Die foto wat Salome op Facebook gedeel het en wat
Die foto wat Salome op Facebook gedeel het en wat miljoene mense aangegryp het. Foto: Verskaf

Liefde in oorvloed tussen die mens en sy beste vriend is iets wat ’n mens oral ervaar, maar ’n sonderlinge liefde soos Whiskey s’n kry jy nie om elke hoek en draai nie.

Whiskey is die boerboel-kruis van Lawaaikamp, George, wat op Vrydag 9 April besluit het daar is nie ’n manier waarop hy van sy eienaar, Maliso Cordelia Ngoqo, geskei gaan word nie. Die wyse waarop hy sy pote om haar geslaan en haar vasgehou het, het gesorg dat hy oornag in die harte van ’n paar miljoen mense ingekruip het en dat hulle hul beursies oopgemaak het om te sorg dat dié twee nie geskei word nie. 

Soos ’n graadeentjie het Whiskey aan Maliso vasgeklou toe sy ’n desperate pleidooi aan werkers van die Tuinroete se Dierebeskermingsvereniging (DBV) gemaak het om haar “kind” in te neem omdat sy nie meer vir hom kan sorg nie. Whiskey het ander idees gehad en het behoorlik soos ’n apie aan haar geklou. Die beamptes se harte het heeltemal vermurwe en hulle het dadelik ander planne beraam om die situasie te beredder.

Die inspekteurs Salome Bruyns en Estelanie van Wyk was Vrydagmiddag besig om honde, wat die oggend opgetel is om gesteriliseer te word, weer by hul huise af te laai toe Maliso die DBV-voertuig gesien het.

Sy het die beamptes genader en hulle gesmeek om asseblief vir Whiskey saam te neem na die DBV omdat sy nie langer vir hom kan sorg nie. Whiskey het toe teen haar opgespring, haar omhels en sy kop agter haar ingedruk asof hy wou sê: “Mamma, moet my asseblief nie weggee nie.” 

Volgens Salome het die toneel haar so aangegryp dat sy onmiddellik besluit het sy kan onmoontlik vir Whiskey en Maliso skei. “Ek het op die plek besluit dat ek ’n ander plan moet maak en êrens moet hulp kry om die twee bymekaar te hou. Sulke ware liefde moet gekoester word,” voeg sy by.

“Ek het vir Maliso gesê dat sy Whiskey moet hou en dat ek vir haar gaan hulp soek. In daardie stadium het ek nie in my wildste drome gedink dat hierdie bewys van liefde soveel harte sou raak en die hulp sou laat instroom nie.”

Salome het die aangrypende foto op Facebook geplaas en meer as drie miljoen mense het reeds die plasing gesien. Die reaksie is verstommend. 

Volgens Salome is die DBV ongelooflik dankbaar vir die ongekende goedhartigheid van mense wat donasies gemaak het om Whiskey en sy eienaar bymekaar te hou. 

Met die donasies wat instroom, kan ander honde in dieselfde situasie as Whiskey ook gehelp word. Die nood daarbuite is baie groot. 

Maliso en Salome. Foto: Verskaf
Maliso en Salome. Foto: Verskaf

“Een van die grootste uitdagings is om soveel moontlik honde te steriliseer. Een hond en haar werpels kan in sewe jaar se tyd 75 000 honde oplewer; daarom is sterilisasie so uiters belangrik. Baie mense sukkel finansieel, veral ná covid, en daar is net eenvoudig nie genoeg goeie huise vir al die diere nie,” sê Salome. 

Whiskey is tans by die DBV vir sterilisasie en mediese behandeling. Volgens die DBV sal Whiskey se fonds bestuur word, en daar sal op ’n gereelde basis genoeg kos by sy huis afgelewer word. Ander “Whiskeys” sal ook gehelp word.

Salome het Sondag die goeie nuus aan Maliso gaan g
Salome het Sondag die goeie nuus aan Maliso gaan gee dat sy en Whiskey nie van mekaar geskei hoef te word nie. Foto: Verskaf

Mense is welkom om Whiskey se storie op die Facebook-blad Garden Route SPCA Western Cape te volg.

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe