Ná jare se informele geselsies, kommentaar hier en daar en ’n ses uur lange telefoongesprek in Januarie, het die twee mekaar eindelik in Februarie vanjaar vir die eerste keer ontmoet toe Kim-Lisa Gad Florida toe gevlieg het om vir Christian Salafia, 'n ingenieursbestuurder, te gaan kuier. 

In Maart het sy teruggekeer, dolverlief. Die twee het reeds planne gehad om mekaar weer in Mei te sien. Dié keer sou Christian in Kaapstad kom kuier, maar hulle het ook die bal aan die rol gesit vir hom om die nodige papierwerk te doen om eindelik Suid-Afrika toe te trek. 

Maar sedert die covid-19-pandemie en die inperking in Maart die wêreld op sy kop gekeer het, moes hulle die baie moeilike gesprek voer en mekaar afvra of hierdie verhouding die moeite werd is? Moet hulle aanhou vasklou, al weet hulle nie wanneer hulle weer in mekaar se arms sal kan wees nie?

Christian het vir Kim-Lisa verras met 'n besoek aan die
Christian het vir Kim-Lisa verras met 'n besoek aan die Kennedy-ruimtesentrum toe sy hom in Februarie besoek het.

“Vir ons, omdat ons in ons veertigs is, besef ons hierdie is ons tweede kans op geluk en ons heg waarde aan dit wat ons in mekaar gekry het. So ons is in hierdie verhouding op die lang duur, maak nie saak wat dit verg nie,” vertel Kim-Lisa, 'n inligtingstegnologie-spesialis.

Hulle het gou agtergekom hulle is nie die enigste paartjie wat op verskillende kontinente sit nie en het deel geword van ’n beweging wat bekend staan as #LoveIsNotTourismSA. Dié groep beywer hulle om paartjies wat in internasionale langafstandverhoudings is, te herenig. 

In die stadium met die beperkings op vlugte en met Suid-Afrika se grense wat gesluit is, word net Suid-Afrikaanse burgers of mense met ander goedgekeurde visums (soos vir werk of ’n huweliksvisum) van ander lande gerepatrieer. 

“Ons het nie daardie luuksheid nie, want ons is nie getroud nie,” sê Kim-Lisa. 

“Daar is niks wat ons meer wil hê as die kans om mekaar weer te sien nie. Dit is vyf maande sedert ons mekaar gesien het en die onsekerheid van wanneer ons mekaar weer sal kan sien en vashou, is verlammend,” vertel Kim. 

“Ons is albei geskei en ons weet hierdie is ons tweede kans op geluk. Ons word ook nie jonger nie. Ons het saam aan ’n toekoms beplan en nou is daardie toekoms baie onseker. Elke dag wat ons uitmekaar is, raak net moeiliker om te verduur,” sê sy verder. 

Kim-Lisa kuier in Florida. Foto verskaf
Kim-Lisa kuier in Florida. Foto verskaf

Ten spyte van die enorme uitdaging van verskillende tydsones en groot afstand, probeer Kim en Christian om steeds moeite met mekaar te doen. 

“Ons gaan op virtuele afsprake en bring tyd saam met mekaar deur. Ons het klein roetines wat ons albei volg om ’n bietjie konsekwentheid te hê en om ons toewyding aan die verhouding te wys,” vertel Kim.

Sy verduidelik dat hulle elke dag omtrent twee uur lank met mekaar gesels. 

“Ons stuur elke dag vir mekaar goeiemôre- en goeienag-boodskappe sodat die ander persoon daarmee kan wakker word. Ons kyk ook op Saterdae en Sondae flieks op Netflix deur ’n video-oproep,” vertel sy oor die planne wat hulle maak. 

“Al die gesprekke wat ons al gehad het, het net versterk hoeveel waarde ons aan mekaar en aan die verhouding heg en hoe graag ons bymekaar wil wees. Maak nie saak wat dit vat nie.”

Volgens die organisasie Love is not tourism se webtuiste het lande soos Denemarke, Noorweë, Nederland, Oostenryk, Switzerland en Ysland paartjies in langafstandverhoudings, waarvan een persoon in 'n ander land woon, toegelaat om te herenig.

The Telegraph berig dat paartjies in Nederland sedert Julie kan herenig as hulle 'n "liefdeskontrak" het wat bewys is dat die paartjie al vir langer as drie maande in 'n verhouding is. So 'n liefdeskontrak bestaan uit onder meer 'n verklaring dat 'n paartjie in 'n verhouding is en ander bewyse soos foto's, skermgrepe van boodskappe en sosialemedia-interaksie om die verhouding te staaf. 

In Denemarke het die regering 'n "liefling-visum" (sweetheart visa) geskep vir paartjies wat kan bewys dat hulle al meer as ses maande saam is, berig Insider.com

Meer as 1600 mense het al die petisie op die webtuiste Change.org in Suid-Afrika geteken om die saak te steun. 

Die departement van internasionale betrekkinge en samewerking (Dirco) het nie op navrae om kommentaar gereageer nie. 

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe