbie vertel hoe trots hy haar maak. “Hy het harte gesteel net waar hy gaan.” 

Die Van Zyls was skaars terug van hul familievakansie op Rysmierbult, buite Potchefstroom, toe Webbie en vriende by die Ascot on Vaal-oord gaan hengel het. Sy rugbyspeler-vriend van die afgelope vier jaar, Arno Hoffman (21), was ook saam.

“Hy het nie onvoorwaardelike liefde geken voor hy daardie eerste naweek by ons gekuier het nie.”

“Webbie was ’n ongelooflike ou,” vertel Arno. “Hy was verskriklik lief vir die lewe, en nog liewer vir diegene na aan hom. Op die veld was hy meer as net ’n uitblinker. Hy kon jou ore aansit sonder dat jy dit besef. Ons het almal geweet hy sou binnekort die Groen-en-goud dra.”

Webbie se uitgebreide vriende en familie worstel nog met vrae oor hoe dié sterk, veelsydige voorspeler verdrink het. 

“Die dag se gebeure speel oor en oor in my kop af,” vertel Arno. “Oor en oor probeer ek bepaal hoe so iets kon gebeur het; of ons hom nie dalk kon red nie. Maar vergeefs. Daar is geen antwoorde nie.” 

Arno en nog ’n vriend het besluit om deur die rivier, sowat 80 m breed, te swem. By die oorkantste oewer gekom het hulle skielik Webbie se hulpkrete gehoor. “Webbie was so halfpad na ons toe. Toe skreeu hy: ‘Hoffie, help my, ek kan nie meer nie!’ 

Interview with foster parents,Coach and friends of
Die Van Zyls se huis is vol medaljes, sertifikate en beeldjies wat Webster in sy jare op die veld verower het. Foto: Fani Mahuntsi/Gallo Images

“Ek het ingespring en na hom geswem, maar hy het reeds onder die water verdwyn. Ek het my asem ingetrek en na onder geswem, maar die bodem was te ver. Ek het weer na bo gekom en vir ’n tweede keer afgegaan. Maar dit was pikdonker. Ek kon niks sien nie.” 

Arno het Dewald Pieters, Webbie se rugbyafrigter, gebel en toe nooddienste na die toneel ontbied. Polisieduikers het Webbie se liggaam ’n uur nadat hy onder die water verdwyn het uit die rivier gehaal. Dis Dewald wat Marina met die slegte nuus gebel het. 

“Ek was histeries,” onthou Marina. “Ek het geskree; ek was heeltemal buite myself. Ek kon my nie ’n groter skok indink nie. Ek wens net ek kon weet presies hoe dit gebeur het.”

Sy huil weer voor sy verder kan praat. “Oor en oor skets ek die scenario; probeer ek uitpluis hoe so iets kon gebeur het. Hy het dikwels krampe gekry wat hom laat krul het van die pyn. Al wat ek kan dink, is dat sy bene dalk gekramp het of dat sy hart gelol het.”

“Maar antwoorde is daar nie, so ons moet aanvaar hy is weg. Ons sonskynkind is weg.” 

Interview with foster parents,Coach and friends of
Webster Swanepoel. Foto: Verskaf

‘Hy speel nou vir die hemel se eerste span’

Marina neem lang slukke water. Ja, die seer van hul verlies is nog baie rou, maar hulle neem ook die eerste treetjies op die pad na berusting. Sy glimlag moedig deur haar trane toe sy oor Webbie praat. 

“Hy het my skuins na 09:00 op Oujaarsdag gebel. Ek het nog vir hom gesê hy moenie stout wees nie en vir hom gesê ek is lief vir hom. Hy het geantwoord: ‘Nooit nie, Tannie, ek is mos nie stout nie. En ek is lief vir jou ook, my tannie. Altyd.’ ”

Min het sy toe geweet dit was sy laaste woorde aan haar. 

Die oorsaak van dood is reeds as verdrinking aangegee, maar die voorval word nog ondersoek, en die Van Zyls het nog nie duidelikheid oor wanneer hulle met sy begrafnisreëlings kan voortgaan nie. 

Piet vertel: “Ek het my altyd so verlustig daaraan wanneer mense gesê het hy aard na sy pa, na mý. En hy hét. Al was hy nie my bloed nie, was hy my seun. Hy het al my geite en gewoontetjies aangeleer. En nou sal ek dit nie weer hoor nie, en dít breek ’n ou se hart.” 

Hul goeie herinnerings aan Webbie maak egter die verlies draagliker, benadruk Marina dan. “Ek sê anderdag vir iemand: Niemand het my meer geleer van naasteliefde en onvoorwaardelike liefde as ons Webbie nie. 

“Al is sy dood vir ons hoe swaar en al verlang ons hoe baie, troos ons onsself dat sy nalatenskap altyd sal voortleef – al speel hy nou vir die hemel se eerstespan.”

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe