Die impak van die uitbraak van COVID-19 het die wêreld in ’n wurggreep en Suid-Afrika is geen uitsondering nie.

Sedert pres. Cyril Ramaphosa Sondagaand algehele inperking aangekondig het, heers daar onduidelikheid oor sekere aspekte van die reëls rondom selfisolasie.

Vele Suid-Afrikaners wou weet of hulle steeds in die buitelug sou kon oefen of met hulle troeteldier kan gaan stap.

Dit sal nie ’n probleem wees as mense met hul honde wil stap, draf of winkels toe gaan nie, het Zweli Mkhize die minister van gesondheid vanoggend op Twitter gesê: “Die idee met afsondering is om te keer dat groot groepe mense saamdrom.”

Maar in ’n laatmiddag mediakonferensie het die polisieminister, Bheki Cele, dit duidelik gemaak dat die regering dit heroorweeg het en dat diereliefhebbers nie toegelaat sal word om met hul honde te gaan stap nie.

Zweli het ook gesê die situasie was vanoggend anders daarna en dat niemand van Donderdag middernag af buite sal mag draf of met hul honde kan stap nie.

Die polisieminister het verder afgekondig dat dit verbode sal wees om by jou bure te gaan kuier.

Hy het ook afgekondig dat alle openbare parke, strande, vlooimarkte, nagklubs, hotelle, gastehuise, wildtuine en oorde moet sluit.

Suid-Afrikaners sal ook vir 21 dae nêrens alkohol kan koop nie.

Die minister van binnelandse sake, Aaron Motsoaledi, sê in die tyd sal sy departement ook net tydelike ID-dokumente, geboorte- en doodsertifikate uitreik.

Metrorail en die Gautrain sal gesluit wees tot 16 April, maar minibusse en Uber-taxi’s wat werkers wat noodsaaklike dienste lewer, vervoer, mag ry tussen 05:00 en 09:00 en weer vanaf 16:00 tot 20:00.

Binnelandse en internasionale vlugte word opgeskort.

Indien jou bestuurslisensie in die tydperk verval, sal dit as geldig beskou word tot wanneer dienste heropen.