“Aan die begin was die uitdaging dat ons 100 vragte voer binne ’n jaar se tyd by die boere uitkry. Ons laai nou nommer 699 af,” vertel Burre Burger, stigter van die projek Droogte Hulp.

Die rooi konvooi trokke oppad met voer vir droogte geteisterde gebiede in die Noord-Kaap. Foto; verskaf

Vandag laai hulle die tien vragte af oral in die Boesmanland: Aggeneys, Lekkersing, Kuboes, Eksteenfontein, Wolfkraal, Kammieskroon, Pofadder, Kliprand, Hondeklipbaai-pad en Garies.

Die tien rooi trokke met voer het Saterdagoggend vetrek uit Middelburg, Mpumalanga. Die voer en vervoer is geborg deur besighede op die dorp. Die vervoer is geborg deur Nico van den Berg van Blinkwater Meule en elke lorrie het tussen 30 en 34 ton vervoer.

“Op die sewende van hierdie maand is dit presies ’n jaar terug vandat ons begin het,” vertel hy. Die projek het begin om aan Calvinia hulp te verleen en het uitgebrei na ander omgewings wat ook hulp nodig gehad het. Die publiek en sake-ondernemings befonds dié projek.

“Vanaand wil ek graag van die geleentheid gebruik maak om dankie te sê vir elke borg, elke boer, elke helper langs die pad,” sê hy op hul Facebook-blad.

“Elke lorriedrywer . . . Dankie dan aan groot maatskappye wat ingeklim het oor hulle lief is vir help en lief is vir Jesus. Een so maatskappy is Blinkwatermeule. . .

Oral langs die pad het weldoeners kos en drinkgoed vir die drywers gegee om hulle te bedank. Daar was ook ’n WhatsApp-groep wat mense op hoogte gehou het.

“Een tannie het my laat weet dis soos om 7de Laan op TV te volg,” spot Burre. Die woorde “hoendervleis” en “inspirasie” is ’n paar keer op WhatsApp gebruik.

Op die Facebook-blad daag hy die regering uit om ook van hulle kant af ten minste 100 vragte aan die droogtegebiede te skenk.