Haar seun wat Engels onderrig in Thailand is in ’n wildvreemde hospitaal opgeneem, hy is bewusteloos en  te midde ’n pandemie voel dit of dié ma se hande heeltemal afgekap is om hom te help. 

Op 30 Januarie het Erika Cloete van Randfontein ’n boodskap vanuit Thailand ontvang dat haar 29-jarige seun, Shaun, in ’n grumotorfietsongeluk was.

Hy het veelvuldige beserings opgedoen en is in die Srinagarind-hospitaal in die Khon Kaen-provinsie opgeneem.

Shaun Cloete was in 'n gru-motorfietsongeluk in Th
Shaun Cloete was in 'n gru-motorfietsongeluk in Thailand waar hy die afgelope twee jaar skool gee. Foto: Verskaf

“Ons is nog onseker wat die volle impak van sy beserings is, maar ons weet dit is baie, baie ernstig,” vertel ’n emosionele Richard Tasker, Shaun se oom, aan Huisgenoot.

“Wat ons wel weet, is dat Shaun se skedel gekraak is, hy het bloeding op die brein en sy nekwerwels is gekraak. Sy neus is gebreek, so ook ’n gewrig en sy ribbes. Hy het ook ernstige beserings opgedoen aan sy longe en sy buik.”

Weens die taalverskil tussen die twee lande en die gebrek aan ’n behoorlike vertaler, is dit steeds moeilik vir Shaun se geliefdes om presies te bepaal wat met hom gebeur het. 

Richard vertel hulle kon tot dusver aflei dat daar nie ’n ander motor in die ongeluk betrokke was nie.

Dit het op Saterdag 30 Januarie om 15:00 (10:00 Suid-Afrikaanse tyd) gebeur.

“Shaun was eers na ’n hospitaal in Phetchabun, geneem, maar hulle het nie sy bloedgroep in voorraad gehad nie, en hulle moes hom na ’n ander nabye hospitaal haas. 

“Dit was 200 km verder.” 

Shaun is die afgelope twee jaar ’n Engels-onderwyser by ’n laerskool in die land. Hy het ’n enorme passie vir die onderwys en is mal oor Thailand se kultuur, vertel Richard. 

Shaun het vir die afgelope twee jaar Engels gegee
Shaun het vir die afgelope twee jaar Engels gegee by 'n laerskool in Thailand. Foto: Facebook

Hy het gereeld ’n motorfiets gehuur om vanaf sy huis na die skool te pendel.

“Ons weet nie of hy ’n valhelm opgehad het nie. Ongelukkig is dit nie in Thailand verpligtend om met ’n valhelm ’n motorfiets te bestuur nie.”

In hierdie stadium is Shaun steeds bewusteloos. 

“Hulle het vandag beweging in een van sy bene opgemerk; so dit gee ons darem ’n bietjie hoop,” vertel Richard. 

Richard sê Erika en Shaun se suster, Janine, is platgeslaan en rasend van bekommernis. 

Shaun is sedert die ongeluk bewusteloos in die Sri
Shaun is sedert die ongeluk bewusteloos in ’n Thaise hospitaal.

“Hy het geen familie daar nie. Erika het gedink om na Thailand toe te gaan, maar weens die covid-19-pandemie moet sy eers iewers vir twee weke in verpligte kwarantyn gaan voor sy hom sal kan sien.”

Dit was ’n moeilike besluit, want ons geld is skraps. Ons sal eerder daardie geld kan gebruik vir Shaun se hospitalisasie.”

Intussen word Shaun se mediese onkoste by die dag hoër, wat die familie onder geweldige druk plaas. 

Daarom het hulle die Facebook-blad, Shaun Cloete Accident Fund, begin met die hoop dat enige weldoeners hulle kan help.

“Shaun se pa is in 2014 oorlede en sy tweelingbroer is op ’n baie vroeë ouderdom weens breinkanker oorlede.

“Erika leef vir haar kinders. Wat gebeur het, is verskriklik, maar ons moet ’n manier kry om hierdeur te kom.”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe