“Solank jy gesond is, loop met jou kop omhoog en swem in die see! Die lewe is te kort om jou oor ander se opinies te kwel.”

Dít is die boodskap van Chloe Kellerman, ’n 25-jarige model, lewensredder en sielkunde-student van Bloubergstrand naby Kaapstad. Sy is ook ’n paramedikus in haar vrye tyd.

Sy het drie weke gelede ’n modelkontrak losgeslaan. “Ek was maar altyd net te klein vir ’n plusgrootte-model en te kort en swaar vir ’n loopplank-model,” sê sy. Sy wou altyd ’n model eerder as ’n karakter vir flieks en advertensies by ’n agentskap wees.

Nou is haar droom bewaarheid.

“Ek het al baie positiewe kommentaar gekry: byvoorbeeld vroue wat skryf hulle het vir die eerste keer ’n bikini sonder ’n kortbroek gedra met my as inspirasie. Selfs maer meisies voel meer gemaklik in hul swemdrag,” vertel sy aan Huisgenoot.

“Ander vroue het vertel ná ’n swangerskap het hulle nie meer iets werd gevoel totdat hulle my foto’s gesien het nie. Mans bedank my dat hul dogters kan opkyk na my,” vertel sy verder.

Chloe het twee-en-’n-half jaar gelede begin foto’s van haar in bikinis en ander swemdrag op Instagram deel. Sy het nou meer as 56 000 volgelinge. “Op skool is ek oor my gewig gespot,” vertel sy aan Huisgenoot.

Maar dit het haar toe ook nie afgesit nie. Sy het groot geword op Kenton-On-Sea en was soveel as wat sy kan op die strand. “Ek is ’n waterbaba. Ek het al op die ouderdom van ses maande in die see begin swem.”

Haar pa, Abrie Kelllerman, was destyds die jongste staatsadvokaat in die Wes-Kaap voor hulle Oos-Kaap toe getrek het. Hy is op die ouderdom van 39 aan ’n brein-aneurisme oorlede. Sy was vyf jaar oud.

Haar ma, ook Chloe (60), werk deesdae by ’n gesondheidswinkel indie Noordelike voorstede. Hulle was tot en met haar gr. 9-jaar in Korea waar Chloe snr. Engels gegee het. Sy was in ’n Amerikaanse skool daar.

In gr. 10 het hulle teruggekom Suid-Afrika toe. Chloe het lewensredders op die strand op Kenton-on-Sea gesien en besluit dit is hoe sy vriende sou kon maak.

View this post on Instagram

????????????????????

A post shared by A S H L E Y G R A H A M (@ashleygraham) on

Meer as twee jaar gelede het sy op die Amerikaanse plusgrootte-model Ashley Graham se Instagram afgekom en besluit sy wil Suid-Afrikaanse vroue (en mans) inspireer om gemaklik in hul eie lyf te wees.

Ekstra bron: THE YOUNG INDEPENDENTS

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitter en Facebook en teken gerus in op ons nuusbriewe.