Terwyl hy twee jaar en twee maande lank in haglike omstandighede in Juba in Suid-Soedan aangehou is met die swaard van doodstraf oor sy kop, het hy donker tye beleef toe wanhoop en doodsgedagtes by hom gespook het.

Despair en Death is immers die titels van twee gedigte wat William Endley in ’n notaboek geskryf het terwyl hy van bone en pap geleef het met van sy medegevangenes sterwend om hom, sonder mediese sorg.

Die onsekerheid het aan hom geknaag oor of hy ooit weer die blye dag sou beleef dat hy na Suid-Afrika sou terugkeer en met sy geliefdes herenig sou word.

Noudat hy eindelik vry is, voel dit daarom vir die voormalige kolonel in die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag “half soos ’n droom’’.

Hier laatmiddag op ’n Sondag by sy suster, Charmaine Quinn, en haar man, Andrew, se huis in Table View, Kaapstad, is William, of Will vir sy familie en vriende, brandmaer ná sy beproewing, maar hy lyk reeds weer netjies ná sy uitputtende terugreis via Kenia en Johannesburg.

Sy hare is kortgeskeer; sy geruite kortmouhemp glad gestryk.

“Die gevoel van vryheid sink nog in,” sê William (57) drie dae ná sy vrylating uit Suid-Soedan, waar hy in Februarie vanjaar ter dood veroordeel is omdat hy na bewering saamgesweer het om pres. Salva Kiir van Suid-Soedan se bewind omver te gooi.

William het daar as die opposisieleier, Riek Machar, se veiligheidsraadgewer gewerk. Verlede maand is aangekondig William en James Gatdet, ’n woordvoerder van Machar, sal vrygelaat word as deel van die vredesonderhandelings in die land.

Die huidige vredesooreenkoms volg nadat bloedige konflikte, dikwels weens etniese verskille, derduisende lewens geëis en groot getalle mense ontwortel het sedert 2013, twee jaar nadat die land van Soedan onafhanklik geword het.

Nadat Kiir en Machar se mense weer in 2016 slaags geraak het, moes Machar vir sy lewe vlug, eers na die Kongo en later Suid-Afrika. William is in Augustus daardie jaar in Suid-Soedan in hegtenis geneem. Hy is eers 18 maande lank in die berugte Blue House van Suid-Soedan se intelligensiediens aangehou en toe na die sentrale gevangenis verskuif.

“Ná meer as twee jaar, waarvan sewe maande in eensame aanhouding waar ek dalk een keer per dag ’n mens sou sien wanneer ek badkamer toe geneem is, is dié vir my steeds half soos ’n droom,’’ sê hy enkele ure ná sy aankoms in Kaapstad by sy geliefdes wat onvermoeid vanuit Suid-Afrika vir sy vrylating geveg het.

Charmaine het getwyfel of sy “die oomblik sou sien aanbreek’’, erken sy. In die dae voor haar broer se vrylating het hulle gerugte gehoor, maar sy wou ná ’n paar vorige teleurstellings nie te gou bly word nie. Toe sy ’n oproep kry “dat hy in die lug is”, het sy nog haar emosies probeer beteuel “tot hy in Nairobi geland het”.

Weens die onsekerheid oor die finale reisreëlings moes sy haar Johannesburg toe haas om hom teen eenuur op Saterdagoggend 3 November daar op die lughawe in te wag.

Charmaine soek-soek na woorde: “Om hom te sien uitkom was so ’n emosionele oomblik.”

By haar was William se dogter Gwynneth, wat in die Goudstad woon en die kommunikasie vir die Free Will-veldtog help behartig het, en haar seun, Meagel.

“Dit was onbeskryflik,’’ vertel William, “jy kom deur ’n stryd waar jy nie geweet het of jy gaan oorleef nie, en hier is jy skielik by jou vierjarige kleinseun wat jy nog nooit gesien het nie.”

In die berugte Blue House-aanhoudingsplek in Suid-Soedan. Foto: Verskaf

Op 77 kon sy ma, Myrtle, nie Johannesburg toe vlieg vir die herontmoeting nie. Maar sy was op die lughawe in Kaapstad toe hy die volgende dag hier land.

Trane blink in haar oë: “Ek het nie gedink ek sou hom weer sien nie. Dit was verskriklik; dinge het gebeur wat jou hoop gegee het, maar dan sou alles skielik weer wees soos dit was.”

Toe hy eindelik voor haar staan, was sy oorstelp. “Ek het geweet my seun het geweldige deursettingsvermoë, maar dit was soos ’n nimmereindigende storie.”

Huisgenoot het vroeër vanjaar vertel van die hartroerende videoboodskap wat William se 11-jarige dogter, Janice, die jongste van sy vyf kinders, aan hom gestuur het kort nadat hy ter dood veroordeel is.

In die hooggeregshof in Juba tydens sy verhoor, wat skerp kritiek ontlok het. Foto: Gallo Images/Reuters

“Ek mis pa. Ek is lief vir jou. Ek huil vir pappa. Maar ek is seker pa huil vir my ook,” het sy laat weet. Oor haar en haar ma, Sana, sy vrou van wie hy die afgelope ses jaar vervreem is, wou hy nie in dié stadium met Huisgenoot praat nie, maar hy sê hy het die vorige dag met Sana gepraat.

In aanhouding het hy harde bene gekou. In die Blue House het hulle “my eenkant in ’n kamer op ’n vloer gesit. Dit is soos die Gestapo, ’n kombinasie van Vlakplaas en John Vorsterplein,’’ sê hy.

‘Die tronkhoof se reaksie was: Los hom dat hy doodgaan’

“Die nasionale intelligensie steur hulle aan geen wet nie. Jy is aan hulle uitgelewer, magteloos. Hul ondervragingsmetodes is pateties, maar wreed, good cop, bad cop. Hulle sal jou klap en skop.”

Hulle wou hom ’n bekentenis laat onderteken waarin hy die vinger wys na Machar en het hom met geld probeer omkoop, beweer William, maar hy wou hom nie in die rug steek nie.

“Ek is opgelei om sekere dinge te hanteer, maar jy kan nooit regtig vir die werklikheid opgelei word nie.” Omdat die Blue House ’n “aanhoudingsplek” is en nie ’n tronk nie, word niks aan gevangenes verskaf nie.

“As jy nie mense het wat jou van buite af ondersteun nie, het jy niks.” Sy familie het deur die Suid-Afrikaanse ambassade vir hom geld gestuur vir kos en ’n paar ander basiese lewensmiddels.

“Die toestand in die sentrale gevangenis was basies. Dit was nie mishandeling nie, maar die hulpbronne was uiters beperk,” vertel hy.

Hy het meer as 20 kg in aanhouding verloor. “Jou daaglikse dieet was byvoorbeeld ’n beker rooi bone en pap. Ek het soos ’n besemstok gelyk.” Malaria het hom meer as een keer platgetrek.

Eenkeer het hy regtig gedink “dis verby” toe hy in ’n waas van malaria met komplikasies op ’n tronkdokter se vloer lê. Dié het die tronkhoof gebel en gesê William is sterwend. Die hoof se reaksie was: “Los hom dat hy doodgaan.”

Sy bene het in ’n stadium so opgeswel dat hy nie kon loop nie. “Die reaksie wat ek gekry het: ‘Soms is pyn goed vir jou.’ ”

Tydens ’n hepatitis-uitbraak is hy en ’n paar ander gevangenes aangehou saam met iemand wat MIV, sifilis en hepatitis B het.

Die man het “bloed op die badkamervloer opgegooi. Ek het weens insekbyte wonde aan my voete gehad, maar moes kaalvoet op die vloer loop.”

Hoe het hy staande gebly?

Geloof in homself, respek en lojaliteit, beginsels waaraan hy deur die jare as soldaat getrou gebly het, het help keer dat sy aanhouding hom knak. “Wat ook al met jou gebeur, jy moet altyd weer jou mense in die oë kan kyk.”

Die steun van sy mense hier het hom deurgedra. Sy familie het onder meer toegesien dat hy regsverteenwoordiging het. William meen op politieke vlak was Machar, wat nou as waarskynlike adjunkpresident na Suid-Soedan teruggekeer het, die sleutelfiguur agter sy vrylating.

William by sy ma, Myrtle, en suster, Charmaine Quinn, by Charmaine se huis. Foto: Corrie Hansen

Hy het geweier om Suid-Soedan se groot vredesviering by te woon voor William en James vrygelaat is.

William is steeds positief teenoor Suid-Soedan en sy gasvrye mense. Machar het hom reeds gebel en gesê hy het hom nodig, vertel William.

As sy raadgewer sal hy onder meer met planne vir die integrasie van die rebellemagte by die Suid-Soedanse weermag moet help.

“Nou geniet ek die buitelug en om ontspanne en normaal te wees.”

Met ’n kykie in ma Myrtle se rigting sê hy: “Iets wat ek veral daar anderkant gemis het, was my ma se braaiboud.”