Inwoners kon weer vir die eerste keer hul tuistes verlaat en tienduisende het treine, busse en selfs vlugte gehaal na ander dele van China. Maar baie mense is ook nog nie so vry soos wat hulle graag wou wees nie, verneem Huisgenoot van 'n Suid-Afrikaanse onderwyser uit die stad waar die grootste wêreldkrisis in dekades begin het.

Die hele Wuhan is op 23 Januarie in wese onder kwarantyn geplaas nadat die nuwe coronavirus die eerste keer by 'n groothandelsmark daar kop uitgesteek het.

Die Chinese owerhede het die hele stad met sy sowat 11 miljoen inwoners basies van die res van die land en die wêreld afgesper. Wuhan sou mettertyd China se aggressiewe bestuur van die krisis versinnebeeld.

Meer as 50 000 infeksiegevalle en 2 500 sterftes is in die stad aangemeld, verreweg die meerderheid van China se COVID-19-syfers, wat op sowat 81 800 gevalle en 3 300 sterftes gestabiliseer het.

Die wêreldsyfers het teen 9 April by sowat 1,5 miljoen gevalle en amper 90 000 sterftes getrek, met Amerika die jongste episentrum van die internasionale gesondheidsramp. In Wuhan self is net drie nuwe bevestigde gevalle in die drie weke tot 8 April aangemeld.

Baie inwoners het vertel hoe verlig hulle is dat die uiters streng inperkingsmaatreëls, wat hulle selfs verbied het om hul woonplekke te verlaat om kruideniersware te gaan koop, nou opgehef is en hoe lekker dit is om weer hul ouers te sien en werk toe te gaan.

Baie voorsorgmaatreëls word egter steeds nougeset gevolg, en buiten die alomteenwoordige maskers het sommige reisigers selfs volle beskermende 'hazmat'-pakke gedra. Mense se gesondheidstoestand en bewegings word ook nog met militêre noukeurigheid met onder meer temperatuurskandeerders en permitstelsels gemonitor.

"Ons is bewus daarvan dat ons nie kan ontspan tot ons die stryd finaal gewen het nie," het die goewerneur, Cao Guangjin, van die Hubei-provinsie waarin Wuhan geleë is, gesê.

"Ons moet kalm bly en net so versigtig teen die einde as aan die begin wees."

Winkelsentrums het wel heropen en baie lang toue, omdat kopers minstens 'n meter uitmekaar moet staan, het by supermarkte gevorm. Terwyl mense wel dadelik die kans aangegryp het vir goed soos pluimbal in parke, en ook danssessies en stap in die buitelug en warm weer, gaan gewoontes soos sosiale afstand nie gou verdwyn nie.

'Baie frustrasie'

"Eintlik is die kwarantyn nie heeltemal opgehef nie, net gedeeltelik," vertel Johann van Deventer uit Wuhan. "Hoewel openbare vervoer hervat is en mense nou in en uit Wuhan kan beweeg na ander stede, kan ons nog nie vrylik in ons gemeenskap rondbeweeg nie."

Foto: Verskaf
Foto: Verskaf

Die Suid-Afrikaner het in Julie verlede jaar as onderwyser by 'n internasionale preprimêre skool in China begin werk.

Hy en sy Filippynse vrou, Jidda, het die geleentheid gehad om die Suid-Afrikaanse ontruimingsending uit Wuhan mee te maak, maar verlede maand eindelik weens finansiële en praktiese oorwegings daarteen besluit, soos dat hy weer sou moes terugkeer vir sy werk, en onsekerheid of Jidda 'n visum in Suid-Afrika sou kon kry.

Johann van Deventer en sy vrou, Jidda. Foto: Versk
Johann van Deventer en sy vrou, Jidda. Foto: Verskaf

"Ons moet nog 'n spesiale permit kry om uit te gaan," vertel hy nou, "en dan sal dit eers slegs vir twee uur op 'n slag wees."

In dié stadium is hulle dus om praktiese doeleindes "steeds ingeperk. Ons het heeldag probeer uitvind waar en hoe ons so 'n permit moet kry. Dis baie frustrerend. 

"Ek wil byvoorbeeld by 'n OTM uitkom om te kyk hoeveel geld ek nog in my bankrekening het. Ons is nog nie vir Februarie of Maart betaal nie, maar sal blykbaar more (10 April) betaal word."

En hoewel baie mense teruggekeer het werk toe, "is daar nog geen datum vir wanneer die skole weer in Hubei sal begin nie. En tot dan word ons slegs 'n minimum loon van R4 000 betaal.

"Daar's sprake dat die skole eers weer in September gaan begin. As dit wel die geval is, weet ek nie hoe ons tot dan gaan oorleef nie."

Ekstra bronne: Reuters, South China Morning Post

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitter en Facebook en teken gerus in op ons nuusbriewe.