Nadat hy vyf uur lank op die OR Tambo- internasionale lughawe in Johannesburg gestrand was ná ’n repatriasievlug van Amerika af, is Jordy en sy vrou, Lyndall, eindelik by die huis. 

Die Suid-Afrikaanse beroepsbranderryer, wat in Hawaii en ander dele van Amerika geoefen het, wou volgende na Australië toe reis. Maar die pandemie het dié plan in die wiele gery.

Sy aankoms in Suid-Afrika op 4 Mei was nie ’n aangename een nie, want hy en Lyndall – en bykans 300 ander passasiers – moes vyf uur wag voor hulle ontvang is.

“Ons het in Johannesburg geland en was vyf uur lank op die teerblad gestrand,” sê Jordy.

“Hulle het geen inligting vir ons gehad nie – sowat 275 mense, almal daar gestrand terwyl ons wonder wat de hel aangaan.”

Nadat hulle in Johannesburg in kwarantyn geplaas is, is hy en Lyndall nou eindelik by die huis in Kaapstad.

Al is die 32-jarige opgewonde om weer tuis te wees, erken hy hy mis branderry, wat onder die land se vlak 4-inperkingsreëls verbode is.

“Dis wonderlik om by die huis te wees. Vanselfsprekend moet ons die regulasies en reëls gehoorsaam. Ek kan nie op die oomblik branderry nie en dis nogal ’n teleurstelling.

“Ek het van Hawaii en Amerika gekom waar ek toegelaat is om vir die Olimpiese Spele en enigiets soortgelyks te oefen; dus het alles tot stilstand gekom.”

Vir eers het hy branderry soggens vir stap en fietsry verruil. En wanneer hy nie gehaltetyd saam met sy geliefdes deurbring of probeer fiks bly nie, doen Jordy liefdadigheidswerk.

“Ek probeer van die liefdadigheidsorganisasies en hul behoeftiges help,” sê hy.

“En met dié dat die rand so swak is, bring ’n dollar 'n mens natuurlik ver. Daarom probeer ek soveel moontlik dollars inbring om te help steun en doen wat ons ook al kan om hulle te ondersteun, en op enige moontlike manier te probeer help.”