“Dit is ’n reuseverligting,” sê André Wilkens (34) aan Huisgenoot. “Die laaste tyd was baie stresvol en dit vat aan jou. Ons hoop net alles verloop glad."

Die SAL-vlug om hulle na Suid-Afrika te repatrieer toe sal na verwagting Sondagoggend uit Indië vertrek.

André is ’n kommersiële diepseeduiker van beroep. Hy woon in Kaapstad, maar werk al die afgelope agt jaar vir maande aaneen in die buiteland. Hy het reeds op 13 Maart in Moembai, Indië se grootste stad, aangekom om die boot te haal waarop hy sou werk.

Hy het probeer om ’n vlug Suid-Afrika toe te kry toe hy agterkom die pandemie is besig om oral oor die wêreld tot inperkings te lei, maar die eerste vlug was op 27 Maart.

Op 25 Maart het die hele Indië binne vier uur in ’n inperking ingegaan.

André Wilkens
André Wilkens is tans in Indië gestrand, maar sien uit om huis toe te kom. Foto: Verskaf

André het in ’n hostel gebly met die geselskap van drie ander Suid-Afrikaners. Hy erken die dae het lank geraak en die frustrasie groot aangesien hulle nooit ’n duidelike antwoord van die Suid-Afrikaanse regering kon kry oor vlugte huis toe nie.

Toe hulle enidelik die groen lig kry, moes Suid-Afrikaners wat in ander dele van die land is, skarrel om die nodige permitte te kry sodat hulle tot in Moembai kan reis om die vlug te haal.

André is die administrateur van ’n WhatsApp-groep wat al die Suid-Afrikaners in kontak hou. Daar is omtrent 150 mense op die groep en hy skat 90% van die mense op die groep gaan op die vlug wees. Dit wissel van mense wat met vakansie was, vir familie gaan kuier het en in die land was om mediese prosedures te ondergaan. 

“Ek dink baie mense se familie moes help betaal aan vliegtuigkaartjies.

“Dit gaan baie emosioneel wees om almal te sien aangesien ons al so lank met mekaar praat en ek almal se stories ken, maar hulle nog nooit in persoon ontmoet het nie.”

Wanneer hulle in Suid-Afrika kom, sal die groep twee weke lank in isolasie geplaas word, maar hulle weet nog nie waar dit sal wees nie.

“Ons sal seker in die bussie op die lughawe hoor waarheen ons gaan. Ek gee nie om nie,” sê André. “Al wat ek wil doen is om by die huis te kom.”

Hy kan nie wag om weer rooivleis en biltong te eet en sy meisie te sien nie.

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitter en Facebook en teken gerus in op ons nuusbriewe.