“Maar nou sing hy voor God se troon.”

Só sê Elzabi Buek oor Keagan Rossouw. Elzabi was vir jare dié 11-jarige, wat aan Fanconi se anemie gely het, se sangjuffrou.

Elzabi sal Vrydag daar wees wanneer Keagan se geliefdes tydens ’n roudiens vir hom gaan totsiens sê. Dié diens vind om 11:00 in die Gereformeerde Kerk Rustenburg-Sentraal plaas.

Keagan, wat gereeld die verhoog met die sanger Manie Jackson gedeel het, is verlede Vrydag weens ’n onbekende virus in die Netcare Unitas-hospitaal in Centurion oorlede.

Verskeie musikante soos onder meer Willem Botha en Angel de Lange het op sosiale media gesê hoe hulle hom gaan mis en hoe groot indruk hy op hul lewens gemaak het.

“Ek gaan hierdie mannetjie geweldig mis,” vertel Elzabi, wat ook ’n sangeres is. 

Keagan Rossouw
Keagan moes weens sy gehoorverlies altyd vir Elzabi dophou om te sien hoe hy moet sing. Foto: Verskaf.
Keagan Rossouw
Foto: Verskaf.

Elzabi het vir Keagan in 2014 leer ken toe sy by die Rustenburg Christelike Akademie in beheer van die konserte was. Keagan was toe in graad R.

Hy kon slegs twee ure ’n dag skool gegaan weens sy siekte. Fanconi se anemie is ’n baie skaars oorerflike siekte wat hoofsaaklik die beenmurg en die produksie van rooi bloedselle affekteer.

Die toestand het ook sy gehoor en sig aangetas, maar dit het nie die klein vegtertjie teruggehou om sy droom om ’n sanger te word te bewaarheid nie.

“Aan die begin kon Keagan selfs met sy gehoorstuk nooit lae klanke hoor nie,” vertel Elzabi. Dit is veral moeilik vir hom om die ritme van die liedjie se laer basnote te hoor is en dus het Keagan dit dikwels moeilik gevind om in tyd te sing. 

Keagan Rossouw
Keagan Rossouw in graad R. Foto: Verskaf.
Keagan Rossouw
Foto: Verskaf.

“Jy moes elke woord van die liedjie vir hom leer en hy moes baie mooi vir my gesig kyk om my mond se vorm te sien om die woorde te kan klaarmaak,” sê sy.

“Daar is so baie van hom weggevat, wat hy nie het nie, maar God het vir hom soveel talente teruggegee,” vertel sy trots.

Later het hy ’n ander gehoorapparaat met meer funksies gekry, maar dit verbaas haar steeds hoe goed Keagan kon sing deur slegs haar mond dop te hou.

Elzabi, wat nou in Pretoria woon, het nog gereeld vir Keagan gesien en hulle ook saam opgetree. Sy het hom die laaste keer by die Extreme Adventure-fees in Rustenburg gesien toe hulle op Saterdag 31 Augustus vir die laaste keer saam gesing het.

Keagan Rossouw
Keagan besig om te braai. Foto: Verskaf.

As hulle naweke klaar opgetree het, wou Keagan altyd self vir hom en Elzabi vleis braai. 

“Hy het geglo hy moet ons vleis braai. So, die manne het maar altyd kole vir hom in sy klein braaiertjie gegooi en dan het hy self ons vleis gebraai,” sê Elzabi.

"Hy het 'n vol lewe gelewe gelei en die stukkie van sy lewe wat hy gehad het, het hy terdeë geniet. Hy het altyd geblom van geluk," onthou sy.

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.