Vyf gelukkige matrieks het die geleentheid van 'n
Vyf gelukkige matrieks het die geleentheid van 'n leeftyd gekry om Antarktika toe te gaan. Foto: Verskaf

Dis nie die meeste matrikulante se idee van pret ná die eindeksamen nie – om ’n onherbergsame yslandskap te gaan verken pleks daarvan om ’n paar weke lank net lekker te ontspan om jou welverdiende vryheid te vier.

Maar ná hul besoek aan Antarktika kan Kelby Barker (18) van Makhanda (voorheen Grahamstad) in die Oos-Kaap daarmee spog dat sy by ’n ysige meer ingespring en geswem het, al het die kwik die dag om vriespunt gehuiwer. En die snerpende koue kon Boiketlo Lamula (17) van Heidelberg, Gauteng, nie keer om daar haar viool wat sy spesiaal saamgeneem het, uit te haal en te begin speel nie.

“My vingers het amper afgevries, maar ek dink nie iemand het al ooit in Antarktika tussen die ysberge viool gespeel nie,” sê sy.

Hulle was deel van ’n groep van vyf matrikulante van reg oor Suid-Afrika wat die ysige vasteland verlede maand saam met die avonturier en skrywer Riaan Manser besoek het om self die gevolge van klimaatsverandering te ervaar. 

Vir sy projek Matrics in Antarctica het hy Kelby en Boiketlo saam met Thea Earnest (18) van Durban, Cobus Burger (18) van Brandvlei in die Noord-Kaap en Ayakha Melithafa (18) van Eersterivier in die Wes-Kaap uit honderde inskrywings gekies.

Die tieners moes ’n opstel skryf oor klimaatsverandering en daarna ook vir onderhoude gaan.

Die uitverkore vyf se ywerige belangstelling in klimaatsverandering en hul omgewingsaktivisme het die deurslag gegee.

“Hierdie was ’n eerste in sy soort,” sê Riaan (47) wat die eerste mens was wat met ’n trapfiets reg om Afrika gery het – ’n tog van meer as twee jaar wat hy in 2006 voltooi het. 

Huisgenoot het al tevore van sy avonture vertel soos toe hy en sy vrou, Vasti (toe nog sy meisie), in 2013 die Atlantiese Oseaan in ’n roeiboot oorgesteek en van Marokko tot New York geroei het.

Dié keer wou hy ’n groepie jong, omgewingsbewuste Suid-Afrikaners Antarktika toe neem om vir hulle ’n groter prentjie te gee oor die bedreiging wat Moeder Natuur weens klimaatsverandering in die gesig staar.

Danksy borgskappe van verskeie groot internasionale en plaaslike ondernemings kon hy die projek finansier.

Riaan en die matrikulante het vyf dae lank die ysige weer getrotseer.

“Soggens was dit so -7 °C. Die dae het by 0 °C gedraai, maar as die wind gewaai het, kon dit maklik -15 °C word,” vertel hy.

Al was dit beslis kouer as enige Suid-Afrikaanse winter, was hy geskok om te sien wat klimaatsverandering die ysvasteland reeds aandoen. 

“Gewoonlik sneeu dit hierdie tyd van die jaar, maar dit het nie een keer gesneeu terwyl ons daar was nie,” vertel die avonturier wat Antarktika al twee keer tevore besoek het.

“Jy sien eerstehands hoe die ys smelt en daar was plek-plek water waar daar gewoonlik ys is.”

Die vyf matrieks is van links Ayakha Melithafa, Th
Die vyf matrieks is van links Ayakha Melithafa, Thea Earnest, Kelby Barker, Cobus Burger en Boiketlo Lamula. Foto: Verskaf

Dit was vir hom ’n belewenis om dit alles saam met die jongklomp te ervaar. 

“Hulle is almal ongelooflike mense. Almal het baie sterk persoonlikhede en het op hierdie ekspedisie gewys hulle het baie guts.”

Toe die vragvliegtuig op Woensdagoggend 27 Januarie vroeg met Riaan en die groepie jong avonturiers uit Kaapstad vertrek, was dit die heel eerste keer dat Cobus in sy lewe gevlieg het.

Ons het drie lae klere gedra en die aande was nie so koud nie. Ons kamers was goed verhit.

“Ek was ’n bietjie senuweeagtig toe ons opstyg, maar ek was nie regtig bang nie,” vertel hy oor die ses uur lange vlug tot by die landingstrook op Antarktika.

Daar moes die plaasjapie sy kortbroek, vellies en kakiehemp vir ’n dik baadjie en stewels verruil. Waar die kwik maklik dié tyd van die jaar in die Noord-Kaap tot oor die 30 °C styg, was hy skielik met temperature gekonfronteer wat tot onder vriespunt daal. 

“Ek het eintlik gedink dit gaan kouer wees. Ons het drie lae klere gedra en die aande was nie so koud nie. Ons kamers was goed verhit,” vertel hy oor die houtgastehuis waar hulle gebly het. 

Dit het 14 jaar laas behoorlik op ons plaas gereën. Dit reën so af en toe ’n bietjie, maar dit is nooit genoeg dat die veld kan groei nie.

Selfs toe hulle een aand kampeer het, het hulle darem nie lê en bibber nie, want hul slaapsakke was geskik vir temperature van -30 °C.

Wat hom veral bybly is die tonele van ’n smeltende yswêreld.

“Jy kan dit dadelik opmerk. Dit is eintlik baie hartseer om te sien,” sê Cobus.

Op hul plaas 85 km van Brandvlei het hy ook al gesien wat klimaatsverandering aan hul skaapboerdery doen.

“Dit het 14 jaar laas behoorlik op ons plaas gereën. Dit reën so af en toe ’n bietjie, maar dit is nooit genoeg dat die veld kan groei nie.”

Op Antarktika het die span ’n vlug oor die bergreekse van die vasteland onderneem, en kilometers ver op die ys gestap.

Die groepie trotseer die ysige landskap.
Die groepie trotseer die ysige landskap. Foto: Verskaf

“Ek is nie ’n verskriklike sportiewe mens nie en ons het baie gestap en dikwels oor berge en dale,” vertel Thea.

“Ek het partykeer gevoel ek kan nie meer nie, maar dan het my spanmaats my gemotiveer en van agter aangehelp.”

Wat sy daar gesien en beleef het, het haar met nuwe insig laat terugkeer.

“Ek dink ons as 18-jariges moenie bang wees om met mense te praat oor klimaatsverandering nie. Ons moet met volwassenes kan praat en sê hulle moet ophou plastieksakke gebruik omdat dit die oseaan besoedel. Ons moet self optree en ons strande skoonmaak,” sê sy.

Ook vir Kelby lê die kwessie van klimaatsverandering na aan die hart.

“Ek wou self gaan sien wat die nagevolge daarvan is,” sê sy oor die ekspedisie na Antarktika.

Sy het dié avontuur ná ’n bitter moeilike jaar aangepak. Terwyl sy besig was om matriek te skryf, het kanker haar geliefde pa, Dave, ’n plant- en dierkundige, se lewe geëis.

Sy meen hy sou trots op haar gewees het en ook baie opgewonde dat sy vir die ekspedisie na Antarktika gekeur is.

“My pa was self ’n wetenskaplike en het ’n groot invloed op my lewe gehad. Hy was baie omgewingsbewus. Hy het so min moontlik plastiek gebruik, dit herwin en ’n ‘groen’ leefstyl probeer handhaaf. Dit is waar my passie vir die omgewing vandaan kom.”

Sy vertel van ’n gesprek wat die span met Russiese wetenskaplikes gehad het wat op Antarktika werk. Hulle het vertel dat hulle die afgelope jaar 10 cm minder sneeu as die vorige jaar daar gemeet het.

“Dit wys dat dit jaarliks ál minder in Antarktika sneeu,” sê Kelby bekommerd.

’n Hoogtepunt van haar besoek was toe sy haar swemklere aangetrek en in die ysige water van die meer gaan lyf natmaak het.

“Ek was die eerste meisie wat ingespring het. Cobus was voor my in, maar ek het nie op my laat wag nie,” vertel sy.

“Ek wou alles ervaar. My tande het op mekaar geklap, maar dan hol jy vinnig weer terug na die sauna om warm te word.”

Die tieners het daar in die vreemde, anderste wêreld nie net ’n ander soort pret gehad as hul skoolmaats nie; hulle het ook pynlik bewus geword van die kwellende kwessies wat die aarde bedreig.

“Almal was baie gretig om te leer en dit het hulle uitkyk op die lewe verander. Hulle kan nou met eerstehandse kennis vir mense vertel wat besig is om met ons planeet te gebeur,” sê Riaan.

Hulle het in 'n vragvliegtuig gereis.
Hulle het in 'n vragvliegtuig gereis. Foto: Verskaf

Sy doel met die ekspedisie was om vir die jong Suid-Afrikaners te wys dat jy die daad by die woord moet voeg.

“Gaan na jou plaaslike winkel toe en praat met die eienaar. Hoor oor moontlikhede om plastieksakke daaruit te verwyder. As jy dit kan regkry, is daar honderde plastieksakke wat nie meer in sirkulasie sal wees nie,” is sy raad.

“Die verskil gebeur in jou onmiddellike omgewing. Daar is ’n oseaan tussen sê en doen,” het Riaan dit die matrieks tydens die ekspedisie op die hart gedruk.

Jong harte wat warm klop vir die omgewing, selfs daar in die koue van Antarktika waar die ys aan die smelt is en sneeu ál skaarser word.

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe