Anna (32) en De Wahl Hugo (33) is op Woensdag 14 Oktober by die City Centre Church in Vancouver getroud, omring deur vreemdelinge wat hulle vir die heel eerste keer ontmoet het toe hulle voor die kansel staan. 

“Ons troue was beplan vir die 17de Desember in die Kaap,” vertel De Wahl per e-pos uit Kanada. “Kanada het egter hul grense gesluit vir nienoodsaaklike reise en die lugredery het ons vlugkaartjies gekanselleer.” 

Anna, ’n rekeningkundige, en De Wahl, ’n siviele ingenieur, het verlede jaar besluit om die geleentheid aan te gryp om Kanada toe te trek en daar te gaan werk. 

Die twee het mekaar in 2016 op Laingsburg in die Wes-Kaap ontmoet.

“Ek was net terug uit Skotland en het vir ’n ingenieursfirma aan ’n vloedbeheerprojek gewerk. Anna het as rekeningkundige konsultant vir die munisipaliteit gewerk. Ons het in dieselfde gastehuis gebly en mekaar een oggend met ontbyt ontmoet,” vertel De Wahl. 

“Dit was nadat De Wahl by een van sy kollegas uitgevind het hoe laat ek gewoonlik ontbyt eet,” voeg Anna by. “Hy het my ook sommer daardie oggend genooi vir ’n braai saam met hom en sy werkmense.”  

Dit was nie lank nie of die twee was smoorverlief en op 7 Februarie 2019 het De Wahl en Anna in die Paarl verloof geraak. 

Anna en De Wahl tydens hul verlowing in die Paarl
Anna en De Wahl tydens hul verlowing in die Paarl in 2019. Foto: Verskaf

Blitstroue

Hulle woon deesdae in Sioux Lookout in die noordwestelike Ontario-streek. “Dit is ’n baie klein dorpie met net 5 000 inwoners,” vertel De Wahl. 

Die paartjie het die vorige week by kollegas van De Wahl op Salt Spring Island, so drie uur per boot vanaf Vancouver, gekuier.

Op Dinsdag 13 Oktober het hulle hul troulisensie in Vancouver gekry, maar dit is slegs ’n paar maande geldig in die Brits-Columbië-streek, waar dit uitgereik is, en die paartjie sou nie weer in ’n later stadium na Vancouver kon reis nie.

“Daardie aand was ons effens moedeloos, want ons sou graag in Vancouver wou trou, maar ons het nie geweet hoe om dit aan te pak nie,” vertel hy verder. 

Die volgende oggend het hulle ’n boodskap gekry van ’n predikant in Vancouver.

Dié predikant, Gawie Snyman, is ook ’n Suid-Afrikaner en Anna het hom twee weke tevore gekontak om te hoor of hy hulle miskien kan help met hul huweliksbevestiging. Gawie was in daardie stadium baie besig en die paartjie het hul planne vir eers laat vaar. 

“Hy sê toe hy het die Donderdag tyd om te gesels, maar Anna verduidelik toe ons situasie en hy sê toe dat hy dalk dieselfde aand nog ’n plan kan maak tydens sy Bybelstudiesessie. Dit sou beteken daar is ook getuies wat kon teken,” verduidelik De Wahl. 

Vir Anna en De Wahl het dit na ’n blink plan geklink.

“Ek dink hy was taamlik verbaas toe ons instem,” sê De Wahl. “Dinge het toe baie vinnig gebeur en sy Bybelstudiegroep het alles gerëel. Ek en Anna moes net sorg dat ons opdaag.”

Maar voor die blitstroue het Anna en De Wahl, wat baie lief is vir die buitelewe en graag staproetes aandurf, teen die Grouse-berg in Vancouver gaan opstap.

“Dit was ’n taamlike klim,” vertel De Wahl. 

Anna en De Wahl is ook kranige stappers. Foto: Ver
Anna en De Wahl is ook kranige stappers. Foto: Verskaf

“Anna het ná die stap ’n rok gaan soek, maar ek het nie eens tyd gehad om ordentlike klere in die hande te kry nie. Die kerk was ook nog omtrent ’n uur se ry van ons hotel af, so die tyd was maar skraps,” vertel De Wahl. 

Daardie aand omstreeks 19:00 het Anna in ’n sysagte roospienk somerrok en swart balletstylskoene by die kerkpaadjie afgestap terwyl De Wahl by die kansel gewag het. Een van die Bybelstudielede het Anna tot by die kansel vergesel. 

De Wahl en Anna Hugo saam met die predikant Gabri
De Wahl en Anna saam met die predikant Gawie Snyman kort ná hul troue. Foto: Verskaf

Toe hulle voor die kansel staan, het Gawie die handvol gaste vir die eerste keer aan die bruidspaar voorgestel en vir hulle verduidelik wie is wie. Die seremonie is ook direk op Facebook uitgesaai sodat vriende en familie in Suid-Afrika ook deel kon wees van die spesiale geleentheid. 

“Ek was so opgewonde om eindelik met De Wahl te trou en tog ook so rustig, gevul met vrede, dankbaarheid en blydskap,” vertel Anna.

“Ek was ook bly dat my ouers die regstreekse uitsending kon kyk en sodoende deel was van die feesvieringe . . . Ek moes hulle wel wakker bel en hulle was nog in die bed, want dit was vieruur in die oggend in Suid-Afrika,” vertel sy verder. 

Die Bybelstudiegroep het vir Anna ’n pragtige handruiker van pienk blomme gemaak, koek gebak om ná die tyd te geniet en selfs vir hulle geskenke gegee om die spesiale aand te vier. 

“Alles was ’n verrassing aangesien dit so vinnig gebeur het,” vertel Anna. 

De Wahl stem saam en sê hy het ’n mengsel van dankbaarheid en opgewondenheid ervaar toe sy bruid by die paadjie afgestap kom.

“Alles het so vinnig gebeur dat ek in daardie stadium nog oorweldig was deur die geleentheid. Dit het wel vir my reg gevoel, en ek sou nêrens anders wou wees nie,” sê hy. 

Terug Kaap toe om weer te vier

Hoewel hulle nou weens covid-19 nie dadelik wittebroodplanne kan maak nie, hoop De Wahl en Anna om volgende jaar na Europa te reis vir ’n wittebroodvakansie.

“Ons hou albei van stap en sal graag Switserland en Italië se berge wil besoek,” vertel De Wahl. En hulle hoop om beslis ook in Desember volgende jaar hul huwelik op plaaslike bodem te kom vier.

“Ons het nog die venue, DJ en fotograaf en dit sal lekker wees om vriende en familie dan saam te kry daarvoor,” sê De Wahl verder. 

Maar hul troudag op ’n Woensdagaand in Vancouver sal altyd spesiaal wees. 

“Dit sal my altyd bybly hoe goed mense wat ons glad nie geken het nie vir ons was om ons dag spesiaal te maak. Ook hoe dieselfde mense om ons onthalwe opgewonde was.

"In ’n wêreld waar mense mekaar met agerdog en afguns hanteer, was dit vir my ongelooflik om dit te sien,” sê hy. 

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe