In dié ­uittreksel uit haar nuwe boek vertel die Suid-Afrikaanse ­skrywer hoe ’n foto van haar wêreldwyd versprei is. 

Shubnum Khan het gedink sy poseer vir kunsfoto’s –
Shubnum Khan het gedink sy poseer vir kunsfoto’s – maar dit was ’n besluit waaroor sy later baie spyt was. Foto: Nurjahaan Fakey

Ek het mediastudie aan die Universiteit van KwaZulu-Natal doseer toe ek eendag in my kantoor sit en iemand sê ek moet op my Facebookmuur gaan kyk. 

My vriendin Sana in Kanada het ’n advertensie uit haar plaaslike koerant, The Globe and Mail, daar geplaas. “Is dit jy?” het sy gevra by ’n foto van ’n advertensie om immigrante na Kanada te lok.

Vriende wat reeds die foto gesien het, het opgemerk dat dit beslis soos ek lyk. Ek het die onduidelike foto onseker bekyk en toe die moesies op my wang en ken gewaar.

“Dis ek,” het ek stomgeslaan geantwoord. “Hoekom is ek in ’n advertensie in ’n koerant in Kanada?”

Niemand het ’n antwoord gehad nie. Ek was verward en woedend. Ek bedoel, ek het gedink ek kan eendag beroemd wees, maar ek het nie geweet dit kon sonder my medewete gebeur nie.

Ek het dit oorweeg om die koerant te kontak tot ’n universiteitsvriendin my herinner het dat die foto soos een lyk wat twee jaar tevore in ’n fotosessie in Durban geneem is.

Dit was genaamd die “100 Real Faces Project” en is deur ’n fotograaf van Kaapstad gereël wat aan ’n fotoprojek gewerk het. Die fotosessie is op Facebook bemark en mense van uiteenlopende agtergronde is daarheen genooi.

In ruil daarvoor is hulle ’n portret deur ’n beroepsfotograaf aangebied. Talle studente by die universiteit het ingeskryf. By die plek het ons ’n vorm onderteken wat ek veronderstel het hom toestemming gee om die foto’s vir sy portefeulje te gebruik.

Die fotograaf het drie vinnige kop-en-skouerfoto’s geneem; hy het ’n gelukkige gesig, ’n uitdrukkinglose een en ’n “mal” uitdrukking gevra en toe is ons daar weg.

’n Maand of wat later is die drie foto’s per e-pos aan ons gestuur en ek het daarvan vergeet. Tot daardie dag toe my vriendin in Kanada die koerant gesien het. My universiteitsvriendin het die fotograaf by die kommentaar bygehaak.

Hy het gesê ons het ’n foto-uitreikingsvorm onderteken en die kop-en-skouerfoto’s is nou agentskapsfoto’s wat hy verkoop het en dit sal af en toe in plekke opduik.

Ek het nie geweet wat om te sê nie, want ek het inderdaad ’n dokument onderteken, maar ek het regtig gedink dit was om toestemming te gee dat hy die foto vir sy portfeulje mag gebruik.

Niemand het in enige stadium ’n woord gerep dat dit as agentskapsfoto’s verkoop sou word nie. Ek het by my vriende navraag gedoen en hulle het dieselfde ding gesê. Ek het verbysterd ’n omgekeerde foto-soektog op Google gedoen (deur die foto op images.google.com te laai) en die resultate het my geskok.

My foto’s het in advertensies reg oor die wêreld verskyn – vir oogroom, velbleiking, grimering, pigmentasie, aknee, laserbehandeling en tandheelkunde.

Haar gesig is digitaal gedokter om ’n velroom te a
Haar gesig is digitaal gedokter om ’n velroom te adverteer.

Ek was in advertensies vir die bankwese, versekering, die reklamebedryf, bestuurswese en die onderwys. Ek het matte in New York verkoop, reispakkette in Kambodja en immigrasie in Uruguay en Kanada bemark.

Ek was op die voorblaaie van tydskrifte en handboeke. My naam, nasionaliteit en ras is na willekeur verander; ek was Bonney Seng in Kambodja, Phoebe Lopez en Chandra S. in Amerika en ’n vrou op soek na haar “ridder op die wit perd” op ’n Franse afspraakwebtuiste in Marokko.

Maar die ergste van alles was dat ek met al hierdie veranderde name dienste en produkte aanbeveel het wat ek nog nooit self beproef het nie.

Die advertensies wat my werklik bekommer het, was dié waarby kinders betrek is; op ’n pleegsorgwebtuiste gee ek ’n getuigskrif vir ’n pleegsorgmaatskappy en word as ’n onderwyseres by ’n webtuiste vir aanlyn onderrig voorgehou.

In ’n advertensie vir ’n room genaamd Dermolyte is die onvolmaakthede op my vel op die uitdrukkinglose foto digitaal beklemtoon vir die “vooraffoto”, en op die “agterna-foto” van my glimlaggende gesig is my vel digitaal vlekkeloos gedokter.

Onderaan die foto’s getuig “Dina M”: “Ek het verskriklike melasma en verkleuring ná my swangerskap gehad. Dermolyte het my gehelp.” Ek het nie geweet wat melasma is nie, maar die advertensie was so oortuigend dat ek dit byna wou beproef.

In ’n Instagramadvertensie vir pille om die vel ligter te maak, Ivory Caps, is my vel op die foto’s van donker na lig gedokter. As Bonney Seng was ek ’n toerleier in Kambodja en as Kelsie van Arizona vertel ek van my gesin se lekker verblyf op ’n villa-landgoed in Florida, Amerika.

Die advertensies wat my werklik bekommer het, was dié waarby kinders betrek is; op ’n pleegsorgwebtuiste gee ek ’n getuigskrif vir ’n pleegsorgmaatskappy en word as ’n onderwyseres by ’n webtuiste vir aanlyn onderrig voorgehou.

My vraag is: Wie versorg en onderrig werklik hierdie kinders? As ’n onderwyser daar klasgee, waarom moet hulle iemand anders se foto gebruik? Is hulle net regtig lelik en lyk vreesaanjaend? Of steek iets meer sinisters daaragter? Waar eindig die persona en kom die werklike mens na vore? Met wie praat mans op die afspraakwebtuiste?

Dis beslis nie ek nie. En as hulle haar wil ontmoet, raak my alter ego skaam en verdwyn sonder ’n woord?

Toe die storie bekend word, het mense my gekontak en vertel hulle het my in menslikehulpbronbrosjures, kursusgidse, sielkundehandboeke, rugbykompetisies, maatskappyriglyne in Ierland, advertensieborde langs die snelweë in Amerika, universiteitsmateriaal in Kenia, bushaltes in Londen, in romans, in skoolhandboeke en selfs in McDonald’s-advertensies in China, Indië en Suid-Korea gesien. 

Ek het dit eers afgelag, want ek het nie die omvang daarvan besef nie en dit was nogal snaaks. Ek het dit afgemaak as ’n fout waarvoor ek nou betaal omdat ek dom genoeg was om iets te onderteken sonder om behoorlik te begryp wat dit was. Maar toe my foto mettertyd ál meer opduik, het ek besef daar’s ’n wêreld daar buite waar mense, veral mans, veral wit mans, vroue, veral bruin en swart vroue, uitbuit.

Die fotograaf het ons mislei en ’n hele versameling verskillende gesigte en gesigsuitdrukkings gekry om aan agentskappe te verkoop sonder om ons ’n sent te betaal.

Shubnum se naam en identiteit is gereeld verander.
Shubnum se naam en identiteit is gereeld verander.

Ek het later uitgevind hy het ’n verstommende 330 voorleggings uit hierdie fotosessie gekry. Verskillende mense het na vore gekom om te sê hulle het ook nie geweet hul foto’s sou vir ’n agentskapsfotoversameling gebruik word nie.

Almal met wie ek gepraat het, het gesê hulle het geglo dis vir ’n “kunsprojek” en dat dit so op Facebook aangebied is. Een persoon het vertel toe hy die fotograaf vra om die verkoop van sy foto aanlyn te staak, het hy gehoor hy sal hom daarvoor moet betaal.

Maar wat van die “portrette” wat ons in ruil daarvoor beloof is? Ons is aangesê om ons nie uit te vat, ons hare te doen of grimering te dra nie.

Dit was nabyfoto’s en die fotograaf het toe hy hulle aan my gestuur het, gesê hulle is “geredigeer om foutjies te beklemtoon en alle onvolmaaktheid na vore te bring”.

Dus is daar nie net foto’s van my sonder my toestemming wêreldwyd versprei nie; dit is ook geredigeer om sleg te lyk. Ek het al rusies op fotografieforums gesien waar fotograwe sê ons is betaal, want ons het in ruil daarvoor portrette gekry wat deur beroepsfotograwe geneem is.

Kom ek stel dit duidelik – niemand sal ooit foto’s van hulself gebruik wat so lyk nie. Ek het die fotograaf per e-pos gekontak en vir hom gesê al is ek daarvan bewus dat ek ’n dokument onderteken het, het ek my nie hiervoor ingelaat nie en ek kan nie meer die misbruik van my foto aanlyn ignoreer nie.

Ek het verduidelik ek verskyn in advertensies waarvoor hulle my naam verander het, valse getuigskrifte gebruik en my gesig geredigeer het en ek wil hê my foto’s moet verwyder word.

Sy antwoord was dat dit alles by die fotosessie verduidelik is en dat ek van die regte afstand gedoen het wat “verwringing van karakter en vorm, insluitend die gebruik van vals name”, betref.

Tog het hy ingestem om dit te verwyder, hoewel hy my gewaarsku het dat foto’s wat reeds verkoop is weer kan opduik.

Toe die gier vir volmaakte Instagram-foto’s ál gewilder word, het ek in ’n Twitter-inskrywing van my ervaring vertel om ander te waarsku teen gratis fotosessies en dat hulle die kontrakte versigtig moet lees.

Shubnum met haar debuutroman, ­Onion Tears, wat in
Shubnum met haar debuutroman, ­Onion Tears, wat in 2011 gepubliseer is.

Ek het dit getitel: “Hoe my gesig in ’n McDonald’s-advertensie in China beland het – ’n woord van waarskuwing”.

Die inskrywing het dadelik soos ’n veldbrand versprei. Mense reg oor die wêreld het begin kommentaar lewer en vertel dat hulle my by hul universiteite gesien het, in hul handboeke en in maatskappybrosjures.

’n Man in Indië het my selfs bedank, want hy het my getuigskrif vir materiaal vir ’n bestuurskursus vir sy graad gesien en hy is nou gekwalifiseer en verdien ’n goeie inkomste. Twitterpersoonlikhede in die media, politiek en musiekbedryf het die storie gedeel.

Selfs Monica Lewinsky het dit hertwiet en dit ’n “fassinerende inskrywing oor identiteitsdiefstal deur manipulasie” genoem. CNN en die BBC asook koerante, webtuistes en radiostasie het onderhoude met my gevoer en dit het wêreldwyd verskyn – Ierland, Hongarye, Engeland, Denemarke, Indië, Finland, Argentinië, Brasilië, Amerika, Indonesië, Australië en Kanada inkluis.

By ’n Kanadese radiostasie het ’n vervaardiger net voor die begin van die regstreekse uitsending vir my gesê: “Hulle noem jou die interessantste vrou ter wêreld.” Ek is seker jy wonder hoe ek al hierdie skielike aandag hanteer het.

Wel, ek het ineengestort. Vir eers het my lewe ontplof op ’n manier wat ek nie kon hanteer nie. Ek is die soort mens wat geen ongeleesde e-posse in my inmandjie het nie. Ek moet altyd in beheer van alles wees. Ek moet voorbereid wees. En skielik het ek geen beheer oor enigiets gehad nie.

Daar was soveel hertwiets, kommentaar, vrae en versoeke vir onderhoude dat dit my oorweldig het. Weet jy hoe dit voel om ’n stortvloed boodskappe van vreemdelinge te kry wat lui: “Jy’s wonderlik!”, “Jy’s ’n dwaas!”, “Jy moet ’n prokureur kry!”, “Jy soek aandag!”, “Jy is so dom!” Dis vreesaanjaend.

Veral as jy nie jou taamlik konserwatiewe pa behoorlik ingelig het oor die hele gedoente dat jy jou gesig per ongeluk vir mense weggegee het om daarmee te doen wat hulle wil nie.

Skielik het Oprah se beste vriendin, Gayle King, my naam op televisie genoem. Ek het die internasionale koerante gehaal en radiostasies het die rockgroep Nickelback se liedjie “Photograph” gebruik om my voor te stel. (Ek moet erken, dit was nogal snaaks.)

As iemand wie se brein in die hoogste versnelling aan alles werk, kon ek dit nie hanteer nie.

Toe die Twitter-inskrywing so vinnig begin versprei, het ek in die sosiale media aangekondig ek gaan ’n blaaskans neem en twee dae lank niemand antwoord nie.

Ek het net met my susters en beste vriende gepraat. Dit het my ontstel dat ek in die nuus was, nie oor ek iets bereik het soos om ’n goeie boek te skryf, of omdat prins Harry smoorverlief op my geraak het, of omdat ek iets bereik het deur harde werk nie.

Ek was in die nuus omdat ek die gek was wat nie behoorlik verstaan het wat ek onderteken nie en my gesig gratis weggegee het. My vyf sekondes van roem was omdat ek dwaas was.

’n Deense radiostasie het my gevra of dit vir my vleiend is om in soveel advertensies te verskyn. Ek het nee gesê, want dis nie asof ek in koel advertensies was nie. Ek was in advertensies vir room teen oogsakkies, akneeprodukte vir swanger vroue en tandbleiking.

Derdens het dit vir my begin voel asof ek weer gebruik word. Ek was net ’n vermaaklike nuusstorie. Ek weet mense sê enige publisiteit is goeie publisiteit, maar ek het nie hierby baat gevind nie.

Ek het toe niks gehad om te bemark nie; my eerste roman was uit druk en ek was veronderstel om ’n tweede een te voltooi.

Ál ding wat ek ooit werklik uit hierdie fiasko gekry het, was ’n storie om Amal Clooney – my heldin – mee te vermaak as ek haar ooit sou ontmoet, en hierdie storie wat jy in my boek lees wat pas gepubliseer is. En dankie tog daarvoor.

Sê asseblief vir ander om hierdie boek te koop sodat ek nie voel my agentskapsfoto-ervaring het geen doel gedien nie. Ek weet nie wat die ware omvang daarvan is of op hoeveel plekke my foto’s verskyn het nie, maar ek weet dis omvangryk.

Die fotograaf sê hy hou nie rekord van individuele verkope nie, maar ek dink hy is ál een wat werklik weet hoe ver dit strek. Ek is al gevra of ek weet hoekom my gesig so gereeld gebruik is, en ek vermoed daar is ’n paar redes. 

Ek dink dié spesifieke foto is vaag wat ras betref, so dit kan maklik een van ’n paar rasse wees: Suid-Asiaties, Suid-Amerikaans, Arabies, Asiaties en Kaukasies, wat by talle markte kan aanklank vind. Daarom dink ek het dit in soveel verskillende lande en in soveel immigrasieadvertensies verskyn.

Dit verteenwoordig basies die immigrant verpak op ’n vae, maar belangriker nog, skadelose manier – ek is ’n glimlaggende jong meisie wat op ander rasse dui, maar nie heeltemal anders lyk nie, en daarom “die goeie immigrant” uitbeeld. Dan is dit boonop ’n foto van ’n jong glimlaggende vrou – iets waarmee adverteerders al sedert die antieke tyd klante probeer lok.

Party onderhoudvoerders het gesê dit beteken my gesig moet uniek wees as soveel maatskappye dit vir hul advertensies kies, maar ek het deur die jare besef my gesig is algemener as nog ’n Spider-Man-fliek.

Ek kan nie eens begin verduidelik hoeveel keer in my lewe ek al moes hoor ek lyk soos ander mense nie. By ’n boekefees in Indië het iemand my vir die Bangladesjiese romanskrywer Tahmima Anam aangesien, by ’n restaurant is ek met die Indiese aktrise Deepika Padukone verwar, en ek moes al telkemale hoor: ‘Jy lyk nes . . . ’

Dit het name ingesluit soos die Amerikaanse politikus Alexandria Ocasio-Cortez, Hannah Simone van New Girl en verskeie persoonlikhede van Singapoer, China, Teloegoe en Indië.

MENSE MET WIE SHUBNUM VERWAR IS 

Shubnum lyk glo soos verskeie bekende mense.
Shubnum lyk glo soos verskeie bekendes. Foto: Verskaf

Ek hoor dikwels ek lyk soos ’n dosent by die Universiteit van Edinburgh wat gereeld op CNN praat, en meer onlangs het ek gehoor ek lyk net soos die Suid- Koreaanse vrou wat mungboontjie-pannekoeke by die Gwangjangmark in Netflix se Street Food Asia verkoop.

En al is dit vleiend om met sulke lieflike vroue vergelyk te word, as jy dit genoeg hoor, begin jy wonder of jy nie dalk die soort gesig het wat soos al die ander s’n lyk nie.

Die ding is geeneen van hierdie vroue trek na mekaar nie. Hoe kan ek dan soos hulle almal lyk? En dit help eerlikwaar nie om met fantastiese aktrises vergelyk te word nie, want hulle doen alles in hul vermoë om nie ouer te lyk nie. En ek? Ek kan nie eens vitamien C-serum ’n paar uur op my gesig hou nie.

Van links: Alexandria Ocasio-Cortez, Hannah Simone
Van links: Alexandria Ocasio-Cortez, Hannah Simone, Olga Kurylenko en Deepika Padukone. Foto's: Gallo Images/Getty Images

Wanneer ek begin verouder, wil ek nie meer die vergelykings hoor nie. Mense gaan na my toe begin kom en sê: “Hei, weet jy soos wie lyk jy?

Deepika Padukone se ma”, en van daar af sal dit net ál erger word. Wanneer Alexandria Ocasio-Cortez eendag die Amerikaanse president word, gaan mense sê ek lyk soos haar ouma (maar as sy wel president van Amerika word, dink ek ek sal dit kan hanteer).

Ten spyte van die gekheid van die drama met die agentskapsfoto’s dink ek as die storie een mens, veral een vrou, twee keer laat dink voor sy aan ’n gratis fotosessie deelneem of iets onderteken wat haar kan uitbuit, was die hele ervaring die moeite werd. Al het dit beteken dat ek ’n paar wooneenhede in Florida, Amerika, moes verkoop.

 How I Accidentally Became a Global Stock Photo an
How I Accidentally Became a Global Stock Photo and Other Strange and Wonderful Stories deur Shubnum Khan.
  • Dit is ’n uittreksel uit How I Accidentally Became a Global Stock Photo and Other Strange and Wonderful Stories deur Shubnum Khan, Macmillan, R249 by takealot.com
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe