Hy is keelvol daarvoor dat sy dogter uitgebeeld word as ’n “blonde bimbo en bikinimodel” wat die wêreld vol rondkerjakker danksy die rojale geskenke van die skatryk staatshoof met wie sy as jong skoonheid glo ’n verhouding gehad het.

“Sy is ’n slim en suksesvolle sakevrou uit eie reg. Sy het jare laas modelwerk gedoen,” hou hy vol.

Aan die woord is die welvarende Kaapse sakeman Gary van der Merwe, die pa van die voormalige swemkleremodel Candice van der Merwe (nou 26). Gary is omgekrap oor die storm rondom sy dogter en Saad Hariri (nou 49), die man wat Libanon se premier geword het nadat sy paaie ses jaar gelede op ’n eilandparadys met dié van Candice gekruis het.

Maar Gary is veral omgekrap oor Candice se regstryd met die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) oor die geskenkies van dermiljoene rande in kontant en twee spogmotors wat Saad glo aan sy dogter gegee het . . . Gary sê sy dogter se “gemaklike lewe” vandag is te danke aan die geld wat sy van Saad ontvang het nadat die twee mekaar in 2013 in die eksotiese Seychelle ontmoet het.

View this post on Instagram

Mood??

A post shared by CANDICE JEAN VAN DER MERWE (@jean.candice) on

Maar oor bewerings van ’n romantiese verhouding tussen Candice en die getroude Saad – destyds ’n sakeman voor hy in 2016 die premier van die ryk landjie in die Midde-Ooste geword het – hou Gary vol: “Hulle het ’n pragtige vriendskap gehad. Candice het nog altyd ’n goeie verhouding met my as haar pa gehad en sy het mnr. Hariri as nog ’n vaderfiguur in haar lewe beskou. Romanse kom in verskillende gedaantes.”

Tog is Candice se verbintenis met Saad selfs in The New York Times aan die groot klok gehang – en so ook sy geskenke en die R44 miljoen in belasting wat Candice daarop aan die SAID moes betaal.

Al die negatiewe publisiteit het haar destydse loopbaan as model en haar vriendskap met Saad beëindig, vertel Gary vies. Hy staan haar by in haar eis teen die SAID – en hy het self nog regsgedinge hangende teen Jan Taks.

Geld van ’n buitelandse skenker is volgens Gary nie belasbaar nie; hy hou vol dit wat die SAID aan Candice gedoen het, was die “afdreiging van ’n onskuldige jong vrou”.

Sy was boonop die slagoffer van die SAID se “20 jaar lange vete teen my”, sê hy. Gary beweer weens die SAID se “onregmatige optrede” teen hom moes hy al talle van sy ondernemings sluit.

View this post on Instagram

??...

A post shared by CANDICE JEAN VAN DER MERWE (@jean.candice) on

In verskeie regsgedinge eis die pa en dogter nou miljarde van die SAID – onder meer die R44 miljoen in belasting wat Candice op Saad se geskenke moes betaal.

“Sy wil met haar lewe aangaan,” sê Gary oor Candice.

Die dinge met Saad is immers in haar verlede, en sy dra deesdae ’n yslike verloofring. Oor sy aanstaande skoonseun verklap Gary net: “Hayden is ’n baie nice ou. Ek raak nie betrokke nie, maar sy is gelukkig en hy kyk mooi na haar.”

View this post on Instagram

Love You ??

A post shared by CANDICE JEAN VAN DER MERWE (@jean.candice) on

Die paartjie woon in een van vier Kaapse eiendomme wat sy glo met Saad se geld gekoop het.

“Sy’s nou die gelukkigste wat sy al ooit was,” sê haar pa.

Gary is duidelik trots op die middelste van sy drie kinders. Sy het in ’n “stewige ouerhuis” grootgeword, sê hy. “Ek het my eie sakeryk opgebou – voor die SAID dit vernietig het – en Candice het met my aan haar sy grootgeword.”

Candice was ’n leerder aan die Hoërskool Elkanah House, ’n privaat Christelike skool in Bloubergstrand, Kaapstad. “Dit was soos ’n plaasskool. Sy het netbal gespeel, geswem en was lief vir dans.”

Volgens Gary was dit g’n Saad se geld wat van haar ’n stralerjakker gemaak het nie. “Van jongs af het sy oor die wêreld gereis met gesins- en skivakansies. Frankryk, Italië, Amerika, Griekeland, Mauritius, die Seychelle, Singapoer, Doebai, Thailand . . .”

Toe sy as tiener aankondig sy wil internasionale modelwerk doen, was hy glad nie bekommerd nie. “Ek het haar nog altyd vertrou.”

Luidens hofdokumente in Candice se saak teen die SAID was haar verklaarbare inkomste deur haar modelwerk van 2009 tot 2011 R20 000 per jaar. In 2012 was dit R40 000. Toe, in 2012, ontmoet sy Saad by die luukse Seychellese strandoord The Plantation Club, waar sy ’n kontrak gehad het.

Saad Hariri.

Die Libanese sakeman – wat sedert 1998 getroud is, drie kinders het en 25 jaar ouer as Candice is – het miljarde geërf van sy pa, Rafic Hariri, ’n voormalige premier van Libanon wat in 2005 vermoor is.

Volgens The New York Times het Candice en Saad vier dae in mekaar se geselskap in die Seychelle deurgebring. Daarna het Saad glo sowat R150 miljoen in haar bankrekening inbetaal.

En toe die SAID die skenking daarna ondersoek en haar bates bevries, het hy glo nog R15 miljoen aan haar oorbetaal, en toe nog R45 miljoen om Jan Taks te betaal.

The New York Times beweer Candice het hom in ’n e-pos bedank met die woorde: “Love you my Saad :)”.

Hy het glo ook vir haar ’n Audi R8 Spyder en ’n Range Rover Evoque present gegee. Maar Gary meen Saad se geskenke aan Candice word vanuit ’n verkeerde perspektief gesien.

“Hy is een van die rykste mense op aarde. Die geld wat hy aan Candice gegee het, was kleingeld. Dit was vir hom niks.

“Ek het nog nooit gevra wat presies hul verhouding was nie. Ek het nog altyd my dogters se besluite gesteun en nooit gevoel ek hoef betrokke te raak nie.”

View this post on Instagram

??OR??

A post shared by CANDICE JEAN VAN DER MERWE (@jean.candice) on

Saad het in 2016 die premier van Libanon geword, en die kollig op sy skenkings aan Candice kom te midde van protes teen sy bewind weens dié land se vrot ekonomie en werkloosheidsyfer.

Maar Gary beweer dis net weens die SAID se “vete” teen hom dat sy dogter die skenkings van Saad moes openbaar, want die instansie het Candice en Gary albei vir belastingontduiking vervolg.

Nou dagvaar Candice die SAID en die tesourie vir R1 miljard omdat haar verhouding met Saad skipbreuk gely het en haar reputasie glo weens die belastingherrie beswadder is. Voorts eis sy die R44 miljoen terug in belasting – plus R20 miljoen rente – wat sy op Saad se skenkings moes betaal.

Oos, wes, oorsee bes – Can­dice rits in styl die wêreld vol met haar verloofde aan haar sy.

Gary sê die hofsaak het sy dogter gedwing om vinnig groot te word.

“Haar modelloopbaan is negatief beïnvloed. Sy is onregverdig gebrandmerk en dit het haar miljoene gekos,” beweer hy. “Maar sy’s nou slimmer en onderhou haarself.”

Gary self dagvaar die SAID vir nog R5,7 miljard nadat hy in die verlede “twee keer onregmatig deur die SAID vervolg is”. Hy sê die sake in die hof het op niks uitgeloop nie. Maar in die proses het die SAID glo “elke onderneming wat ek al ooit gehad het, vernietig – van ’n aanlyn lotery tot ’n skeepsvragfirma en ’n eiendomsaak. My goeie naam is beswadder.”

Volgens Gary het die gedurige hofsake sedert 2006 spanning op verhoudings in sy gesin geplaas en veroorsaak dat hy en Candice se ma twee jaar gelede, ná 28 jaar saam, uitmekaar is.

Gary sê hy soek geregtigheid. En Candice ook. Sy is immers ’n “chip off the old block”, soos hy dit self stel.

View this post on Instagram

@lavitaswim coming soon....

A post shared by CANDICE JEAN VAN DER MERWE (@jean.candice) on

Kyk jy na Candice se onlangse Instagram-foto’s, lyk dit nie of die spanning oor die sage haar lewe te veel versteur nie. Die blonde lokke op haar ou modelfoto’s is nou donkerbruin, en sy wil binnekort haar eie aanlyn swemklerereeks bekendstel.

En dan is daar daai verloofring . . . Danèlle Hefer van Exotic Diamonds in Johannesburg waardeer Candice se knoets teen minstens R4 miljoen.

“En dis net vir die groot steen – nie die ring of die kleiner diamante rondom nie.”

Haar knoets van ’n verloofring.

Haar belastingprobleme en regsgedinge het ook nie haar vlerke geknip nie. Op een foto op haar Instagram-blad sit sy op ’n vlug in die besigheidsklas met ’n Louis Vuitton-handsak op haar skoot en daardie lang bene uitgestrek. Dalk op pad na Doebai, Parys, of Mauritius . . .

  • Sandile Memele, SAID-woordvoerder, sê hulle mag nie oor hangende hofsake kommentaar lewer nie. Daarby hanteer die SAID alle belastingbetalers se sake as vertroulik. Hul optrede teen Gary en Candice is binne die wet en daar is geen vete teen die Van der Merwes nie.
Foto's: Gallo Images/Getty Images, Business Report, Instagram/@jean.candice