Dis die woorde van Anneke van der Schyff (49), wie se seun se belowende rugbyloopbaan weer op ys geplaas moes word.

Haar seun, JP Strydom, moes die eerste keer halt roep toe hy op 16-jarige ouderdom sy been verloor het nadat ’n dronkbestuurder in ’n BMW hom op sy motorfiets raakgery het. JP was maar net 16 jaar oud.

jp op die motorfiets
Foto: Verskaf

“Op dieselfde dag dat hy sy been verloor het, is hy gekies om vir die Leopards-rugbyunie te speel,” vertel sy ma.

Volgens Anneke kon haar seun nie die gedagte verduur om nooit weer op ’n rugbyveld te wees nie.

“Ek sal nooit sy eerste woorde vergeet toe ek ná die ongeluk by die hospitaal aankom nie. Hy het gesê: ‘Ma, ek sal nooit weer rugby speel nie.’ ”

“Hy was ’n ongelooflike rugbyspeler.”

Dit was ’n moeilike reis vir JP (nou 24) en sy gesin van Rustenburg. Maar in plaas van in sak en as loop sit, het JP vasgebyt.

Die jong man het ’n paar maande ná die ongeluk sy eerste prostese van ’n borg deur Jacaranda FM se Good Morning Angels en die voormalige Springbok losskakel Morné Steyn ontvang.

Binne ’n jaar het JP weer sy gunstelingsport gespeel en in 2014 selfs ’n prys as rugbyspeler van die jaar gewen.

jp en morne steyn
Foto: Verskaf

JP was die afgelope paar jaar ’n lid van die M Civils-rugbyklub en het deelgeneem aan die Jaap Steyn-liga, asook verskeie ander toernooie.

Hy speel nou vir die Brits-rugbyklub. Hy het egter onlangs ’n verpletterende oproep van die Blou Bulle-rugbyunie ontvang om te sê hy moenie rugby speel nie, want sy prostetiese been hou ’n veiligheidsrisiko in, sê Anneke.

Jp speel weer rugby
Foto: Verskaf

“Daar was nooit ’n ongeluk as gevolg van sy been nie. Hy is baie ongelukkig; ek dink dis onregverdig. En hoekom juis nou?”

Anneke sê haar seun is gebroke en het al soveel deurgemaak.

“Ons het soveel verloor – eers sy been, en toe hang sy broer homself ’n paar jaar gelede. Dit was iets wat vir JP besig gehou het.”

Sy kan nie help om te dink alles val uitmekaar nie, sê Anneke. “Dis baie moeilik.”

Ten spyte daarvan dat hy nie aan die sport mag deelneem nie, woon JP steeds elke week rugbyoefening by.

“Ek kan die hartseer op sy gesig sien. Ek weet ek moet hom help, maar ek weet nie hoe nie.

“Kan die son nie maar ’n slag vir hom skyn nie? Hoekom moes hulle sy drome verpletter?” vra Anneke.

“Ek leef vir rugby,” sê JP. Hy sê hy kon nie ophou huil Saterdag toe hy kyk hoe sy spanmaats speel en hy kon nie.”

“My sewejarige seun wil nou my posisie speel,” sê JP.

“Hy het selfs gevra: ‘Pappa, kan ek no. 3 speel?’ ”

Dit was nog altyd JP se droom om vir Brits se eerste span uit te draf, en nou is alles verlore, sê hy.

“Ek wil nog speel.”

In Mei vanjaar het Eben Havenga Orthopaedic Services vir JP ’n nuwe prostetiese potjie aangebring. Volgens die maatskappy kan die nuwe potjie hoë-impak-kragte, versnelling, spoedvermindering, wringkrag en skuifkragte weerstaan.

Jp speel weer rugby
Foto: Verskaf

JP het ook ’n Proflex XC en ’n Torsion- prostetiese voet gekry – albei is vir hoë-aktiwiteit-sport ontwerp.“Die piloon en voet het onderskeidelik ’n gebufferde kosmetiese bedekking en ’n EVA-kopolimeer-bedekking,” het die ortotis en prostetis Eben Havenga in ’n brief gesê.

“Dit is toegerus om die ander spelers te beskerm teen die besering van mnr.  Strydom se prostese tydens opleiding en wedstryde.

JP se kaptein, Brandon Gibson, sê JP – wat die stutposisie speel – is een van die mees inspirerende ouens wat jy ooit sal ontmoet. “Hy moet harder oefen as enigeen oor sy gestremdheid, en dit het hom nooit teruggehou nie.

“Hy was nooit oor simpatie vir die span gekies nie, maar oor sy toewyding.” JP speel sy hart uit, sê Brandon. “Ek heg sy prostese aan sy been voor elke wedstryd en sy uitsluiting nou is verpletterend vir ons almal.”

Jp speel weer rugby
Foto: Verskaf

Hy glo JP word op diskriminerende wyse behandel en wil hom nou tot die gelykheidshof wend.

“Sy been is sag; dis nie ’n harde stuk plastiek nie,” sê Brandon. Hy beskryf JP as ’n geesdriftige en toegewyde speler wat die klub eerste stel.

Dr. Eugene Hare, uitvoerende hoof van die Blou Bulle-rugbyunie, sê die unie was in kennis gestel deur hul skeidsregter wat ’n wedstryd hanteer het waar ’n speler met ’n prostese gespeel het, en nie seker was wat om te doen nie.

“Die Blou Bulle-rugbyunie was nie bewus hiervan nie en het nie toestemming aan die betrokke speler gegee nie,” sê Eugene. Die unie het die kwessie na Clint Readhead, senior bestuurder: medies van die Suid-Afrikaanse Rugbyunie verwys.

Eugene sê Clint het verwys na die wêreldrugbyregulasies waarvolgens ’n speler nie met ’n prostetiese been mag speel nie.

“As gevolg van hierdie wet, en om duidelikheid met ’n voorbeeld te verskaf, ’n speler mag nie ’n knie, enkel, gewrig, elmboog of skouerstut dra of ’n gewrigskerm met rigiede plastiek wat dit ondersteun nie,” het Clint gesê in reaksie op die Blou Bulle.

 “Daarom, ingevolge regulasie 12 en wet 4, mag ’n speler nie aan rugbywedstryd met ’n prostese deelneem nie.”

Eugene sê hoewel die Brits-rugbyklub aan die Blou Bulle-kompetisie deelneem, is dit in Noordwes en val onder die Leopards-rugbyunie.

“Hulle kon nie bevestig dat die speler toestemming gekry het of met sy prostese mag speel nie. Ons het aan die Brits-rugbyklub die versoek gerig dat die speler nie speel tot alles uitgeklaar is nie."

JP is nog verward oor alles.

“Hoekom het hulle my nie sewe jaar gelede gekeer nie? En ons is halfpad deur die seisoen. Ek sou graag wou hê hulle moet my nog ’n kans gee.”