Dis net ná sononder op ’n Vrydagaand, en Sandton, die hart van Johannesburg se korporatiewe mag en weelde, is ’n gewoel. Die gedreun van die spitsverkeer breek soos branders teen die kranse van glas en beton. In die vele kuierplekke trek bankiers en prokureurs hul dasse losser en koop skemerkelkies, terwyl ander hul spykerhakskoene uitskop.

Nog ’n harde werkweek is verby en dis partytjietyd . . .

Maar in ’n gebou in Katherinestraat is twee kollegas salig onbewus van die geroesemoes buite in die helder verligte strate. Hulle bly laat op kantoor vanaand – maar nie om ’n dringende kontrak of groot saketransaksie af te handel nie.

Want die rooiwarm tonele wat in die kantoor afspeel, sou selfs die akteurs in Fifty Shades of Grey laat bloos. Nie eens húlle het dit op die lessenaar voor die glasmuur gedoen nie . . .

Maar die twee kantoorkafoefelaars was skynbaar so deur hul wellus mee­gevoer dat hulle nie wis watter wulpse vermaak hulle aan die verbygangers op straat verskaf nie.

En iemand het boonop ’n selfoonvideo geneem en dit in die ­sosiale media gedeel . . . en voor jy ‘fyndraai’ kon sê, is dit ’n swetterjoel kere gekyk en gedeel.

Sandton het lanklaas so gegons – en aan stoute grappies is daar natuurlik g’n einde nie. Praat van die maand van die liefde . . .

Maar Zahed Sibda dink glad nie dis snaaks nie. Trouens, hy is so kwaad, hy kan slange vang. Want hoewel ’n mens in die video net twee dowwe figure sien, het sommige loerkykers in die sosiale media sommer verkondig hý is die minnaar. En hulle het toe ook ’n ware foto van hom aanlyn versprei.

Die getroude beleggingsbankier en plaaslike direkteur van die internasionale maatskappy wat kantoorruimte in die gebou huur, hou vol hy is nié een van die figure in die video nie en dit is nie hy wat daardie aand oënskynlik die kat in die donker geknyp het nie.

Hy sê sy persoonlike lewe is deur die bewerings vernietig.

Dis asof iemand jou in ’n stegie in­sleep, jou blinddoek en in ’n skuur toesluit.

“Ek is geskok, gewalg en kwaad,” sê Zahed (48) aan Huisgenoot.

Hy het pas tuisgekom ná ’n sakereis in die buiteland toe sy dogter hom vertel van die seksvideo en sy beweerde aandeel daarin. En sedertdien word hy deur wildvreemdelinge bespot en beledig.

“Dis asof iemand jou in ’n stegie in­sleep, jou blinddoek en in ’n skuur toesluit. Dan reën die houe op jou neer; die vloekwoorde sny soos messe. Maar jy weet nie wie die mense is nie; jy weet nie hoekom hierdie ding met jou gebeur nie.”

Hy het al hoeveel keer gesê dis nie hy nie. Maar oral waar hy gaan, volg nuuskierige oë en fluistergesprekke hom.

“Jy kan die skade nie kwantifiseer nie. Dis ’n groot skok vir my familie . . . Nie net my vrou nie, maar my kinders, neefs en niggies. Wat moet hulle dink?

“Die skade is onherstelbaar en dit oor twee mense wat hulle nie kon inhou nie.”

Met jou aankoms by die nou berugte kantoor­gebou in Sandton merk jy dadelik die glas strek van die vloer tot die plafon. Dit bied voorwaar ’n uitsig sonder grense; van binne én buite.

Zahed is dadelik verontwaardig oor sy lot.

“Hoekom ék? Dat my naam nou op 48 aan so iets gekoppel word! Eisj.”

Die video met die wriemelende skaduwees se aanlyn debuut was op 7 Februarie, net mooi ’n week voor Valentynsdag. In die video kan jy hoor hoe motoriste in Katherinestraat se kruipende verkeer vir hulle toet, maar van briek aandraai agter daai glasmuur was daar min.

Kort daarna is beweer Zahed, besturende direkteur van Fieldstone ­Private Capital se Suid-Afrikaanse tak, is die vurige minnaar.

“Ek het nog nie een aand sedert hierdie voorval ’n goeie nagrus gehad nie. Ek is moeg; ek is gespanne. Ek lê oor en oor en tob oor die ding . . . Hoe kan so iets gebeur? En hoekom met mý?”

Dis moeilik om te bepaal of die man voor jou na die man in die video lyk. Daar is die kaalgeskeerde kop, ja. En die bokbaard. Maar hy lyk kleiner en korter as Sandton se eie Christian Grey.

Sedert die videodebakel word hy in die sosiale media gepeper met vrae soos: “Hoe kan jy nie besef ’n mens kan by die vensters insien nie?” En: “Was dit opsetlik; was dit net ’n show?”

Hy herhaal met ’n strak gesig: “Dit was nié ek nie.”

Hy vertel sy dae hier in Katherinestraat is altyd dieselfde. Hy parkeer sy motor in die kelder, neem die hysbak na die gehuurde kantoorruimte op die tweede verdieping. Dikwels eet hy sommer uit sy kosblik net hier agter die lessenaar en verlaat hy eers saans die gebou.

Skermgrepe uit dié wulpse video.
Skermgrepe uit dié wulpse video.

“Ek was nie eens meer in die kantoor toe daardie video geneem is nie. Ek was omstreeks 20 voor sewe reeds tuis, lank voor die voorval plaasgevind het. Vra maar hier in die kantoor rond,” sê hy. En al sy kollegas beaam: Ja, dit is so.

Zahed vertel die bewerings dat hý die man in die video is, het internasionaal opslae gemaak. Hy het boodskappe daaroor van tot Brittanje en ­Saoedi-Arabië gekry.

Skermgrepe uit dié wulpse video.
Skermgrepe uit dié wulpse video.

“Elkeen sê: ‘Zahed, ons is so jammer. Ons kan nie so iets van jou glo nie; ons weet hierdie ding sal ook oorwaai.’

“Maar sal dit werklik? Die skade is gedoen . . . Ek weet nie of enigiemand ooit regtig van so iets kan herstel nie. Dinge sal nooit werklik dieselfde wees nie. Want ja, daar is mense wat jou ken en in jou glo. Maar diegene wat jou nie ken nie, sal altyd skepties bly.

“Dis iets waarmee ek moet saamleef. Ek, wat ongevraagd in die middel van hierdie drama beland het.”

Zahed wil nie oor sy gesin uitwei nie.

“Hulle ondersteun my die hele pad en weet dit is nie ek nie. Hulle verstaan nie hoekom dié ding met my gebeur het nie.

“Maar dan is daar natuurlik dié wat my nie ken nie. En ek sien wat hulle dink wanneer ek in die gebou instap: ‘Is dit hy? Of is dit nie hy nie?’ Of ek kry sulke simpatieke ag-shame-kyke. Dis sleg; ’n mens voel regtig asof jy nie jou kop by die huis wil uitsteek nie,” vertel hy.

“Was net ék vir die wolwe gegooi, was dit nog oukei. Maar dis die maatskappy; die jong mense in my familie . . . Ai, dis verskriklik.”

Nee, hy het self geen idee wie die mense in die video is nie.

En hy vertel die hitsige paartjie het hul ding gedoen in ’n ander kantoor in dieselfde gebou – nie in die ruimte wat deur ­Zahed se werkgewers gehuur word nie.

“Ek weet wel watter maatskappy die betrokke kantoor huur.”

Zahed se regsverteenwoordigers het Woensdag ’n prokureursbrief aan dié maatskappy gestuur.

Die nou berugte kantoorgebou in Katherine­straat w
Die nou berugte kantoorgebou in Katherine­straat waar twee wellustige kollegas wulpse vermaak aan verbygangers verskaf het. Foto: Lubabalo Lesolle

“Ons het aan hulle versoek om vorendag te kom en te erken dat die sage in hul kantore afgespeel het, dat dit nié ek in die video is nie en dat hulle dienooreenkomstig teen die werknemers in die video optree,” sê hy.

“Hulle bly nou stil om hul eie belange te beskerm, maar daardeur doen hulle my reputasie groot skade aan. Dis nie eties nie. As hulle nie ons versoek eer­biedig nie, sal ons optree. Hulle het teen Maandagoggend (17 Februarie) nog nie op my versoek gereageer nie.”

Zahed sê hy is ook reeds in kontak met die polisie en beoog skadevergoedings­eise teen verskeie partye, meestal sosiale­mediagebruikers.

“Wat moet nog gebeur voor die regering kuberboelies met wetgewing vasvat?”

Ja, hy ontvang ook talle eksplisiete versoeke van vroue aanlyn, erken hy.

Is dit trots wat ons op sy gesig sien?

“Nee, dis afsku. Daarvan verseker ek jou.”

En buite wil ’n mens jou verbeel die motors kruie selfs stadiger as gewoonlik by die kantoorgebou verby . . .

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitter en Facebook en teken gerus in op ons nuusbriewe.