“Dit gaan goed met my. Ek voel goed, ek het lekker energie en ek is positief,” het Adam (33) Dinsdag aan Huisgenoot.com gesê terwyl hy besig was om sy gereelde dialisebehandeling te ontvang.

Vir Adam is dit meer ’n geestelike reis as enigiets anders. In dié stadium word toetse nog gedoen om te bepaal of ’n geskikte skenker vir ’n nieroorplanting gevind is. Eers dan sal ’n datum vir die groot operasie bevestig word.

Die sanger, wat bekendheid verwerf het as lid van die groep Romanz en hom ook as solokunstenaar gevestig het, sê hy glo in die krag van gebed. Hy hoop mense sal ook vir hom bid wanneer dié belangrike dag aanbreek.

Adam ly al van sy kinderdae af aan ’n nierkwaal, waar sy niere sukkel om sy liggaam van gifstowwe te reinig.

In die jaar nadat Adam Huisgenoot se Tempo-toekenning vir nuweling van die jaar ontvang het, het hy in 2016 ernstig begin siek raak het.

Dokters het toe gemaan ’n nieroorplanting is onafwendbaar. Dieselfde jaar het hy sy soloalbum, Seisoene in die Son, uitgereik.

Adam weet die dialise en chroniese medikasie het tot dusver net sy nierfunksie ondersteun, maar hy glo hy weet wie in beheer van sy lewe is. 

“As dit Sy wil is en Sy salwing op my lewe is, sal ek dit wil gebruik om Sy naam groot te maak en te getuig van Sy genade in my lewe,” sê Adam, die pa van die eenjarige klein Carmie, in sy kenmerklike beheerde stem.

Hy bly moedig te midde van alles.

Hoewel hy elke dag in sy reis aan veranderlikes blootgestel word, laat hy nie enige negatiwiteit in sy gedagtegang toe nie.

“My vrou, na die Here, hou my sterk. My vrou is baie goed vir my. Sy is ’n sterk mens. Ek is baie dankbaar,” vertel hy oor sy sielsgenoot, Almitra.

Dit is steeds vir hom moeilik na die afsterwe van sy geliefde ma en steunpilaar, Christie (61), wat op 6 Junie 2017 in ’n botsing reg van voor tussen Parys en Sasolburg oorlede is.

Sy was op pad om hom vir sy dialisebehandeling te gaan haal.

Wyle Christie Barnard, die ma van sanger Adam Barnard.

Adam vertel hy mis sy ma nog baie. Hy sê hoewel daar berig is sy ma sou aan hom ’n nier skenk, was dit nie noodwendig die geval nie.

“My ma sou as laaste uitweg ’n moontlike skenker kon wees, maar dit was nie toe die geval nie.”

Maar Adam laat hom nie onderkry nie. Adam vertel musiek bly steeds sy passie.