Chris van Heerden
Die Suid-Afrikaans gebore bokser Chris van Heerden, wat deesdae in Los Angeles woon, sê hy soek ’n Afrikaanse boeremeisie. Foto: Verskaf

Noem hom sommer Suid-Afrika se eie Rocky Balboa. Hoekom nie? In die kryt skrik hy vir niks en niemand nie – hy is immers ’n wêreldkampioen.

Ja, soms moet die Suid-Afrikaanse gebore bokser Chris van Heerden, wat al jare lank in Los Angeles woon, homself steeds soggens knyp. Hy leef ’n sprokieslewe in Los Angeles: hy het bande met bekendes soos Charlize Theron en Trevor Noah, en het al selfs akteurs soos Jennifer Garner, Toby McGuire en Mark Wahlberg in die kryt afgerig.

In sy motorhuis staan ’n peperduur Mercedes Benz en die uitsig vanaf sy luukse woonstel in Santa Monica – ’n kusstad in Los Angeles – is prentjiemooi.

Chris van Heerden
In die kryt – dís waar Chris die gelukkigste is. Foto: Verskaf

Net een ding kort . . . 

“Ek soek ’n Afrikaanse boeremeisie!” laat hoor Chris op ’n middaguitstappie in die beeldskone Santa Monica. 

Hy het alles in sy lewe waaroor hy nog altyd gedroom het, som Chris sy lewe en loopbaan op. Hy was eens ’n weltergewigwêreldkampioen en tel steeds onder die top-25 boksers in die wêreld. In Desember verlede jaar het Chris sy tweede wêreldtitel probeer losboks – tot die stryd weens beserings afgelas is.

Buiten vir sy vriendskappe met van die wêreld se beroemdstes, kom daar dalk binnekort ’n fliek en ’n boek oor sy lewe: Die pad van ’n seuntjie van Meyerton in Gauteng tot in die glinsterstad. 

Chris was eens ’n weltergewigwêreldkampioen en tel steeds onder die top-25 boksers in die wêreld. Foto: Verskaf
Chris was eens ’n weltergewigwêreldkampioen en tel steeds onder die top-25 boksers in die wêreld. Foto: Verskaf

“Ek kyk so gereeld terug oor my lewe en besef daar is niks om oor te mor nie. Want die klein seuntjie wat destyds saam met sy pa Rocky Balboa-flieks gekyk het en vir Sylvester Stallone wou ontmoet, is nou huisvriende met dié akteur,” vertel Chris.

“Maar die waarheid is dat daar tog ’n leemte in my lewe is – ek hunker eintlik al lank na ’n pasmaat. Na iemand wat my taal praat.”

In sy sewe jaar in Los Angeles was hy al in ’n paar verhoudings, maar nie een het ooit gewerk nie, bieg Chris. 

Hoekom nie? 

Hy lag. “Amerikaanse meisies is anders!” skram hy.

Chris van Heerden
Die wêreldkampioen het in Meyerton grootgeword en was een van 13 kinders. Foto: Verskaf

Terwyl hy lang ure in die bokskryt deurbring en deeltyds help om groot sterre vir flieks en projekte af te rig, leef hy sy droom uit. Maar saans, wanneer hy tuis kom, verlang hy na geselskap, verduidelik Chris.

Hy soek ’n “boeremeisie”, terg hy. “En met boeremeisie bedoel ek nie noodwendig iemand wat boer nie. Ek verwys eintlik maar net na iemand wat my taal praat – na iemand met dieselfde agtergrond en opvoeding as ek.” 

Voordat Chris ’n wêreldkampioenbokser geword het, het hy as een van 13 kinders in Meyerton grootgeword. Sy pa, die voormalige bokser Daniël Christoffel van Heerden, is in 2018 in die ouderdom van 61 jaar op De Deur, naby Vereeniging, vermoor.

Chris van Heerden
Hier is Chris saam met die aktrise Jennifer Garner. Foto: Verskaf

In sy lewe was daar ook ander donker tye: Toe Chris in Desember 2013 sonder ’n wettige werkpermit in Kalifornië aanland, wou geen bokspromosiemaatskappy saam met hom werk nie. Hy was maande lank werkloos.

“Ek moes in een stadium deur die strate loop op soek na pennies wat ek kan gebruik om kos te koop en het in ’n piepklein huurkamertjie gewoon,” vertel hy.

Maar hy het homself opgetel – en vandag tel Chris weer onder die wêreld se grootstes. 

“Ek sê hierdie dinge omdat ek wil illustreer waardeur ek alles is. Daar was mooi tye en daar was donker tye – en dit alles het my gebring tot hier. Nou het ek net twee drome: ’n Tweede wêreldtitel en ’n Afrikaanse meisie.” 

Chris van Heerden
Hoe lyk sy ideale maat? ’n “Plain Jane”, lag Chris. Foto: Verskaf

En die afstand is geen probleem nie . . . 

“Ek sal Suid-Afrika toe vlieg om haar te kom ontmoet!” spot Chris en lag hardop. “Ek is immers ’n gentleman.”

Hoe lyk sy ideale vrou? 

“Sy is ’n plain Jane – iemand wat meer daarvan hou om kaalvoet op die strand te loop of te gaan stap in die berge as om haarself op te dollie. Sy moet ’n dromer wees en ook ambisie hê. En – hoe sê mens dit? – sy moet na haarself omsien.” 

En in ruil daarvoor, terg hy weer, bied hy ook baie.

“Ek wil my lewe in die glinsterstad met haar deel. Ek is ’n hopeless romantic en sal haar op die hande dra vir die res van ons lewe saam. As dit tussen ons uitwerk, hoop ek my boeremeisie kan permanent by my aansluit hier in Los Angeles.”

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe