Maar toe Hillary Clinton wakker word, was haar droom aan skerwe, verklap sy in ’n eksklusiewe onderhoud. 

Eers kom ’n man die stoele omruil; toe kom ’n jong mediabeampte hulle regskuif.

Twee mans in vaal pakke met oorstukke wat verklap hulle is in die geheime diens, hang by die deur rond. Stiliste fladder in, in hul noppies met die bewolkte weer, “want dis goed vir foto’s”.

Dit voel soos die gevolg van ’n veteraanrolprentster of dié wat ’n monarg vooruitgaan. “Sy’s op pad,” hoor ek herhaaldelik, gevolg deur: “Sy word opgehou.”

Ek hou heeltyd my notaboek en bandopnemer reg vir my onderhoud met Hillary Clinton, maar vergeefs.

En toe stap die ware Hillary in net toe ek ’n pruilmond trek.

Om die tyd te verwyl, help ek die fotograaf alles regsit vir die fotosessie en trek woedende en teleurgestelde gesigte terwyl ek maak of ek Hillary is. Sy het per slot van rekening in die Amerikaanse verkiesing verloor teen ’n rokjagter wie se kandidaatskap sy as ’n grap beskou het.

En toe stap die ware Hillary in net toe ek ’n pruilmond trek.

Gelukkig sien sy dit nie en skuif dadelik die stoele nader aan mekaar.

'n Vorige ontmoeting

“Dit voel of ons mekaar al ontmoet het,” laat hoor sy hartlik. Dis vreemd, want sy is immers die bekende een, al lyk sy in lewende lywe sagter en blonder en haar oë blouer. Sy is 70 en my hele volwasse lewe is sy al op die wêreldverhoog: presidentsvrou, verontregte wederhelf, senator, minister van buitelandse sake, die eerste vrou wat haar as president verkiesbaar stel.

Selfs haar broekpakke lyk bekend; sy dra vandag ’n swart broek en blink blou top.

“Ek wed jy weet meer oor my persoonlike lewe as wat jy oor van jou beste vriende weet,” sê sy in haar nuwe boek.

“Jy’t my e-posse gelees, in hemelsnaam. Wat het jy nodig? Wat kan ek doen om ‘opregter’ te wees? Op ’n tafel dans? Soos ’n matroos vloek? In trane uitbars?”

Natuurlik is dit presies wat ek wil hê terwyl ek wag in die hotel op Chappaqua, die boomryke dorpie noord van New York waar sy en Bill woon. Aan die einde van die doodloopstraat staan hul groot wit waterslagplankhuis, waar sy joga doen, bid en haar verdriet in chardonnay verdrink.

Vandag is dit net ystee, en sy is soveel gawer as daardie brose vrou op televisie dat dit gemeen voel om haar te vra om haar hartseer te herleef.

'Dis vir my moeilik om te glo hy staan as president daar en sê wat hy sê'

Ons pluis uit dat ons mekaar in 2010 in ’n hotelkroeg in Suid-Korea ontmoet het. Ek was toe verbaas oor hoe snaaks sy was terwyl ons drankies staan en drink het. Korea is natuurlik nou in die nuus.

Donald Trump en die 'Rocket Man'

Die vorige dag het pres. Donald Trump mense na hul asem laat snak toe hy in sy eerste toespraak op die jaarvergadering van die Verenigde Nasies in New York dreig om Noord-Korea “uit te wis” en die land se leier, Kim Jong-oen, tart deur hom “Rocket Man” te noem.

Jy moes seker gevoel het jy behoort daar te gestaan het, sê ek. Haar glimlag is deels ’n grynslag.

“Afgesien van wat ek sou gesê of hoe ek my sou gedra het, is dit vir my moeilik om te glo hy staan as president daar en sê wat hy sê. Dit was ’n onrusbarende toespraak – donker, gevaarlik, selfsugtig, onsamehangend – en dit het veel meer ruimte vir ’n verkeerde vertolking of verwarring gelaat as wat ek al ooit in enige toespraak van ’n Amerikaanse president gehoor het.”

Blykbaar was Trump met sy herhaalde gebruik van die woord “soewereiniteit” (21 keer) in sy toespraak en sy aandrang dat hy “Amerika altyd eerste sal stel”, oorgehaal om al haar werk as minister van buitelandse sake in die Obama-bewind ongedaan te maak.

“Dit gaan nie oor my nie,” hou Hillary vol.

“Dit gaan oor die boodskap wat dit aan die wêreld oordra en oor wat sy prioriteite is, waaraan hy waarde heg en waaraan nie.”

'Hillary is heeltemal platgeslaan'

Pleks daarvan om die nederlaag te aanvaar en stilweg te verdwyn, het sy ’n boek van 494 bladsye geskryf. Die titel is What Happened. Al lag sy baie tydens ons onderhoud, vind haar bitterheid weerklank elke keer dat die T-woord genoem word– en dit is dikwels.

It's happening! Get your copy of What Happened at the link in my bio.

A post shared by Hillary Clinton (@hillaryclinton) on

Al het ’n hegte vriend van haar vir my gesê: “Hillary is heeltemal platgeslaan,” sê sy self vir my sy het “die vel van ’n renoster ontwikkel”.

In die 1990’s moes sy dit verduur dat die wêreld weet van haar man, die president, se affair met ’n leerlingamptenaar in die Withuis. Wie kan Monica Lewinsky se semenbevlekte rok vergeet?

Toe Hillary in 2008 tot die Demokratiese Party se benoemingstryd toetree, moes sy toekyk hoe ’n koel, jonger ou met baie minder ervaring die werk kry.

Daarna moes sy haar trots sluk om vir hom te werk. En toe stel sy haar weer verkiesbaar en verloor teen ’n werklikheidstelevisieaanbieder wat oor seksuele mishandeling spog en beledigings twiet vir almal van die burgemeester van Londen tot die pous.

Whisky en roomys

Hillary sukkel steeds om te verstaan waarom haar mede-Amerikaners vir Trump gestem het.

“Ek het gedink ek sou ’n vervlaks goeie president gewees het,” sê sy. “Ek het nie gedink ek sou verloor nie.”

Sy erken sy het haar op haar eerste 100 dae voorberei met lêers vol beleidsdokumente en haar oorwinningstoespraak geskryf. Sy was trouens so selfversekerd dat sy terwyl die eerste uitslae die aand van die verkiesing bekend geword het in haar suite in die hotel in New York gaan dut het.

Sy het voor middernag wakker geword terwyl haar man, Bill, en span besig was om whisky en roomys te bestel weens die skok dat Trump in die sleutelstate Florida, Noord-Carolina, Ohio en Iowa gewen het. Teen 01:35 was alles verby.

Hillary sê Trump het haar laat gril toe hy haar verlede jaar tydens ’n TV-debat op die verhoog rondgevolg het.

Die oorwinningspartytjie is afgelas, die wit pakkie is weggepak, en die spesiale platform in die vorm van die Verenigde State onder ’n simboliese glasplafon was ’n vuurrooi verleentheid. Pleks daarvan het sy en Bill in die bed gelê en na die plafon gestaar.

Word sy nog elke oggend wakker en wonder hoe dit gebeur het?

“Ja,” antwoord sy.

“Ek beleef dit nie elke minuut van elke dag nie, maar ek beleef dit nog elke dag.”

Wil sy haarself skop? Sy lag.

Ek het drasties van George W. Bush verskil, maar later sy wêreldbeskouing begryp.

“ ’n Vriend het vir my ’n prentjie gegee waarop staan: ‘Ek doen joga, mediteer en wil steeds iemand skop.’ Ek ken daardie gevoel.”

Dit gaan nie net vir haar oor verloor nie; dit gaan oor teen wie sy verloor het.

“Dis uiters ontstellend, want as ek verloor het teen wat ek ’n ‘normale Republikein’ sou noem, sou ek van hulle verskil het. Ek het drasties van George W. Bush verskil, maar later sy wêreldbeskouing begryp.

Saam met haar man, Bill, en nog 'n oudpresident, George W. Bush, by die inhuldiging van pres. Donald Trump vroeër vanjaar.

“Ek sou nie dieselfde gevoel van ’n werklike verlies vir ons land gehad het nie – dat ons iemand verkies het wat so min weet, nog minder omgee en net die applous van die massa soek. Ek het ’n verskriklike gevoel dat ek daarvoor verantwoordelik is omdat ek nie kon uitpluis hoe om hierdie mens te verslaan nie.” 

Pleks daarvan het sy in die vroeë oggendure van 9 November ’n oproep (na Trump) gemaak waarmee sy toegegee het sy het verloor. Sy beskryf dit as “een van die vreemdste oomblikke van my lewe. Dit was op ’n vreemde manier doodgewoon, soos om jou buurman te bel om te sê jy sal nie sy braai haal nie.”

Dit gaan nie net vir haar oor verloor nie; dit gaan oor teen wie sy verloor het.

Nadat sy die volgende dag geskokte, betraande ondersteuners toegespreek het, het sy en Bill in stilte huis toe gery. Sy was desperaat vir afleiding en het al die rommel uit haar klerekaste gegooi, foto’s in albums gerangskik en die huis ombou wat hulle verlede jaar gekoop het.

Tussendeur het sy saam met Bill en hul honde gaan stap, al Elena Ferrante se romans gelees en tranetrekker-Broadway-musiekspele soos Les Misérables gaan kyk. Maar dit was onmoontlik om te ontvlug.

Ná afloop van die verkiesingsuitslae

Selfs die muurpapier in hul kamer, geel met pastelkleurige blomme, het soos dié in hul ou slaapkamer in die Withuis gelyk. Boonop moes hulle as voormalige presidentspaar Trump se inhuldiging bywoon. Sy het geweet die wêreld se aandag sou op haar gevestig wees en het haar gestaal om “uit te asem en later te skree”. Sy het haar verbeel sy is in Bali.

“Hoekom?” het sy haarself oor en oor gevra. Verstommend genoeg het net 77 744 stemme uit die 136 miljoen op die ou end die deurslag gegee. “As net 40 000 mense in Wisconsin, Michigan en Pennsilvanië van plan verander het, sou ek gewen het,” skryf sy.

“Ek het gedink: ‘Ek moet verstaan wat gebeur het.’ Daarom het ek die boek geskryf,” sê sy vir my.

Tog erken sy die skryfproses was so pynlik dat “ek soms net moes gaan lê”.

Moes sy nie net die nederlaag stilswyend aanvaar het nie? Sy maak korte mette met die idee.

Mense maak blapse, foute . . . Die magte wat hier aan die werk was, was iets heel anders.

“Ek is heeltemal bereid om verantwoordelikheid te aanvaar vir my eie en my veldtog se tekortkomings,” sê sy. 

“Maar dit was nie die hele storie nie. Ek is al dekades lank by veldtogte betrokke, en niemand het ’n volmaakte veldtog nie. Mense maak blapse, foute . . . Die magte wat hier aan die werk was, was iets heel anders, en ek dink dis een van die grootste bedreigings vir die demokrasie.”

Die 'magte' aan't werk agter die skerms

Van die “magte” wat in die boek verkwalik word, is die vrouehaat wat Trump aangevuur het, die Amerikaanse kieskollegestelsel (al het sy 3 miljoen meer stemme as Trump gekry, het sy steeds verloor), die verspreiding van fopnuus deur die sosiale media, en die Russiese president, Wladimir Poetin, se inmenging, wat sy as “ernstiger as Watergate” beskryf.

Sy pak die skuld veral op die FBI-hoof, James Comey, wat net voor die verkiesing ’n brief aan die kongres gestuur het. Daarin het hy onthul die buro het e-posse ontdek wat “betrekking het op” ’n toe reeds afgehandelde ondersoek na Hillary se gebruik van ’n privaat e-posadres vir geklassifiseerde inligting toe sy minister van buitelandse sake was.

“Wat gebeur het, was ’n uiters seldsame sameloop van omstandighede,” sê sy.

’n Vergadering met die Russiese president, Wladimir Poetin, toe sy in pres. Barack Obama se kabinet die minister van buitelandse sake was.

“Ek dink ek sou gewen het sonder die brief van Comey. Ek dink die kombinasie van die brief 11 dae voor die verkiesing en wat die Russe gedoen het, het op die ou end duisende mense in drie state genoeg laat twyfel om anders te stem.”

“Geen land het al Amerika met so min nagevolge aangeval nie,” skryf Hillary.

Facebook het verlede maand erken die Russe het die afgelope twee jaar minstens R1,35 miljoen aan sowat 3 000 advertensies oor Amerikaanse kwessies op dié sosiale netwerk bestee. Wanneer mense daarop geklik het, het hulle ’n stroom opruiende nuusberigte ontvang.

“Geen land het al Amerika met so min nagevolge aangeval nie,” skryf Hillary.

Wrokke tersyde, wat het Poetin gehoop om met sy steun aan Trump te bereik? “Hy het gedink hy steun iemand wat onmiddellik sanksies sou ophef en sou swyg oor Sirië en Oekraïne, en het toe heelwat gekry van wat hy wou hê.”

Die Russe het dalk fopnuus versprei, maar hoekom het soveel Amerikaners dit geglo? Hierdie vraag spook steeds by haar. Een besonder onwaarskynlike storie wat aandag getrek het, was oor Hillary en haar veldtogbestuurder, John Podesta, wat ’n kinderhandelnetwerk uit ’n pizzarestaurant in Washington bedryf.

Haat en leuens

“Hoekom sou mense dit glo? Verpes hulle my en my politiek soveel dat hulle bereid is om die afgryslikste leuens te glo? Hoe kan mense in ’n demokrasie soos ons s’n sulke bog en leuens glo? Hoe het ons toegelaat dat dit gebeur?”

Hillary voel nie net sy het die wêreld met Trump opgesaal nie; sy dink ook sy het vroue teleurgestel wat gedink het hulle sou dit beleef dat Amerika sy eerste vrouepresident kry.

Wat jy ook al van Hillary dink, dit was onsmaaklik om te sien hoe op verkiesingsaamtrekke in die wêreld se magtigste nasie geskree word: “Vermoor die teef!” Hoe het dit haar laat voel?

“Seksisme en vrouehaat is endemies aan ons samelewing; natuurlik sal dit daarom ook in ons politiek teenwoordig wees. Wat vir my so veragtelik was, was dat die kandidaat dit self aangehits het. Ons het in daardie veldtog iemand gehad wat geweld voorpraat, wat allerhande verskriklike dinge kwytgeraak het, wat gegrynslag het oor ander verskriklike dinge.”

Trump het in my nek geblaas. Dit was grillerig.

Sy beskryf in die boek hoe dit gevoel het terwyl Trump haar tydens die tweede televisiedebat op die verhoog rondgevolg het. Dit was twee dae nadat ’n bandopname uitgereik is waarin hy spog oor hoe hy vroue betas. “Hy het in my nek geblaas. Dit was grillerig.”

Al het Hillary reeds die moontlikheid uitgeskakel om haar vir ’n derde keer as presidentskandidaat verkiesbaar te stel, is sy geensins van plan om heeltemal uit die kollig te verdwyn nie.

“Ek gaan nêrens en sal aktief wees in die politiek; dit lê my na aan die hart.”

Sy begin nou met ’n organisasie om jong mense, veral vroue, vir die politiek te werf en op te lei.

“Ek sal werk sonder winsoogmerke doen, met universiteite saamwerk en skryf en my uitspreek teen wat ek beskou as ’n wêreldwye teenreaksie op vroue se vordering.”

Ná alles wat sy deurgemaak het, sou sy haar eie dogter, Chelsea, aanmoedig om die politiek te betree?

“Ek dink nie eens daaraan nie, want sy is ’n onafhanklike, ongelooflik bekwame mens. Sy het al ’n paar baie goeie boeke geskryf, en ek dink nie sy stel enigsins in die politiek belang nie.”

Hillary en Bill hou in 1998 ’n verenigde front voor waar hy sy affair met Monica Lewinsky ontken.

Intussen is een van die pluspunte daarvan dat sy die verkiesing verloor het dat sy tyd saam met Chelsea en haar twee jong kinders kan deurbring.

Familie en liefde

“Kleinkinders is die beste!” laat Hillary hoor. Sy sê Bill is ’n wonderlike en raakvatoupa vir Charlotte en Aidan. Dis ’n onverwagte beeld – amper so onverwags soos die toegeneentheid waarmee sy dwarsdeur die onderhoud van haar man praat.

Toe ek tydens die Obama-jare ’n korrespondent in Washington was, het almal gesê die Clintons se huwelik bestaan net op papier en hulle het ooreengekom sy sou by hom bly in ruil daarvoor dat hy haar president sou help word.

Happy birthday, Bill!

A post shared by Hillary Clinton (@hillaryclinton) on

Hillary ontken dit heftig en sê sy is “keelvol vir mense wat oor die stand van my huwelik bespiegel”.

Sy erken in die boek sy het soms oor die toekoms (van haar huwelik) getwyfel, maar besluit om by hom te bly, want “ek het hom met my hele hart lief”.

Benewens haar gesin is daar altyd die chardonnay en ’n vreemde ontspanningstegniek wat sy as “asemhaling deur afwisselende neusgate” beskryf.

Dis tyd vir haar foto’s. ’n Groepie wat Hillary haar “glansspan” noem, verskyn om haar hare en grimering op te knap. Sy het uitgewerk dat sy tydens haar veldtog 600 uur, oftewel 25 dae, daaraan gewy het om haar gereed te maak vir optredes.

Dis nie verby nie. Sy maak nou voorbrand vir haar boek en vertrek binnekort Engeland toe om ’n seremonie by te woon wanneer ’n regsfakulteit in Swansea, Wallis, na haar genoem sal word.

“Ek is geseën met ’n sterk gestel en is lewenskragtig,” sê sy. “Ek sal nie die res van my lewe terugkyk nie.”

Dan verdwyn die glimlag en vir ’n oomblik lyk sy so teleurgesteld soos die 13-jarige Hillary wat aan Amerika se ruimtevaart-en-ruimteadministrasie geskryf het om te sê sy wil ’n ruimtevaarder word.

“Jammer, meisietjie,” het hulle geantwoord. “Ons aanvaar nie vroue in die ruimteprogram nie.”

Happy birthday to this future president.

A post shared by Hillary Clinton (@hillaryclinton) on

© Christina Lamb/THE SUNDAY TIMES MAGAZINE/NEWS SYNDICATION

Foto's: Gallo Images/Getty Images