Leon woon die afgelope agt jaar in Rwanda sê sy stiefdogter, Chelsey Orsmond (31), aan Huisgenoot.

“Hy het in 2010 daarheen getrek toe hy ’n kontrak vir ’n paar maande gehad het, en hy het verlief geraak op die land, die kos en die mense. Hy woon sedertdien permanent daar,” sê sy. 

Leon het vryskutwerk in reklamewese gedoen en digitale bemarking om aan die lewe te bly. Hy het die opposisie- presidensiële kandidaat, Diane Rwigara, verlede jaar met haar sosialemediaveldtog gehelp.

Diane het ook verdwyn, maar later is bekend gemaak dat sy weens bedrog in hegtenis geneem is. Leon het gereeld in die sosiale media teen haar inhegtenisname uitgevaar en die huidige president van Rwanda, pres. Paul Kagame, gekritiseer. 

Sy familie glo dit het ’n rol in sy verdwyning gespeel. “Ons het gereeld met hom gepraat. Hy was 16 Februarie laas aanlyn aktief. Ons dink hy het toe verdwyn. Ek het twee dae tevore met hom gepraat,” sê Chelsey. 

Sy sê hoewel haar pa nie bekommerd of bang geklink het die laaste keer dat sy met hom gepraat het nie, het hy al ’n vorige keer gesê hy is oor sy sosialemedia-uitlatings gedreig. 

“Die Rwandese regering sê hulle weet nie waar my pa is nie en dat hy na Burundi toe is. Maar ons het ’n privaat speurder gestuur en hy sê alle tekens dui daarop dat my pa nog in Rwanda is,” sê sy. 

Die familie het Leon agt jaar gelede gesien en hulle sou binnekort weer vir hom gaan kuier het. 

Chelsey sê hulle soek nou net antwoorde. “Ons is realisties, ons weet baie tyd het al verloop. Ons wil weet wat gebeur het en wil hê dat geregtigheid moet geskiet. Ons het afsluiting nodig,” sê sy.

Chelsey sê die departement internasionale betrekkinge in Suid-Afrika kon ook nog nie vasstel waar haar pa is nie. “Hulle kry dieselfde antwoorde van die Rwandese regering.”

Die department se woordvoerder Ndivhuwo Mabaya kon nie dadelik vir kommentaar bereik word nie. 

Rwanda en Suid-Afrika het ’n gespanne diplomatieke verhouding nadat Suid-Afrika in 2014 Rwanda daarvan beskuldig het dat hulle ’n sluipmoord op ’n opposisieleier uitgevoer het terwyl hy in Suid-Afrika was.