SA sluit om middernag: So is die res van die wêreld ingeperk

akkreditasie
Leiers wêreldwyd luister blykbaar toenemend na kundiges se dringende pleidooie vir drastiese stappe om COVID-19 hok te slaan. Suid-Afrikaners sal van vanaand af deel wees van ’n ongehoorde gedeelte van die wêreldbevolking wat tot inperking oorgaan.

Met groot dele van Europa wat reeds tuis moet bly, het Indië nou ook sy reusebevolking van 1,34 miljard ingeperk. Volgens AFP sal 2,6 miljard mense wêreldwyd, dus sowat ’n derde van die wêreldbevolking van ongeveer 7,8 miljard, teen vandeesweek ingeperk wees.


"Om Indië te red, om sy burgers, jou en jou familie te red, word elke straat, elke buurt onder inperking geplaas," het premier Narendra Modi verklaar.

"As Indië nie dié 21 dae reg hanteer nie, sal dit ons land 21 jaar terugsit. Ons sal almal die ekonomiese koste hiervan moet dra, maar dis elkeen se verantwoordelikheid."

Die aankondiging volg ná ’n skielike toename in die voorkoms van COVID-19 in die land met ’n groot aantal wat in armoede leef – coronagevalle het die afgelope dae na sowat 690 gevalle en 13 sterftes opgeskiet.

EUROPA STEIER, MAAR STAPPE IN CHINA KAN VERSAG WORD

Europa bly die huidige episentrum van die pandemie. Spanje het byvoorbeeld op 24 Maart op ’n enkele dag 514 sterftes aangeteken. Teen 26 Maart het hul COVID-19-syfers op meer as 49 000 gevalle en sowat 3 600 sterftes te staan gekom. 

Italië (meer as 74 000 gevalle) is die land wat wêreldwyd die swaarste getref is wat sterftes betref – sowat 7 500 is reeds teen 26 Maart daar aangeteken, meer as twee keer soveel as China, die oorsprong-land wat vroeg drastiese maatreëls teen verspreiding ingestel het.

China beoog nou om inperkingsmaatreëls in Wuhan, die stad waar die wêreldkrisis ontstaan het, teen 8 April op te hef.

OORWEEG DIÉ RISIKO AS JY VERMANINGS TEEN KOOPSTORMLOOP WIL IGNOREER

Intussen moet Suid-Afrikaners wat beplan om by winkelstormlope aan te sluit voor die inperking vanaf middernag op 26 Maart toegepas word, hulself eerder bedink. 

Gallo Images/Getty Images
Gallo Images/Getty Images

Kenners soos Dan Kriek, die onlangs uitgetrede AGRI SA-hoof, landbou-ekonome en groot supermarkgroepe het reeds telkens benadruk paniekaankope is heeltemal onnodig: Suid-Afrika het van die beste voedselsekerheid en verskaffingskettings en baie goeie landbouproduksie-uitsette word boonop hierdie seisoen verwag.

Benewens sulke feitelike vermanings moet mense ook in ag neem die risiko is juis groter dat hulle in groot samedrommings by winkels aan die coronavirus blootgestel kan word.

Dit maak dus ook uit ’n voorkomingsoogpunt sin om eerder te wag tot dinge in die komende dae bedaar voor jy weer vir noodsaaklike items winkel toe koersvat. 

Bronne: who.int, AFP, sacoronavirus.com, agrisa.co.za, News24

Jongste uitgawe

28 Oktober 2021

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees