Volgens Stuff.co.nz, ’n digitale nuusplatform in Nieu-Seeland, het die hof in Waitakere Neil Rischbieter Woensdag skuldig bevind en tot twee jaar en twee maande tronkstraf gevonnis. 

Volgens speurder Jason Hamblyn van die Nieu-Seelandse polisie, was sy slagoffers tussen 12 en 16 jaar oud en is die misdrywe tussen 2009 en 2017 gepleeg. 

Een van die slagoffers se stiefma sê die kind se ma was besig om behandeling vir kanker te kry toe hy haar gemolesteer het.

“Sy was kwesbaar en haar ma op sterwe. Hy het geweet sy sou niemand kon vertel nie, want niemand sou haar glo nie,”  het die stiefma aan Stuff.co.nz gesê. Sy sê die gemeenskap het Neil vertrou en gerespekteer. 

“Dit het gelyk of hy regtig omgee. Hy het bejaardes en mense wat sukkel, gehelp. Dit is om van naar te word dat hy hiermee weggekom het,” sê sy. Sy sê dit het die familie verpletter en die meisie, wat nou 17 jaar oud is, se lewe verwoes. 

Volgens IOL is Neil en sy gesin in 2007 in Suid-Afrika gewelddadig aangeval. 

Hulle het kort daarna na Nieu-Seeland verhuis waar Neil as pastoor gewerk het. Hy was ook betrokke by twee sakeondernemings. 

Bronne: Stuff.co.nz, IOL