Die klein blondekop, oorspronklik van Burgersfort in Limpopo, het in 2007 in Antalya, Turkye, aan die skoonheidskompetisie deelgeneem en ook vir Suid-Afrika ’n kroon huis toe gebring.

Micaéla was een van meer as 30 deelnemers van reg oor die wêreld.

Haar ma, Mari van der Merwe, het nog destyds haar nasionale kostuum vir die kompetisie, ’n heldergeel rok met pouvere, self gemaak.

Micaéla van der Merwe is in 2007 gekroon as Klein Mej. Wêreld.

Maar Micaéla onthou nog goed watter lewenslesse haar deelname aan dié kompetisie haar geleer het.

“Dit is soveel jare gelede, maar dit het my beslis ’n ander uitkyk op die lewe gegee,” vertel Micaela (19) wat deesdae op Dullstroom in Mpumalanga woon.

“Dit (die ondervinding) het my baie gou volwasse gemaak, vir my ’n verantwoordelikheidsin aangeleer en my karakter gevorm. Maar die belangrikste is dat dit my geleer het om my voete op die grond te hou,” sê sy.

Micaéla, wat in Augustus met Riaan Botha (35), ’n siviele projekbestuurder wat deeltyds boer, getrou het, het in 2013 vir die laaste keer aan ’n skoonheidskompetisie deelgeneem. Sy het destyds al aan Huisgenoot gesê dat sy graag perdry wanneer sy nie besig is met haar tuisonderrig of modelwerk nie.

“Perde het my passie geword en ek fokus nou daarop om Arabierperde te tem en te leer. Ons is ook besig om ’n forelboerdery te begin en intussen maak ek kalfies met die bottel groot.”

Micaéla se lieflinghond Aqua was haar strooimeisie.

icaéla is ’n groot diereliefhebber, in so 'n mate dat ’n paar spesiale diere-vriende op haar troudag deel was van haar gevolg.

’n Nonnetjiesuil genaamd Heidi was die ringdraer en Aqua, Micaéla en Riaan se hond, was haar strooimeisie wat saam met haar by die paadjie afgestap het.

Volgens Micaéla is Aqua soos ’n kind in hul huis en was dit vir haar logies dat sy deel moes wees van hul spesiale dag.

Micaéla en Riaan het by The Outpost, ’n plaas buite Dullstroom afgehaak. Heidi is deur die Birds of Prey-wildlewevesting beskikbaar gestel as ringdraer.

Micaéla en haar man, Riaan Botha.

“So samel die vesting ook dan geld in,” verduidelik Micaéla. “Dit was natuurlik ’n groot verrassing vir die gaste.”

Oor die ouderdomsverskil tussen haar en Riaan sê Micaéla: “Dit pla ons glad nie, want ouderdom is net ’n nommer.”

Hoewel Micaéla vir nou op haar liefde vir perde wil fokus, is sy nog nie doodseker dat haar liefde vir modelwerk iets van die verlede is nie. Sy meen sy sal graag eendag ’n modelskool wil begin.

“En wie weet, dalk skryf ek later vir Mev. Suid-Afrika in,” sê sy.