Mondelea by haar man Donavon en hul kinders, Donna
Mondelea by haar man Donavon en hul kinders, Donna en Damien. Foto: Verskaf

Mondelea Bezuidenhout (35) van Gqeberha het in 2018 saam met haar man, Donovan (34), en haar twee kinders, Donna (nou 10) en Damien (nou 3), na Nieu-Seeland geïmmigreer.

Maar nou is daar ’n moontlikheid dat sy na Suid-Afrika teruggestuur kan word omdat daar tydens ’n mediese ondersoek vir immigrasiedoeleindes bevind is haar liggaamsmassa-indeks (LMI) van 47,8 plaas haar in die “ernstige risiko”-kategorie.

Dié bevinding kan beteken dat Mondelea en haar gesin dalk nie verblyfreg in die land sal kry nie.

“Ek was heeltemal verpletterd toe ek dit hoor,” het Mondelea aan Huisgenoot gesê vanuit haar tuiste in Palmerston North. “Alles was in my hande en om die waarheid te sê, dit het my aaklig laat voel. Party nagte het ek net gevoel ek wil nie meer hier wees nie. Dit was ’n donker tyd.”

De Bezuidenhouts het na Nieu-Seeland verhuis toe Donovan, wat ’n hoë-spanningselektrisiën is, daar ’n werksaanbod aanvaar het.

Die ma van twee het 15,5 kg verloor na sy drie kee
Die ma van twee het 15,5 kg verloor na sy drie keer per week oefen. Foto: Verskaf

Toe die paartjie, wat reeds 13 jaar lank getroud is, vir hul werkvisums aansoek gedoen het, het Mondelea 150 kg geweeg. Volgens haar was daar geen sprake van enige liggaamsmassa-indeksvereistes op enige van die vorms nie.

 
“Nêrens het hulle gesê: ‘O, as jy wil aansoek doen moet jy ’n sekere gewig wees,’ nie. Ek het van die LMI-situasie gehoor, maar niemand het dit aan my bevestig nie. Ek het gedink dis bloot stories.

“Daar word ook nêrens op die immigrasie-webtuiste enigiets genoem van ’n vasgestelde LMI nie. Dit sê bloot jy moet in goeie gesondheid verkeer.”

Nadat Mondelea en Donovan reeds ’n jaar in Kiwiland gewerk het, het hulle besluit om vir verblyfreg aansoek te doen. Ses maande later is hulle deur ’n immigrasiebeampte gekontak. Hulle is gevra om basies inligting, soos bewyse van hul verhouding, hul gesamentlike rekeninge en bewyse dat hulle ook in dieselfde huis bly, te verskaf.

“Ons het eers op 18 Mei 2020 weer van hulle gehoor. Hulle het vir ’n verslag van my dokter gevra, maar hulle het niks genoem van my LMI nie. Hulle het bloot vir ekstra dokumentasie van die dokters gevra.”

Mondelea se dokter meen haar gesondheid is goed.
Mondelea se dokter meen haar gesondheid is goed. Foto: Verskaf

Mondalea, wat as ’n kliëntediensverteenwoordiger vir ’n regeringsagentskap werk, het haar gesondheidsinligting verskaf, insluitend haar gewig. Sy het daarna van die immigrasiebeampte gehoor dat haar gewig nie ’n “aanvaarbare gesondheidstandaard volgens LMI” was nie.

“Hulle het my drie maande gegee om na leefstylveranderinge te soek,” vertel Mondalea. Sy sê sy was reeds op ’n gewigsverliesprogram toe sy die nuus gehoor het.

“Ek het nog altyd betreklik gesond geëet. Baie mense dink jy eet onophoudelik omdat jy vet is, maar dis nie die geval nie,” sê sy.

Sedert die uitspraak van die immigrasiekantoor het Mondelea reeds 15,5 kg verloor nadat sy ’n streng eetplan begin volg het en drie keer per week in die gimnasium was. Haar dokter het ook ’n verslag geskryf waarin hy noem dat sy in goeie gesondheid verkeer.

Tog, ten spyte hiervan, hou die immigrasiekantoor steeds voet by stuk: Haar gesondheid is nie volgens ’n aanvaarbare standaard nie.

“Hulle sê ek sal ’n risiko wees vir die openbare gesondheidstelsel. Om eerlik te wees, dis asof hulle God speel, maar ek kan ook verstaan dat dit bloot die manier is waarop hulle dinge uitwerk.”

Tydens ’n onderhoud net die webtuiste Stuff het ’n immigrasie-woordvoerder gesê “vetsug alleen is nie ’n grondige rede om ’n aansoek tot verblyfreg af te keur nie. Maar die verwydering van ’n galblaas in 2013 en spanningshoofpyne wat chirurgie tot gevolg gehad het, was getuienis dat haar vetsug die openbare gesondheidstelsel duur sou kos.”

“My galblaas is in 2013 in Suid-Afrika verwyder,” bevestig Mondelea. “Maar dit is nie te sê dat dit verband gehou het met vetsug nie. Maar dan, ongelukkig word alles met vetsug verbind as jy vetsugtig is.”  

Die moontlikheid dat die gesin na Suid-Afrika moet terugkeer, is “skrikwekkend” vir haar en haar gesin, veral noudat hulle gevestig is in Nieu-Seeland en die kinders gelukkig is in hul skole.

“Na wat moet ons teruggaan? Daar is niks waarheen ons kan terugkeer nie. Hoe gaan ons weer werk kry?

“Ons het nie meer ’n huis om in te bly nie, ons het alles verkoop,” sê Mondelea.

Sy en haar man het nou vertoë gerig aan die immigrasie- en beskermingstribunaal van Nieu-Seeland in die hoop dat hulle hul aanvanklike beslissing sal heroorweeg. Intussen is daar ’n tydelike visum vir ’n verdere ses maande aan die gesin toegestaan.

“Wanneer jy vetsugtig is, dink  baie mense jy staan nie vir jouself op nie omdat jy nie selfvertroue het nie, of dat jy skaam is, onderdruk en depressief voel, en dat jy nie met mense wil praat nie. Ek is nie bang nie; ek kan enigiets doen wat ander kan doen. My vet vat niks van my af weg nie.”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe