Die plan was so buitensporig dat dit die verstand te bowe gaan: Twee jong mans wat so desperaat is om uit hul lewe van swaarkry te ontsnap dat hulle ’n manier bedink om op ’n Boeing 747 weg te kruip op soek na ’n beter lewe in Europa.

Op ’n wintersdag in 2015 kry Themba Cabeka (toe 24) van Johannesburg en sy Mosambiekse vriend Carlito Vale (30) dit reg om net ná donker oor ’n grensdraad by die OR Tambo- internasionale lughawe in Kempton Park te spring en tot op die laaiblad te hardloop. Daar klim hulle in ’n British Airways-vliegtuig wat gereed staan om na Londen te vertrek. 

Die Johannesburgse Themba Cabeka het meer as 9000 k
Die Johannesburgse Themba Cabeka het meer as 9000 km in 'n vliegtuig se onderstel na Londen gereis. Foto: Postcard Productions

Hulle versteek hulself in die onderstel van een van die wiele, styg saam met die vliegtuig op en oorleef ondanks vele ontberinge die byna 11 uur lange vlug van 9 000 km. Op die vlug verduur hulle ’n suurstoftekort, temperature van tot -60°C en snelhede van meer as 850 km/h. 

Die plan werk só amper – tot sowat 10 km van die Heathrow-lughawe in Londen af. 

Die Gautenger Themba Cabeka het in 2015 wonderbaarlik die reis van sowat 11uur van die OR Tambo- internasionale lughawe in Kemptonpark na die Heathrow-lughawe in Londen oorleef. Foto: Google Maps
Die Gautenger Themba Cabeka het in 2015 wonderbaarlik die reis van sowat 11uur van die OR Tambo- internasionale lughawe in Kemptonpark na die Heathrow-lughawe in Londen oorleef. Foto: Google Maps

Daar tuimel Carlito toe uit die vliegtuig en val na benede. Sy lewelose liggaam is later op die dak van ’n kantoorblok aangetref.

Themba oorleef egter wonderbaarlik – en vertel nou, jare later, sy merkwaardige verhaal in die aangrypende nuwe Britse dokumentêr The Man Who Felll from the Sky

“Toe Carlito en Themba se storie uitkom, kon ek nie glo iemand kon so iets oorleef nie. Dit is letterlik die ekstreemste reis ooit,” sê Rich Bentley (38), die Britse rolprentmaker en vervaardiger van die dokkie. Hy gesels per video-oproep vanuit sy huis in Londen met Huisgenoot.

'n Lang soektog

“Daar was in 2015 ’n stortvloed stories oor migrante wat die Verenigde Koninkryk binnekom. Ons het eindelik blind geraak daarvoor omdat dit elke dag in die nuus was, maar ’n mens leer nooit meer oor wie die mense is nie . . . Vir my was daar soveel vrae oor wat in jou lewe kon gebeur het dat jy voel jy het niks meer om voor te leef in jou eie land nie.”

"Vir my was daar soveel vrae oor wat in jou lewe kon gebeur het dat jy voel jy het niks meer om voor te leef in jou eie land nie.”

Om dié rede wou hy Themba se storie vertel. Maar om Themba of enige van Carlito se naasbestaandes in Mosambiek op te spoor, was besonder moeilik, sê Rich. Ná vyf jaar se speurwerk het hy eindelik deurbrake begin maak, en kon hy Themba opspoor en ontmoet.

Só kon hy eerstehands die antwoorde op sy vrae kry, en hoor dat Themba en Carlito vas geglo het die Verenigde Koninkryk sou meer werkgeleenthede bied – en meer redes om te hoop. “Hy het geweet hoe gevaarlik die reis sou wees,” sê Rich. “Maar vir hom was dit steeds die moeite werd.” 

Rich het sy soektog begin deur die Britse owerhede en nooddienste te kontak, maar kon geen inligting oor die twee mans kry nie. Sy reis op soek na antwoorde sou hom later ook na Liverpool, Amsterdam en Mosambiek neem.

Die Britse filmmaker Rich Bentley saam met Themba
Die Britse filmmaker Rich Bentley saam met Themba Cabeka. Foto: Postcard Productions

“Daar was ’n paar klein deurbrake. Die eerste was ’n moontlike adres van Themba in Liverpool, die tweede die naam van ’n vriend in Amsterdam en die derde toe ek Oukersaand 2019 ’n oproep kry van iemand by wie ek my nommer jare tevore gelos het. Hy het Themba opgespoor.”

Rich en Themba het toe saam gaan tee drink en dadelik aanklank by mekaar gevind. Themba, sou Rich uitvind, het intussen vlugtelingstatus in Brittanje gekry, en gebruik deesdae die naam Justin. 

“Hy is ’n baie warm mens, maar dit was baie vreemde omstandighede om iemand te ontmoet, is dit nie!” sê Rich.

Themba is mediasku en wil nie verdere onderhoude toestaan nie, maar in die dokumentêre prent vertel hy self sy merkwaardige verhaal. 

Sy ma het hom verlaat toe hy drie maande oud was, en hy is deur sy ouma in ’n Johannesburgse township grootgemaak. Later moes hy skool verlaat omdat hy nie die skoolfonds kon bekostig nie.

“Dis nie dat ek grootgemaak is om haweloos te wees nie; dinge het net nie reg verloop nie,” sê hy in die dokkie.

Op 14 het sy geliefde ouma gesterf, en hy het op straat beland, waar bendes hom geteister het en hy in ’n tent moes bly. 

“Ek was besig om my lewe te vermors. Dit was baie moeilik om haweloos te wees. Ek het myself probeer ophef, maar dit was te moeilik.”

'n Waansinnige plan

Toe ontmoet hy vir Carlito in ’n nagklub. Hy het in ’n weeshuis in Mosambiek grootgeword voor hy na Uganda en toe Suid-Afrika toe getrek het op soek na werk, en was ook haweloos.

Die twee het dadelik van mekaar gehou en Themba het Carlito genooi om by hom in sy tent te woon.

“Hy het sy hart vir my oopgemaak, en ek het my hart vir hom oopgemaak.”

Carlito het in ingenieurswese belanggestel en het ’n versameling boeke oor die onderwerp gehad, insluitend een oor vliegtuie. Hulle het die boeke bestudeer en toe hul plan beraam om in ’n vliegtuig weg te kruip en na ’n ander land te vlug.

Themba Cabeka en sy Mosambiekse vriend, Carlito Va
Themba Cabeka en sy Mosambiekse vriend, Carlito Vale, het in die onderstel van 'n British Airways-Boeing 747-vliegtuig weggekruip. Foto: Postcard Productions

Themba erken hulle was so gretig om weg te kom dat hulle nie die gebrek aan suurstof teen daardie hoogte in ag geneem het nie.

Op 18 Junie 2015 het die twee – geklee in twee T-hemde, drie baadjies en twee paar jeans elk om warm te bly – hul plan in werking gestel. Dit was die eerste keer dat albei naby ’n vliegtuig gekom het. 

“Ons moes onsself by die onderstel indwing,” sê hy. “Ek was nie ver van die enjin af nie. Jy kon dit buite voel wanneer dit roteer het. Jy kon selfs die huise onder sien terwyl die vliegtuig gevlieg het.” 

Themba het hom met ’n elektriese kabel wat om sy arm gedraai was aan die vliegtuig vasgebind. Met die opstyg het Carlito vir hom geskree: “Jis, ons het dit gemaak!” Hulle het albei kort daarna hul bewussyn verloor as gevolg van ’n gebrek aan suurstof.

Die volgende ding wat hy onthou, is hoe hy op die aanloopbaan in Londen met ’n gebreekte been wakker skrik.

“Die ding wat my wakker gemaak het, was die manier hoe ek uitgeval het,” vertel hy. Hy het uitgeval toe die vliegtuig se onderstel ontplooi is, en weer sy bewussyn verloor kort nadat hy die aanloopbaan getref het. Die owerhede het hom te hulp gesnel en hy was ses maande lank in ’n koma in ’n hospitaal in Londen.

Die dood van 'n vriend

Toe hy eindelik wakker word, moes hy hoor: Carlito het dit nie oorleef nie. Vyf jaar later het hy steeds nie sy vriend se dood verwerk nie. “Ek het aan hom gedink as my broer,” sê Themba in die dokkie. “Hy was die enigste ou wat my beter as enigiemand anders geken het, en hy het geweet waar ek vandaan kom.”

Rich kon dit ook regkry om Carlito se vrou, Anna, en 11-jarige dogter, Shamila, in Mosambiek op te spoor. 

Wyle Carlito Vale saam met sy vrou, Anna. Foto: Fa
Wyle Carlito Vale saam met sy vrou, Anna. Foto: Facebook

“Ek het ’n foto van Carlito en Anna op my foon gehad. Toe ek dit vir hulle wys, het die dogtertjie net begin huil – dit was die eerste keer dat sy ’n foto van haar pa sien. Dit het my hart gebreek.”

Hy is dankbaar dat hy ’n stem kan wees vir vlugtelinge wat al angswekkende reise aangepak het in die hoop dat dit hulle na ’n beter lewe sal lei, en hoop die dokkie sal eersdaags ook in Suid-Afrika vertoon kan word.

“Ek het ’n foto van Carlito en Anna op my foon gehad. Toe ek dit vir hulle wys, het die dogtertjie net begin huil – dit was die eerste keer dat sy ’n foto van haar pa sien. Dit het my hart gebreek.”

“Ek wou die kyker graag iets gee om oor na te dink. Themba en Carlito was ambisieus en gedrewe om hul lewe te probeer verander – al was die plan waansinnig.”

Themba het intussen herstel en bly vandag in ’n eenslaapkamer-woonstel in Liverpool. Met die val het hy sy been op verskeie plekke gebreek, en hy kan steeds nie sonder krukke oor die weg kom nie, maar dit gaan andersins goed met hom. 

Dokters glo hy het oorleef omdat die ysige temperature hom in ’n toestand van “skyndood” gehou het. Sy lae kernliggaamstemperatuur het sy organe op “bystandmodus” geplaas waar dit nie naastenby soveel suurstof benodig het nie. Dit het die skade aan sy liggaamselle en organe beperk. 

“Hy is mal oor musiek en sy ambisie is om daarmee te werk,” sê Rich. “Die hartseer is dat sy lewe weens sy fisieke gestremdheid maar beperk is.”

Op sy beurt wil Themba die verlede agterlaat, hoewel hy dankbaar is hy lewe. Hy kerf vir homself ’n nuwe lewe uit, sê hy, nes hy en Carlito gedroom het. 

“Ons het ’n lang pad saam gestap. Hy is steeds my vriend, al is hy weg.”

BYKOMENDE BRONNE: DAILYMAIL.COM, THEGUARDIAN.COM, TIMESLIVE.CO.ZA, CHANNEL4
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe