Ek was jare lank ’n aanhanger van die televisiereeks The Walking Dead. As jy bekend is met dié postapokaliptiese reeks sal jy weet dit wentel om ’n groep oorlewendes wat gedurig moet veg of vlug en hoop om nog ’n dag te oorleef.

Die karakters werk saam om kos te kry, mekaar tot elke prys te beskerm en hulle speel met mening klaar met vleisetende zombies. 

Ek het al dikwels myself en my familie in sulke vergesogte situasies probeer indink. “Ek weet dit sal nooit gebeur nie, maar . . . ” was gewoonlik die begin van my goedbeplande idees vir hoe om enige skurk wat oor ons pad kom te laat les opsê. Maar om die afgelope paar dae sulke tonele op die nuus te sien, laat my nou besin oor my tawwe tienie-houding. 

Ek het ’n dapper gesig voorgehou toe ek en my 16-jarige suster, Cassidy, tydens ’n uur lange FaceTime-sessie gesels – tot een sin my laat regopsit het. Sy het na my gekyk en gesê: “Ek is regtig bang, Maxine.”

Ons het ’n paar minute in stilte gesit. Ek het nie geweet wat om te sê nie. Hoe sou ek haar kon help terwyl ek meer as 1 000 km weg is?

Sedertdien sit die sogenaamde tawwe meisie in Kaapstad en voel hulpeloos, kwaad en tranerig. Die chaos wat in KwaZulu-Natal ontvou het, was soos om ’n gruwelfliek sonder einde te kyk.

Die beeldmateriaal lyk soos iets uit ’n oorloggete
Die beeldmateriaal lyk soos iets uit ’n oorloggeteisterde land. Foto: Gallo Images/Reuters

Behalwe dis dié keer die werklikheid en my familie is in die middel daarvan. Dit was my tuiste wat miljoene mense in van die videomateriaal gesien het – die eens rustige stad Pietermaritzburg.

Die hoofstad van KZN is waar ek my beste vriendin ontmoet het, die plek waar ek met selfvertroue as kind geloop en my ma se hand vasgehou het, die tuiste van die CNA wat ek gereeld besoek het as ’n tiener wat behep was met skryfbehoeftes, en die enigste plek waar jy kan praat van ’n “kwagga”-burger, wat by die Kwikspar in Hayfields verkoop word. 

Ek het as kind gekla oor Pietermaritzburg te klein is en hoe daar nooit iets gebeur het nie, en ek is toe daar weg. Maar ek wou graag in kontak bly met die plek wat ek agtergelaat het, en my iPhone is nooit ver weg nie – en vandeesweek was dit my konstante metgesel.

Die oomblik wanneer ek dit neersit, tel ek dit weer op sodat ek nie ’n enkele boodskap, oproep of stemboodskap van die huis af moet misloop nie.

Ek kyk obsessief na die nuus en lees alles wat ek kan oor wat aangaan. Selfs terwyl ek hier tik, staar ek na die foon en wag vir my volgende kennisgewing. 

Ek het videomateriaal en foto’s van vriende en familie gesien wat die strate invaar, ten volle gewapen, om hul ondernemings, huise en inkopiesentrums te beskerm.

Die stappies met ma en pa as kind het sy die meest
Die stappies met ma en pa as kind het sy die meeste geniet. Foto: Verskaf

Sommige van my naastes doen skofte om buurte en families te bewaak. My hart het gesink toe ek sien die middestad, wat altyd bedrywig was as kind, is weg. Dis vernietig, afgebreek, verbrand. Die beeldmateriaal lyk soos iets uit ’n oorloggeteisterde land.

Dit het my gisteraand nog dieper getref toe die boodskappe begin deurkom van mense wat sakke met belangrike dokumente en warm klere pak.

“Het dit hierdie punt bereik?” het ek gedink. Almal is uitgeput, almal hoop desperaat dit sal verbygaan. 

Die middestad van Maritzburg.
Die middestad van Pietermaritzburg. Foto: Gallo Images/Reuters

Terwyl ek wag, hou ek aan om vir my familie se veiligheid te bid. Maar my hart is swaar. Die plek wat ek ses jaar gelede verlaat het, sal nooit weer dieselfde wees nie. My Pietermaritzburg sal nooit weer dieselfde wees nie en my hart is seer. 

Die woorde van die Irans-Amerikaanse skrywer Azar Nafisi maal nou in my kop: “Jy kry ’n vreemde gevoel wanneer jy ’n plek verlaat, asof jy nie net die mense gaan mis wat jy liefhet nie, maar die persoon wat jy op hierdie tyd en plek was, want jy sal nooit weer dieselfde wees nie.”