Die vrou, wat 32 weke swanger is en net as Me. Li van die Chinese hawestad Guangzhou naby Hong Kong geïdentifiseer is, is op 26 Augustus hospitaal toe met pyn links bo in haar buik en in haar rug. Sy was ook naar. 

vet uitsuig, swanger vrou
Een van die sakke vet wat uit die bloed van ’n swanger vrou gefiltreer is. Foto: Newsflash/Magazinefeatures.co.za

Sy het glo mank geloop toe sy met die steun van haar gesin by die Clifford-hospitaal se verloskunde-kliniek aankom nadat sy haar twee dae lank aan gebraaide hoender en vark ooreet het. 

Die personeel was verstom toe bloedtoetse toon sy het meer as 25 keer die normale vlak van vet in haar bloed.

Akute pankreatitis weens hiperlipedemie (te veel vet in jou bloed) is by haar gediagnoseer.

vet uitsuig, swanger vrou
Foto: Newsflash/Magazinefeatures.co.za

Dit kon maklik tot veelvuldige orgaanversaking en verskeie ander probleme gelei en die ma en baba se dood veroorsaak het. Sy is na die waakeenheid gestuur waar ’n mediese span ’n totale plasmauitruiling uitgevoer en sakke gefiltreerde vet uit haar bloed verwyder het. 

Op 29 Augustus het haar bloed na ’n veiliger vlak gedaal en sowel ma as baba het oorleef. Sy het sedertdien kos ryk aan kilojoules afgesweer, maar die waakeenheid se direkteur, Liu Yunsong, wys daarop dat hiperlipedemie eerder met haar genetika te doen het en nie gaan oor oorgewig wees nie. 

Volgens Liao Dongxia van die verloskundedepartement aan die Clifford-hospitaal kan akute pankreatitis enige tyd tydens swangerskap en ook daarna voorkom, berig Sina. 

vet uitsuig, swanger vrou
Foto: Newsflash/Magazinefeatures.co.za

Cholesterol en trigliseriede word in die vroeë stadium van swangerskap deur estrogeen en progesteroon beïnvloed en sal tot sowat 30% hoër as normaal toeneem en in die laaste deel van die swangerskap ’n spits bereik. 

In dié stadium kan die oormatige inname van vet en kos ryk aan kilojoules maklik tot oormatige bloedlipiede lei.