’n Pakstoor in Durban word vernietig.
’n Pakstoor in Durban word vernietig. Foto: Gallo Images/Reuters

Dit is ’n toneel wat skokgolwe tot in die buiteland gestuur het en wat nie een van ons in Suid-Afrika ooit sal vergeet nie: ’n foto van ’n kleuter wat uit ’n brandende gebou gegooi word, met die uitgestrekte arms van vreemdelinge wat gereed staan om haar te vang.

Dié beeld sal ons bybly van die week toe Suid-Afrika geplunder is; die week toe die land gebrand het.

Dit is tekenend van die afgryse en vrees waarmee miljoene Suid-Afrikaners gevul is toe duisende mense grootskaalse chaos gesaai het, maar ook van die hoop wat weer verrys het toe gewone Suid-Afrikaners ingespring het om mekaar by te staan en die letsels van die skrikwekkende vernietiging saam op te ruim.

Brandweermanne blus ’n brandende vragmotor in die
Brandweermanne blus ’n brandende vragmotor in die Durbanse middestad. Foto: Gallo Images/Volksblad/Mlungisi Louw

Wanneer Naledi Manyoni (26) terugdink aan die oomblik toe sy haar babadogtertjie op Dinsdag 13 Julie by ’n brandende gebou in Durban moes uitgooi om haar lewe te red, voel sy net dankbaarheid vir die mense wat haar bygestaan het in haar donkerste oomblik.

“Ek kon aan niks anders dink as om my baba se lewe te red nie,” sê sy. 

“Ons het rook ingeasem en kon hoor hoe dinge rondom ons ontplof. Daar was nie tyd om enigiets te deurdink nie – ek het haar net in die lug gegooi en gehoop iemand sal haar vang.”

Die beeld van ’n meisie wat deur haar ma uit ’n br
Die beeld van ’n meisie wat deur haar ma uit ’n brandende gebou te midde van die onluste gegooi word, het internasionaal opslae gemaak. Foto: Youtube/BBC

As die mense buite die brandende winkelgebou en City Life Pearl Towers-woonkompleks in Smithstraat in Durban die dogtertjie nie gevang het nie, was die tweejarige Melokuhle dalk nóg ’n deel van die skrikwekkende statistieke.

Teen druktyd is 212 mense dood, honderde winkels, ondernemings en pakhuise geplunder of verbrand, en miljarde rande se skade aangerig nadat protesoptogte teen die inhegtenisneming van oudpres.

Jacob Zuma en sy tronkstraf oorgespoel het in gewelddadige plundertogte in KwaZulu-Natal en Gauteng.

Naledi se verloofde, Simthembile Matomane, was nie tuis in hul woonstel op die 16de verdieping van die gebou toe oproeriges ’n brand in die winkel op die grondverdieping aangesteek het nie.

Die polisie neem ’n plunderaar in hegtenis te midd
Die polisie neem ’n plunderaar in hegtenis te midde van die geweld in Vosloorus aan die Oos-Rand. Foto: Gallo Images/Getty Images

Naledi vertel ’n brandalarm het afgegaan en sy kon hoor veiligheidswagte beveel mense om die gebou te ontruim, maar die hysbak het nie meer gewerk nie, die derde verdieping was in vlamme en daar was oral rook. En toe vind sy ’n deur na ’n balkon op die derde verdieping, klim na ’n lysie ’n verdieping ondertoe en sien hoe die mense daar onder wys sy kan die kind vir hulle gooi.

“Sy was bang en het bly gil: ‘Mamma, nee, Mamma, nee!’ ”

Maar toe gooi sy haar kind om haar van die vlamme te red. “Ek het gekyk hoe sy van die gebou vlieg en gesien hoe hulle haar vang.”

En toe spring ook Naledi na veiligheid, met die mense in die straat wat haar vang. Die gesin is ná die onluste terug in hul woonstel, maar Naledi vertel haar kleintjie is steeds getraumatiseer.

“Ons dogter stap rond en vertel: ‘Mamma het my weggegooi; sy het my grond toe gegooi.’ ”

Hopelik sal dié herinnering eindelik vir die klein dogtertjie vervaag, maar die donkerste week van Donker Julie sal geen van ons ooit vergeet nie.

Huisgenoot volg die spoor van vernietiging – en die eerste treë na heropstanding en nuwe hoop.

Betogers hardloop op 13 Julie met hul gesteelde go
Betogers hardloop op 13 Julie met hul gesteelde goedere in Eshowe, Durban. Foto: Gallo Images/Volksblad/Mlungisi Louw

Woensdag 7 Julie

Hier buite die hekke van oudpres. Jacob Zuma se luukse woonkompleks in Nkandla kan Jack* die spanning vanaand dik oor die omringende groen heuwels van KwaZulu-Natal voel hang. Dis vier uur voor middernag, wanneer Zuma se spertyd om homself aan die polisie te oorhandig verstryk.

Hy is ’n rukkie tevore 15 maande tronkstraf opgelê weens sy weiering om voor die Zondo-kommissie te getuig oor sy beweerde betrokkenheid by staatskaping en sy verhouding met die berugte Gupta-broers, maar tot dusver het hy dit bly probeer ontwyk. Hier buite sy huis dreunsing nou ál meer betogers – aanhangers wat hulle wil verset teen sy straf.

Jack, ’n frisgeboude Gautengse polisieman, en sy kollegas het drie dae tevore hier op Nkandla aangekom. Hul opdrag: Monitor die betogers terwyl die land wag om te sien of Zuma sy tronkstraf weens minagting van die Zondo-kommissie vrywillig sal gaan uitdien.

Sporadiese voorvalle was daar intussen wel: Zuma kom na buite en paradeer saam met sy singende “krygers”; ’n joernalis word deur ’n betoger bygedam. Maar vandag is anders.

Die skare buite die hekke is vyandig, en Zuma se seun, Edward, waarsku dat bloed sal vloei. Sowat 50 km weg, in Eshowe, begin ’n polisiekonvooi na Nkandla beweeg.

“ ’n Ma se moerse konvooi, vir ás iets gebeur,” vertel Jack later aan Huisgenoot. Maar van die kruitvat wat binnekort sou ontplof, wis hy nog niks.

Die tyd sleep stadig verby. Dan, om 23:20, kom ’n konvooi luukse swart voertuie by die hek uitgery. Dis Zuma, op pad na die tronk op die dorpie Estcourt.

Twee uur later – omstreeks 01:30, Donderdag 8 Julie – ry die konvooi deur die tronkhekke.

Die oudpresident kry sy oranje tronkpak. Buite die hekke van Nkandla begin die spanning ontlaai – maar elders word die lont van die kruitvat aangesteek. En kort daarna breek die grootste krisis sedert die bloedige aanloop tot die 1994-verkiesing los. 

Vrydag 9 Julie

Dis Dag 2 van Zuma se tronkstraf in die gevangenis op die dorpie Estcourt, en soos die ander gevangenes had hy lankal sy eenvoudige ontbyt teen die tyd dat regter Jerome Mnguni agter die bank van die hooggeregshof in Pietermaritzburg inskuif.

Dit neem die regter skaars ’n minuut om Zuma se laaste hoop op appèl te verydel: “Die aansoek word met koste tersyde gestel. Dis my bevel. Die hof verdaag.”

Op sosiale media word die vure van anargie gestook deur diegene wat sy vryheid eis. Sy dogter Duduzile Zuma-Sambudla deel ’n Twitter-video van outomatiese gewere wat afgevuur word.

Ná ’n paar dae van plundery en protesoptogte is sa
Ná ’n paar dae van plundery en protesoptogte is sakeondernemings en infrastruktuur in Durban vernietig en die stad met rommel besaai. Foto: Gallo Images/Getty Images

Vanuit die dorpie KwaMashu kom die eerste nuus: ’n Boxer Cash & Carry-winkel word geplunder nadat oproeriges die hek oopgebreek en kruideniersware begin steel het.

Daardie nag begin Afzal Hamed, stigter van die vragmotorondersteuningsgroep SA Long Distance Truckers, se foon lui. Talle vragmotors op die N3-hoofweg by Mooirivier brand.

“Weet jy waar’s my man? Waar’s my seun?” vra drywers se rasende familielede. “As daardie petrolbom kom, los jy jou foon en alles net so en jy hardloop,” vertel Afzal later aan Huisgenoot.

“Dis skrikwekkend; die drywers leef in vrees.”

 ’n Tops-­drank­winkel wat in Pinetown, KwaZulu-­N
’n Tops-­drank­winkel wat in Pinetown, KwaZulu-­Natal, afgebreek en geplunder is – een van vele winkels wat leeggedra is tydens die betogings in die provinsie. Foto: Gallo Images/Darren Stewart

Saterdag 10 Julie

Vroeg die oggend ontvang Afzal beeldmateriaal van die verwoesting nadat die polisie die N3 gesluit het. “Dit het gelyk soos ’n toneel uit ’n postapokaliptiese fliek,” vertel hy later.

Sewe-en-twintig vragmotors is die vorige nag verwoes. En nog talle vragmotors word deur die dag aangeval. Kort voor lank is die N3-hoofweg, die ekonomiese slagaar tussen Durban se hawe en Gauteng, afgesny.

Op sosiale media jil die Zuma-lojaliste ál harder. Duduzile, lojaal aan haar pa, deel ’n video van ’n brandende gebou en skryf daarby: “Iewers in SA . . . Vlamme van vryheid! Amandla!” Die hutsfrase #FreeJacobZuma versprei op Twitter.

Eers ’n paar dae later sal pres. Cyril Ramaphosa die land toespreek en sê “ ’n doelbewuste, georkestreerde en fyn beplande aanslag op ons demokrasie” sit agter die plundertogte, en die veiligheidsmagte sal hul visier instel op 12 verdagtes wat glo die strooptogte en geweld aangehits het. Maar nou word die eerste winkels in Durban geplunder en privaat motors aan die brand gesteek.

Die chaos kring gou uit na die res van die provinsie – en kort voor lank is KwaZulu-Natal ’n slagveld.

Plunderaars lê hul hande op oorblywende items in ’
Plunderaars lê hul hande op oorblywende items in ’n gevandaliseerde winkelsentrum in Vosloorus. Foto: Gallo Images/Getty Images

Sondag 11 Julie

In Johannesburg se vervalle middestad en die omliggende woonbuurte, Alexandra en Soweto, word motorbande gebrand en winkelvensters stukkend geslaan.

Om 20:00 sluit pres. Ramaphosa sy “familievergadering” oor die pandemie af met ’n versoek dat Suid-Afrikaners die Grondwet respekteer. Maar hy het skaars klaar gepraat toe Janus Horn die skote en gille in sy Durbanse woonbuurt, Manor Gardens, hoor.

“Ek het nog hier in my huis gesit, toe is die duiwel los,” vertel die sakeman en voorsitter van die plaaslike gemeen- skapspolisiëringsforum (GPF).

Gou is dit duidelik die kusdorpe suid en noord van Durban is onder beleg. In Umkomaas aan die suidkus maak ’n teksboodskap Deiniol Powell-Rees omstreeks middernag wakker: “Umgababa is blocked! They have started already! Do not drive anywhere! Stay at home!”

Verskeie vrag­motors het onder ­betogers deur­gelo
Verskeie vrag­motors het onder ­betogers deur­geloop. Foto: Gallo Images/Volksblad/Mlungisi Louw

Dit word ’n slapelose nag vir Deiniol. Haar kantoor in Umhlanga aan die noordkus, waar sy in die versekeringsbedryf werk, is meer as 60 km weg.

Hoe moet sy daar kom?

Jack en sy polisiekollegas kry nuwe opdragte: Herstel orde op die N2-hoofweg wat al langs die kus loop. Maar oral drom massas mense saam, vertel hy.

“Hulle het die hoofweë begin toepak. Hulle probeer die trokke brand. Skiet op die mense. Dis mal.”

Die provinsie, sê hy, “is in sy glory”. En intussen kring die geweld in Johannesburg ál wyer uit.

Maandag 12 Julie

Deiniol van Umkomaas laat weet haar werkgewer dat die dorp met brandende motorbande van die N2 afgesper is en sy neem liewer ’n dag verlof. Maar kort voor lank begin haar foon gons met boodskappe op die gemeenskapsgroepe: Umkomaas self brand.

Duisende plunderaars kom oor die spoorlyn en rivier die dorp binne. Deiniol se kêrel gaan na die sakekern toe om te help waar hy kan.

Om die dorpenaars speel die orgie van verwoesting af wat ook elders in die provinsie afspeel: Winkels se vensters bars, en daarna word dit leeggedra.

Mense probeer keer of vlug terwyl die deure en vensters van talle ondernemings oopgebreek word. Wat nie weggedra word nie, word gebreek of gebrand. Die eienaars en werknemers bly verslae agter.

“Dis mense se hele bestaan wat jy daar voor jou in stukke sien. Alles wat hulle besit, alles waarvoor hulle gewerk het,” vertel Deiniol.

Jack en sy polisiespan weet naderhand skaars waar om te vat of te los. Alles brand; oral word geplunder: by winkels in Durban, Eshowe, Ezakheni, Empangeni, Pietermaritzburg . . .

In Durban word selfs die groot Koreaanse LG-fabriek aangeval en al die elektroniese toestelle weggedra.

“Dit is ons werk om die hoofweë, die gemeenskappe te beskerm. Maar ons was te min. Derduisende mense wat hardloop en steel. Dis soos om seewater met ’n besem te probeer keer,” sê Jack.

Ook in Gauteng woed die vuurstorm ál feller. Dr. Dulcy Rakumakoe, die hoof van die Quadcare- mediese sentrums in Johannesburg, wil huil van skok en woede toe sy hoor hul sentrums in Soweto is geplunder.

“Ons verskaf gesondheidsdienste aan die gemeenskap. Waarom ons teiken?”

Teen die middag is meer as 200 winkelsentrums in KwaZulu-Natal en Gauteng kaal gestroop. In Durban se oorwegend Indiese woonareas, Verulam en Phoenix, vuur inwoners waarskuwingskote in die lug om plunderaars te verdryf.

Janus van Durban vertel later die plaaslike Pick n Pay se verspreidingsdepot is aangeval en die alkoholvervaardiger Distell se pakhuis is bestorm en besteel.

Alles in Makro in Springfield is weggedra en daarna aan die brand gesteek. “In elke winkelsentrum is elke klerewinkel, kruidenierswinkel en elke drankwinkel daarmee heen,” vertel hy.

“Die eienaar van die Spar hier in Glenwood sê vanoggend hy weet nie of hy ooit weer sy deure sal kan oopmaak nie.”

In Pietermaritzburg brand die enorme Brookside-winkelsentrum soos iets wat deur oorlogsvliegtuie gebombardeer is terwyl plunderaars televisiestelle na ’n lang tou wagtende motors op die hoofweg dra.

Ook PEP en Ackermans loop deur – soveel winkels word getakel dat die skoksyfers net aanhou klim.

Dis aand en Ramaphosa spreek die land weer toe: Weens die groeiende krisis word 2 500 soldate in probleemgebiede ontplooi.

Janus laat woedend hoor: “Ramaphosa moes ’n noodtoestand verklaar het! Daar gaan niks van Durban oor wees nie!”

Dinsdag 13 Julie

In Umkomaas hoor Deiniol van vriende naby Pinetown dat hul vragmotors aan die brand gesteek is. Haar ouers in Amanzimtoti is bang om hul huis te verlaat.

Die voortdurende angs is uitmergelend. Op en af teen die kus neem man en muis enigiets van gholfstokke tot krieketkolwe op om hul gemeenskappe te probeer beskerm.

“Ons is tot 400 community watch-ouens aan diens op ’n slag. Ons het padversperrings op en ons patrolleer die strate en paaie 24 uur per dag,” vertel ’n inwoner. Maar Janus kyk vanuit sy gastehuis in Durban hoe elke winkel in die omgewing leeggedra word.

Intussen weier Shine Madela, ’n aktrise van Pinetown naby Pietermaritzburg, om haar huis te verlaat. Rondom haar word winkels, skole en vragmotors gebrand.

Die polisie en weermag probeer keer, en die gebeure is traumaties. “Om te sien hoe mense met rubberkoeëls geskiet word maak my bang.”

Met die hoofpaaie tussen Gauteng en KwaZulu-Natal in die spervuur, is afleweringsroetes gou afgesny.

Talle groot ondernemings kondig aan hulle moet tydelik sluit ter wille van veiligheid; boere stort hul vars produkte omdat dit nie betyds opgelaai kan word om dit na winkels te neem nie. Met baie winkels leeggesteel of gesluit, word ander gou leeggekoop weens paniekaankope.

Brood, melk, babadoeke – alles is naderhand op, en buite winkels wat nog nie geteiken is nie, staan lang rye desperate mense wat vrees daar sal niks op die rakke oorbly nie.

Op talle plekke word die allerbelangrikste inentingsveldtog teen covid-19 ook ontwrig te midde van vrese dat die skares die reeds hoë infeksiekoers verder sal opjaag. Maar in al hierdie donker is daar ook oomblikke van lig en hoop.

Die video en foto’s van Naledi Manyoni se tweejarige dogtertjie wat in Durban deur vreemdelinge gevang en gered word, versprei oor die wêreld.

By ’n padversperring deur inwoners van La Lucia speel ’n man “Scotland the Brave” om hul gees te lig.

In die Oos-Kaap en in Gauteng gebruik taxiverenigings hul voertuie om die ingange na winkelsentrums af te sper en te beskerm.

En dan is daar aangrypende tonele wat herinner dat ook desperate, behoeftige mense opgesweep is in die opportuniste en kwaadwillige plunderaars se gedrag – soos die Twitter-video van ’n Johannesburgse seuntjie in sy verslete klere in die ysige koue, met sy buit, waaronder ’n pakkie onderbroeke en T-hemde in ’n Mr Price-sak.

Woensdag 14 Julie

Ná drie dae van ongekende chaos is dit stiller – en begin die gevolge van die plundery en die afsny van die N3- en N2-hoofpad behoorlik byt.

In kruidenierswinkels in KwaZulu-Natal wat nog oop is, word kopers een-een ingelaat en net 10 tot 15 items word in mandjies toegelaat.

Brood, eiers, melk en babadoeke is onbekombaar. Vulstasies verkoop hoogstens R300 se brandstof per voertuig nadat sommige raffinaderye tydelik moes sluit en petroltekorte gevrees word.

Ook in Gauteng is baie winkels se rakke weens paniekaankope leeg.

“Ek sukkel al heelweek om brood te kry weens paniekkopery. Ek moes ook na vyf verskillende vulstasies ry om brandstof te kry,” vertel Kanya Mtsaka, ’n telebemarkingshoof in Fourways.

“My huiswerker het my gevra of ek haar kan help met meel om brood mee te bak. Alles in haar omgewing is verwoes en die outobanke is leeg.”

Haar onderneming ly omdat kliënte weens die anargie nie hul rekeninge betaal nie. “Ons was op die punt om met ’n nuwe nasionale veldtog te begin wat 100 werkgeleenthede sou skep, maar die planne is vir eers gestaak,” sê sy mismoedig.

Die humanitêre organisasie Gift of the Givers deel
Die humanitêre organisasie Gift of the Givers deel kosvoorraad uit by KwaMashu naby Durban. Die area het erg onder die onluste deurgeloop. Foto: Facebook/Gift of the Givers

“Ons is in ’n krisis en probeer nou ander maniere kry om kop bo water te hou. Ons het hierdie week baie geld en besigheid verloor.”

Die ministers van vervoer, kommunikasie en justisie en die waarnemende minister van gesondheid vra mense by die Maponya-winkelsentrum – die enigste winkelsentrum in Soweto wat nie deur die plundertogte verwoes is nie – om kalm te bly.

Maar deur die loop van die dag word nog 208 voorvalle van plundery in die twee provinsies aangemeld.

Die Durbanse sakekamer vra die regering dringend om hulp. Minstens 45 000 ondernemings in die provinsie moet hul deure sluit en ’n geraamde 129 000 werkgeleenthede gaan glo verlore weens die sluit van winkels.

Die ekonomiese skade beloop miljarde rande. Dieselfde dag kondig die regering aan dat nog 25 000 soldate in die gekwelde gebiede ontplooi sal word.

Donderdag 15 Julie

In die puin van Makro in Pietermaritzburg word die lyke van sewe mans gevind. Die sterftesyfer klim. Maar daar is ook ál meer verhale van gemeenskappe wat hegter bande van medemenslikheid smee.

Sonika Wolmarans, wat kinderboeke skryf, vertel sy en haar man, Christoff, het verlede Januarie van Johannesburg na die KwaZulu-Natalse dorpie Harburg getrek omdat hulle verlief geraak het op die vrede en stilte. Toe tref die orkaan die dag van Zuma se inhegtenisneming hulle ook.

“Ek ry die Maandagoggend na ons spazawinkel, maar die plek is toe. Ek ry toe na die buurdorp Dalton toe, en toe ek daar kom, sien ek net mense hardloop met goed.

“Dit was surrealisties. Eers kon ek nie glo wat ek sien nie, maar toe word ek baie kwaad. En toe word ek hartseer, want ek sien my vriende se winkels is weg of afgebrand.”

Tog leer die ontstellende gebeure haar ook lesse oor die hegtheid van haar gemeenskap.

“Die gemeenskap en boere het bymekaargekom en in skofte die dorp bewaak. Die Woensdagoggend het ons almal – Indiërs, wit mense, swart mense – saam die strate begin vee en skoongemaak. Die boere met hul skopgrawe, dan vee almal dit in, en hy vat dit en gaan gooi dit weg,” sê sy.

Ná dae van onluste het vrywilligers saamgespan om
Ná dae van onluste het vrywilligers saamgespan om die strate van Durban weer reg te ruk. Foto: Gallo Images/Reuters

“Ek kan op mense se gesigte sien daar is nog woede. Maar daar is ook vergifnis, want ons weet dis al hoe ons vrede in hierdie land kan hê.”

Die hulpverleningsorganisasie Gift of the Givers is weer aan die spits van aalmoese uitdeel, maar ondernemings groot en klein, sowel as talle individue, doen en gee wat hulle kan om hul landsburgers in nood by te staan.

Mense ruim op; mense deel kos uit. Op die nuwe Facebook-blad Rebuild SA klink dieselfde boodskappe talle kere op: “Hoe kan ek help?”

Afzal Hamed van SA Long Distance Truckers sê vragmotors vol kos kom van oral in die land na KwaZulu-Natal. “Party van die drywers het Maandag laas geëet.”

Vrydag 16 Julie

Luidens mediaberigte word 12 persone – onder meer oudlede van die nasionale intelligensiedienste – ondersoek weens sameswering en aanhitsing tot geweld.

Pres. Cyril Ramaphosa, die verdedigingsminister, Nosiviwe Mapisa-Nqakula, die polisieminister, Bheki Cele, en die minister van staatsveiligheid, Ayanda Dlodlo, besoek KwaZulu-Natal.

Die president erken dat hy en sy kabinet die situasie beter kon hanteer het. “Maar ons was oorweldig deur die situasie, en die eerste doel was om lewens te red.” Toe ons met Jack praat, klink hy moeg.

“Party het harder gewerk as ander, maar die meeste van ons het 12 tot 14 uur per dag gewerk. Ons het Sondag, Maandag, Dinsdag tot Woensdag sonop gewerk. Ek het al baie onluste gesien, maar nog nooit op dié skaal nie. Ek dink party mense se oë het ’n bietjie oopgegaan: Hierdie comfort zone waarin hulle bly, is nie so comfortable nie. Want skielik het almal begin saamstaan en besef: Waar gaan ons brood en botter koop?

“Moord en doodslag is erg, maar om mense te sien wat niks het nie, wat swaarkry. Dís erg. Ek kry mense baie jammer. Die plunderaar se ouma het daar kos gekoop.”

Maar nou is talle mense se fokus nie meer op beskerming nie, maar eerder op bystand vir mekaar. Gou is daar op sosiale media net soveel foto’s en video’s van mense wat help om winkels en ondernemings op te ruim as wat daar foto’s van die plundertogte was.

Vrywilligers wat deel is van Operasie Skoonmaak en
Vrywilligers wat deel is van Operasie Skoonmaak en Herbou, help om op te ruim by die Jabulani-­winkel-sentrum in Soweto. Foto: Gallo Images/Sharon Seretlo

Talle sakelui deel boodskappe waarin hulle vertel vreemdelinge het kom help om hul geplunderde ondernemings op te ruim, en telkens klink ’n soortgelyke boodskap dan op: Ek ken jou nie, maar dankie dat jy kom help het.

Dis twee aande voor Mandeladag, en pres. Ramaphosa spreek die land toe: “Diegene wat hierdie kruitvat aan die brand gesteek het, het daarop gereken dat hulle landsburgers deur middel van kru propaganda teen die staat en teen mekaar sou kon draai. Maar hulle het hulle misreken met die durende vermoë van Suid-Afrikaners om saam te staan teen ’n bedreiging.” 

* Skuilnaam.
Waarom brand Suid-afrika – en wat nou?
Die onluste is aangevuur deur die inheg­tenisnemin
Die onluste is aangevuur deur die inheg­tenisneming en vonnis van oudpres. Jacob Zuma. Foto: Gallo Images/Getty Images

Kenners meen Zuma se inhegtenisneming was net die vonk – die kruitvat was lankal daar, sê hulle.

  • Moeletsi Mbeki, politieke ontleder: Die armoede van die meerderheid Suid-Afrikaners en die grootskaalse werkloosheid onder die jeug weens die ANC se mislukte ekonomiese beleid was die “hout en kole”. Die arm meerderheid sien geen toekoms vir hulself en hul kinders nie, en dit veroorsaak ’n gees van selfvernietiging. “Hulle beskou Zuma as een van hulle omdat hy uit die werkersklas kom en gee nie om oor sy sondes nie. Bo-op dit kom hierdie massiewe ontploffing van langdurige woede.” Die oplossing was nog altyd werkskepping en geld vir jong ondernemers om ’n toekoms te bou, sê hy.
  • Prof. André Duvenhage, politieke wetenskaplike, Noordwes-universiteit: Die gebeure moet gesien word in die lig van verskeie politieke, ekonomiese en maatskaplike faktore, soos wanfunksionele owerheidsinstellings en swak dienslewering, meen hy. Die grootskaalse werkverliese weens die regering se maatreëls teen die pandemie het armes nog plofbaarder gemaak, en die Zuma-inhegtenisneming was die aan- steker.
  • Dawie Roodt, ekonoom: Dawie sê Zuma-lojaliste het die opstand aangehits, “maar mense wat arm, hopeloos en honger is, het van hierdie geleentheid gebruik gemaak om te gaan plunder. “Die ingryping wat tans nodig is, is om wet en orde te handhaaf. Ramaphosa moet ook onmiddellik ontslae raak van korrupte politieke leiers.”
  • Dr. Roelof Botha, ekonomiese raadgewer (Optimum-beleggingsgroep): Roelof meen werkloosheid speel ’n rol, maar wys daarop dat 28 miljoen Suid-Afrikaners tydens die pandemie ’n staatstoelaag kry: “Om so op te tree en te steel is steeds krimineel. Daar is min twyfel dat daar aanhitsing was om vandalisme te pleeg.” Sodra kalmte intree, moet werk- skepping die regering se prioriteit wees, meen hy.
Ekstra Bronne: eNCA, Netwerk24, News24, Reuters, Daily Maverick, BBC
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe