Tog vind Maria Gertse nou vertroosting in die medemenslikheid van oud-Suid-Afrikaners in Missouri wat haar en haar man bygestaan het sodat sy in sy laaste weke gereeld vir haar Colin van die langpad kon sê hoe lief sy hom het. Sy motto by sy Facebook-profielfoto is: I can’t stay home. I’m a trucker.

En haar man, ook ’n pastoor voor hy voor die inperking in Maart vanjaar Amerika toe is om ’n beter lewe vir hom en sy gesin te skep, was allereers ’n vragmotorbetuurder in murg en been.

Toe hulle mekaar in 1994 ontmoet het, drie jaar voor hulle getroud is, was hy reeds ’n ervare “trucker”, vertel ’n gebroke Maria ons uit Montagu in die Wes-Kaap.

colin gertse
Foto: Verskaf

Haar geliefde eggenoot van 23 jaar en pa van haar twee seuns is sowat twee weke gelede in die Kindred-hospitaal in St Louis, Missouri dood.

Dit was nadat hy einde Oktober skielik ’n groot beroerte gehad het, maar toe aanvanklik hoopvolle tekens van beterskap getoon het nadat sy hom met stem- en video-oproepe kon bemoedig danksy die hulp van drie oud-Suid-Afrikaners wat hulle in die hospitaal oor hom gaan ontferm het. 

Sy en haar gesin kon weens finansiële omstandighede en die covid-situasie nie dadelik Amerika toe reis nie. Colin het die eerste ses weke alleen in die hospitaal gelêmaar Irene en David Gilliland en Sonja McDowell, almal van Missouri, het toe op pleidooie van Maria gereageer. ’n Vriendin, Mandy Steyn, het aan die Facebookgroep ‘South Africans in St Louis’ laat weet: Kan enige van jul lede dalk net by Colin gaan inloer?

En danksy hulle kon sy nie net beter met haar man kommunikeer nie, hulle het oneindig meer gedoen as waarvoor sy en Colin se ander geliefdes kon hoop, vertel ’n aangedane Maria. Sy het haar man laas van aangesig tot aangesig gesien toe hy in Maart na Amerika vertrek het.

“Hulle het ons van geen kant af geken nie, maar eindelik soveel opofferings vir Colin gemaak. Hulle het my geleer wat naasteliefde is.”

David het trouens ook ’n geldinsameling begin sodat Maria en haar seuns, Cohen en Marlo, Colin in die hospitaal kon gaan besoek. Daar was dié vooruitsig, daar was hoop . . . en toe die verpletterende tyding in die feestyd.

colin maria gertse
Colin en Maria toe hulle in 2013 hul troubelofte aan mekaar hernu het. Foto: Verskaf

Haar gedagtes spring rond, sy probeer nog tot verhaal kom ná die emosionele wipwarit van die afgelope ruk; van skok, na onsekerheid en stres, na hoop, en eindelik verslaendheid.

“Dis vir my nog baie onwerklik, dit voel asof hy nog in die hospitaal is. Ons vat dit nog maar een dag op ’n slag. 

“Dis vir my geweldig swaar dat ek nie daar langs hom kon wees en so kon afskeid neem nie. Ek wou hom so graag net ’n drukkie gee.”

Sy probeer die trane wegsluk, en voeg by: “Maar ja, dit gaan al party dae ’n bietjie beter. Ek probeer berusting daarin vind dat dit Here se plan vir Colin was.”

Die ondersteuning van haar familie en vriende hier help haar ook deurdra. 

MASSIEWE BEROERTE IN STUURKAJUIT

Sy het op 27 Oktober verneem dat Colin “ ’n massiewe beroerte” gehad het terwyl hy in sy vragmotor sit en wag het dat vrag gelaai word. Hy het bewusteloos in die kritieke sorgeenheid van die hospitaal in St Louis gelê.

“Hulle het my gesê sy brein het baie seergekry.” Nadat hy aanvanklik vordering getoon het, het hy ná omtrent drie weke so agteruitgegaan dat dokters haar in ’n stadium gevra het of hulle die lewensondersteunende masjiene moes afskakel. Sy het geweier.

Colin Gertse
Colin in 'n ontspanne luim in Amerika. Foto: Verskaf

’n Ruk daarna het Sonja, Irene (’n oudverpleegster) en David toe die eerste keer by Colin in die hospitaal gaan draai. Hulle het Maria daarvandaan gebel en die selfoon naby haar man se oor gehou. Die klank van haar stem het sy hartklop op die monitor laat verander en hy het sy oë oopgemaak. 

‘DIE KRAG VAN LIEFDE’

“Ek het nog vir hom gesê: ‘Hier is ek, Bokkie, kyk vir my.’ Hy het eers in die lug opgekyk, maar my toe op die foonskerm gesien.”

En nadat hy so lank nie op sy omgewing gereageer het nie, het hy toe sy oë geknip op sy vrou se versoek: twee keer vir ‘ja’ en een keer vir ‘nee’ toe Maria hom spesifieke vrae gevra het. Hy het ook sy vingers effens beweeg. 

“Hy kon natuurlik nie met my praat nie, maar kon vir my met sy oë wys hy verstaan. Ek het hom baie dinge gevra en vertel . . . ons het oor die kinders ‘gepraat’. Ek het ook vir hom gesê hy moet glad nie bekommerd wees oor ons nie; al wat ons wil hê, is dat hy gesond word.

Colin Gertse
Colin en sy seuns Cohen en Marlo 'n paar jaar gelede. Foto: Verskaf

“En in die agtergrond kon ek hoor hoe stunned die dokters was, hoe hulle aangaan oor sy vital signs en sy reaksie.”

David-hulle het gereken dit was “die krag van die liefde”, en sy voel ook so.

Daarna het Irene en David en Sonja beurte gemaak om Colin te besoek en Maria deur video-oproepe met haar man te help kommunikeer. David het ook selfs vir hom Afrikaanse gunstelingliedjies deur ’n MP3-speler gespeel.

“En dit het al hoe beter gegaan. Hy het mettertyd meestal sonder hulp asemgehaal; net wanneer hy in ’n diep slaap sou gaan, het hy hulp met sy asemhaling gekry," vertel Maria.

Colin Gertse
Foto: Verskaf

“Met een van ons laaste video-oproepe het hy nog half regop probeer sit en vir my geglimlag. Sonja het vir my gesê hy probeer sy regterkant beweeg.”

ALLES VIR SY GESIN GEDOEN

Sy vertel hoe sy ’n keer of wat saam met haar man in Suid-Afrika in die vragmotor gery het.

“Ek onthou nog hoe hy eendag, nadat ek so verstom was oor hoe hy die trok in ’n klein ruimte in ge-reverse het, vir my gesê het: ‘Meraai, om trok te bestuur is eintlik ’n kuns, dis ’n passie’." 

Sy ervaring het hom gehelp om in 2013 sy eerste kontrakwerk in Amerika te kry. “Hy het toe vir twee jaar daar gewerk, ses maande op ’n slag, waarna hy dan weer ses maande by ons kon wees.”

Die veel beter geld en werkomstandighede was 'n groot beweegrede, maar ook die vragmotorkapings in Suid-Afrika.

“Hyself is twee keer gekaap en die tweede keer het hulle hom lelik seergemaak. Hy kon met die lorrie wegkom, maar hulle het hom deur die trok se ruit in die gesig gekap.

“Hy het my gesê hy wil nie meer hier ry nie; in Amerika kon hy soveel rustiger op die pad wees. En omdat ek natuurlik nie wou hê hy moes iets erger oorkom nie, het ek ingestem dat hy gaan. Ek het gevoel hy verdien beter.”

colin maria gertse
Past. Colin en Maria by 'n gemeentesaamtrek. Foto: Verskaf

Tot hy in Maart vir die tweede keer beter vragmotorgeleenthede in Amerika gaan benut het, was hy ook die pastoor van die Handelinge-Pinkster-gemeente op Montagu, vertel Maria.

“Hy was vir ons ’n goeie leermeester. Hy het altyd gesê ons moet dink aan wat ons met die 24 uur in ons dag maak, want dis tyd wat die Here ons gee.

“Hy het uit sy pad gegaan vir ons, hy’t baie goed vir ons gesorg, hy was die broodwinner wat die beste vir sy kinders wou gee . . . alles in een,” vertel Maria oor Colin, wat buiten hul twee seuns ook ouer kinders uit ’n vorige huwelik het.

colin gertse
Op die OR Tambo-lughawe met sy vertrek na Amerika in Maart laas jaar. Foto: Verskaf

Sy onthou nog sy woorde toe sy hom op 14 Maart lughawe toe geneem het die laaste keer dat hulle fisiek bymekaar was:  “Onthou nou Meraai, ek kom nie terug nie, julle kom na my toe."  

“Ja, ons wou probeer dat ek en die seuns ook mettertyd soontoe verhuis om saam met hom ’n lewe daar te maak.”

HARTVERSAKING

Daar is gehoop dat Colin mettertyd intensiewe rehabilitasie sou kon ondergaan. Irene het al daarvan begin praat dat sy aanvanklik na hom sou help kyk “wanneer hy uit die hospitaal ontslaan word, en ek sou dan oorgaan om vir eers daar by hom te wees".

Maar sowat twee weke gelede het die dokters by die Missouri-hospitaal erg bekommerd begin raak oor die toestand van sy lewensorgane. “Toe ek nog die Dinsdag met Sonja en hom praat, was hy koorsig en het die dokters vermoed hy het vog op sy longe.

"Ek het nog na hom geroep. Hy sy oë oopgemaak, vir my gekyk, en ek het gesê: ‘Ai Colin, my skat, jy moet nou sterk wees. En onthou ek is baie lief vir jou.’ En hy het weer sy oë gesluit.”

Die volgende dag was hy dood. Die dokters het aan haar verduidelik sy hart het ingegee.

HERINNERINGS

Sy kon nie by sy bed wees nie, en sy het nou net herinnerings oor. Maar daar is baie wat sy sal koester. Soos toe hulle in 2013 nadat hulle destyds eers voor 'n landdros getrou het hul belofte aan mekaar in 'n behoorlike kerkseremonie hernu het, “met vier strooimeisies en strooijonkers, die hele toetie.

Colin Gertse
Colin tussen Montagu se Langeberge. Foto: Verskaf

“Hy’t nog so breed geglimlag toe ek in die aisle afkom, en toe ek by hom kom, sê hy: ‘Jy lyk darem oulik, jong!’ En daai dag sing hy vir my "If Tomorrow Never Comes" dat die maskara eintlik by my wange afloop. Hy’t so ’n mooi, sterk stem gehad. Sy gunstelingliedjie was "Op ’n Heuwel Daar Ver".

“Hy was 'n lang man en moes afbuk om my te soen, en ek hy altyd vir hom gelag as hy so op sy eie manier dans.

"Ja, ons het mekaar geniet. Ons het 'n vol lewe gehad.”

 
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe