“Toemaar, ouma se kind,” troos die vrou besorg en druk ’n fopspeen in die soekende mondjie van die bondeltjie toe daar ’n geluidjie uitkom.

Dié liefdevolle gebaar laat die twee maande oue Kgopotso onmiddellik weer rustig raak en sy slaap snoesig verder, nes haar tweelingsussie, Mmadi, langs haar.

Maar dan kry hul twee ouer boeties ’n foon in die hande en speel kliphard musiek, wat byna hierdie rustige huislikheid versteur. Hul pa, Samuel Nonyane (43), gryp net betyds in en jaag die twee oulike woelwaters, Karabo (4) en Lucky (7), buitentoe.

Noudat alles weer rustig is, kan die enkelpa verder gesels oor die traumatiese, uitdagende pad wat hy die afgelope paar weke saam met sy gesin gestap het.

Langs hom sit Alett van Zyl, die Krugerdorpse vrou wat oor sy pad gekom en gehelp het toe hy dit nodig gehad het. Dis danksy haar, asook die welwillendheid van Suid-­Afrikaners landwyd, dat Sam en sy gesin ná al die hartseer van die afgelope twee maande weer vorentoe kan kyk.

Nuwe woonplek

Die twee woelwaters Karabo en Lucky speel met hul
Die twee woelwaters Karabo en Lucky speel met hul nuwe speelgoed. Foto: Lubabalo Lesolle

Sam, soos sy vriende hom noem, wys ons trots rond in die nuwe woonplek in Muldersdrift buite Johannesburg wat sy werkgewers vir hom en sy kinders beskikbaar gestel het. Die vloere het ’n nuwe vinielbedekking en die meeste van die mure is geverf – als Sam se handewerk.

Ook in die huis is nuwe muurversierings en beddegoed vir die bababedjies wat Alett op skuld gaan koop het. Sy bederf die kinders nes ’n ouma sou.

Stuk-stuk word daar vandag ook meubels in die huisie ingedra. Weldoeners lewer ’n nuwe bed en ’n rusbank af. Daar is twee wiegies vir die babas en ’n nuwe speelding wat bo die bedjies hang. Ook tweelingstootwaentjies, karstoeltjies en babaprodukte is geborg.

Die gesinsvreugde wat ons vandag hier beleef, is eintlik ’n wonderwerk, want net weke gelede het Sam nie meer vir die lewe kans gesien nie.

Sy vrou, Charlotte, is tydens die geboorte van hul tweeling dood en skielik moes Sam op sy eie sorg vir hul vier spruite: twee klein seuntjies en twee pasgebore dogtertjies. Hy was desperaat.

En toe, uit die bloute, kom die hulp van ’n vreemdeling.

Charlotte, Sam se vrou van die af­gelope 16 jaar, het op 28 Januarie vanjaar by hul huis op ’n dorpie in Limpopo begin kraam. (Die naam van die dorpie word op sy versoek weerhou.) Sy was 37 jaar oud.

Die egpaar het uitgesien na die koms van die nuweling, maar net één baba verwag.

Toe die kraampyne begin, het Char­lotte na ’n kliniek gegaan, en sy is van daar na ’n staatshospitaal geneem. Maar toe klein Mmadi gebore word, het Charlotte en die mediese personeel besef nóg ’n baba is op pad.

Charlotte is inderhaas operasiesaal toe geneem vir ’n keisersnee, maar is op die operasietafel oorlede voor sy haar tweede dogtertjie, Kgopotso, kon vashou.

Sam, ’n nutsman by ’n trouplek in ­Muldersdrift, was tydens die geboorte 400 km ver weg van hul tuisdorp en by die werk. Toe hy die nuus kry daar is nie net een nie maar twee babatjies, was hy verbaas en wou hy weet hoe dit met Charlotte gaan.

“ ’n Suster het vir my oor die telefoon gesê sy is dood. Ek het eers nie gehoor wat sy sê nie, maar toe sink dit in,” onthou Sam.

Hy is vandag onseker hoe ver sy vrou swanger was toe die babas gebore is, maar vertel albei het met geboorte meer as 3 kg geweeg. Die babas is dus vermoedelik nie vroeg gebore nie.

Maar daar was nie tyd om vreugde te ervaar oor die koms van sy kinders nie, want hy moes dadelik sy vrou se dood probeer verwerk.

“Ek was gebroke; ek wou nie meer leef nie,” onthou hy.

’n Kollega het hom dieselfde dag nog in sy motor ’n geleentheid gegee en hulle het deurnag gery om by die hospitaal te kom. Nadat hy sy tweelingdogters ontmoet en van sy vrou afskeid geneem het, is hy na die gesin se plattelandse huis in die omgewing om by sy seuns te wees.

Karabo en Lucky, wat intussen by bure tuisgegaan het, was bly om hul pa te sien, maar toe moet hy die hartverskeurende nuus met hulle deel.

Klein Mmadi is enkele dae later ontslaan, en Kgopotso kon twee dae later ook huis toe gaan. Maar Sam en Char­lotte se ouers is reeds oorlede, en dit was moeilik vir hom om alleen na sy vier kinders om te sien.

 Sy vrou, Charlotte, is met die geboorte van hul t
Sy vrou, Charlotte, is met die geboorte van hul tweelingdogters oorlede, maar danksy baie mense se hulp het hy nuwe moed. Foto: Lubabalo Lesolle

In ’n stadium was sy gemoed so donker, hy het dit oorweeg om sy eie lewe te neem.

“Toe kyk ek na my kinders. Hulle het niemand.

“Ek was twee weke by daai huis van ons op die dorpie. Maar my gedagtes was donker. Daar was niemand vir my nie en ek was alleen. Ek het geweet ek moes hierheen terugkom,” sê Sam oor sy besluit om saam met sy kinders na Gauteng terug te keer.

Op pad terug na Muldersdrif het hy in Krugersdorp gaan kruideniersware koop – en dit was toe dat ’n wildvreemde vrou haar oor “die man met sy arms vol kinders” ontferm.

“My hart het vermurwe. Ek het in ’n winkelsentrum verby Sam gestap. Lucky het ’n trollie gestoot met ’n bietjie inkopies daarin en Karabo wat langs hom loop. Sam het ’n klein bondeltjie in elke arm gehad. Toe ek koekeloer, sien ek die twee klein-klein babatjies. En op die plek het hy my die storie van Charlotte vertel,” vertel Alett.

Sy het aangebied om hand by te sit toe hy die kinders in die motor sit.

“Toe ek sien die twee babas word in wasgoedmandjies in die kar karwei – daar is nie eens veiligheidsgordels vir hom of die seuns nie – toe weet ek ek moet iets doen. Jy kon aan Sam se gesig sien hy is ’n gebroke man.”

Samaritane

Die wasgoedlyn is byna heeltyd vol. Byna al die kl
Die wasgoedlyn is byna heeltyd vol. Byna al die klere is deur weldoeners geskenk. Foto: Lubabalo Lesolle

Sy is huis toe en het in ’n Facebook-­inskrywing vertel van die enkelpa se stryd – en toe word sy oorval deur aanbiedinge van mense wat wil help.

Verwonderd vertel sy van die samaritane se hulp:

“Sommige het selfs onderneem om ’n jaar lank elke maand geld te gee. Mense wat die kinders se skoolgeld betaal, wat doeke gee, klere, speelgoed . . . Daar is mense wat betaal vir babaoppassers van sewe soggens tot sewe saans en drie keer per week in die aand . . . maatskappye wat baba­produkte borg. Dit is ongelooflik hoe mense hul harte oopmaak.”

Die kamer op die landgoed van die trouplek waar Sam aanvanklik met sy kroos gewoon het, was nie groot genoeg vir sy gesin nie; daarom het sy werk­gewers in­gestem dat die gesin in ’n nuwe woonplek op die erf intrek.

Ondersteuning

Met Huisgenoot se besoek sou die gesin nog net een aand die enkelkamer deel en die volgende dag na die groter blyplek trek.

Sy werkgewers en kollegas by die trouvenue is die ondersteuningsnetwerk waarsonder Sam nie alleen die mas kan opkom nie, vertel hy. Van die vroue maak saans vir die gesin kos. Hulle gaan haal ook die twee seuns by die skool en help met die wasgoed.

Maar snags wanneer die twee babatjies wakker word, moet hy alleen bottels maak en sus, vertel hy. Sy skoonsuster, Alice Mgwepe, het aanvanklik kom help, maar haar verlof is nou op en hy moet ­alleen regkom.

Hy is dankbaar vir almal se hulp, maar veral vir die rol wat Alett gespeel het. Haar man is twee jaar gelede oorlede en sy het twee volwasse kinders. Ook sý ken swaarkry, want een van haar seuns is in ’n versorgingstehuis nadat hy op 16 ernstige breinbeserings weens ’n motorfietsongeluk opgedoen het.

Vir haar is dit bevredigend om Sam en sy kinders by te staan.

“Dit gaan nie oor my nie. Ek is net bly ek kon iemand help.”

Sam sê sy seuntjies vra nog gereeld waar hul ma is.

“Dan moet ek weer verduidelik,” vertel hy hartseer.

Maar dan voeg hy by: “Bietjies-bietjies word ek sterker. En as ek sterk is, sal my kinders ook sterk wees.”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitter en Facebook en teken gerus in op ons nuusbriewe.