Teen 2 Maart is meer as 4 330 gevalle en 26 sterftes daar aangeteken. Marinette Laubscher bied Huisgenoot dié glimps van verlate strate en streng voorsorgmaatreëls in daardie doeltreffende samelewing.

Sy gee al drie jaar skool – Engels – in die stad Pohang in Suid-Korea, vertel Marinette. "Wat blykbaar besig is om in 'n globale pandemie te ontwikkel, het almal hier op hul hoede.

"Alle skole hier is al vir twee weke toe vir leerlinge. Party is net vir 'n paar uur per dag vir onderwysers oop.

"Ons is gevra om self-kwarantyn toe te pas – dus om geensins te reis nie en sover moontlik binnenshuis te bly. Ek bestel al my kruiderniersware aanlyn en ons probeer onsself maar tuis besig hou. Intussen hoor ons meer ambulanse en helikopters as normaalweg.

"Ons kry gereelde waarskuwings op ons foon as 'n nuwe infeksiegeval in ons stad aangemeld word. Alle inligting word dan verskaf oor waar die betrokke persoon oral was, stap vir stap. Al die plekke wat hy of sy besoek het, word dan gesluit en ontsmet. Dit is so effektief.

"As jy siek is of selfs voel jy raak siek, is daar 'n nasionale nommer wat jy kan skakel. Ambulanse met mediese personeel in wit oorpakke sal jou kom haal. Of jy kan self na die naaste mediese sentrum gaan vir toetse."

Maskers is oral uitverkoop. Foto: Verskaf
Maskers is oral uitverkoop. Foto: Verskaf

Dit lyk sover of skole weer 22 Maart kan oopmaak, vertel Marinette. Klasse is natuurlik veiligheidshalwe vir eers gestaak, uit vrees dat die virus daar "soos 'n veldbrand sal versprei. Skole is ook ontsmet. Die meeste ouers wou ook hul kinders uit skole haal tot hulle weer gemaklik voel [dat die risiko verby is].

"As jy uitgaan moet jy maar altyd jou masker dra – supermarkte en convenience stores hier laat jou nie sonder 'n masker toe nie en jy mag daarsonder ook toegang op openbare vervoer soos busse geweier word.

Winkels spel voorsorgmaatreëls op plakkate uit. Fo
Winkels spel voorsorgmaatreëls op plakkate uit. Foto: Verskaf

"Persoonlike higiëne en gesondheid is 'n topprioriteit. Byvoorbeeld: Buiten 'n masker ten alle tye, moet jy jou hande gereeld was en 'n handontsmettingsmiddel heeltyd byderhand hê en dit gereeld gebruik."

Mense word ook aangeraai om voortdurend bewus te wees van moontlike risiko's in hul omgewing vir Covid-19-verspreiding, sê Marinette.

"Gebruik jou elmboog of kneukels in die hysbak of klim trappe. Nies en hoes in jou masker en hou jou arm voor jou gesig, en bly natuurlik weg van siek mense! Neem gereeld vitamiene om jou immuunstelsel te versterk."

Intussen is dit vir haar baie opvallend hoe stil die strate in Pohang geraak het. Die besigste kruising in die stad is tans "doodstil" en een van die andersins bedrywigste restaurant-strate daar is nou "'n spookstraat", beduie Marinette.

Foto: Verskaf
Foto: Verskaf
Foto: Verskaf
Foto: Verskaf

"Dit raak ook moeilik om maskers te kry; hulle is oral uitverkoop en as jy hulle wel kry, betaal jy 'n vet prys.

Omtrent die enigste gas in een van talle stil koff
Omtrent die enigste gas in een van talle stil koffiewinkels. Foto: Verskaf

"Tog is dit 'n wonderlike ervaring om in Suid-Korea skool te gee. Daar is soveel geleenthede en 'n groot behoefte aan onderwysers. 

"Dis tans maar 'n stresvolle situasie, maar ons bly positief en vat dinge soos dit kom. Ek het besluit ek bly in Suid-Korea, want hul voorsorgmaatreëls is uit die boonste rakke en ek geniet die land. Dinge sal weer na normaal terugkeer."