Dié voorheen aktiewe ma van twee het laas Desember nog byna 90 kg geweeg, maar in Augustus het haar gewig by ’n skrale 37 kg gaan draai.

Nadat Katinka se maagseer sowat ’n jaar gelede verwyder is, moes sy medikasie neem vir ’n oorblywende seer aan die onderkant van haar maag.

Volgens Katinka sal daar nie veel van haar maag oorbly as die tweede seer ook verwyder word nie. Daarom het die gesin gehoop die medikasie sal haar tot so ’n mate laat herstel dat ’n tweede chirurgiese prosedure nie nodig sal wees nie. 

Die behandeling het dit egter vir haar moeilik gemaak om kos in te neem, en sedertdien het Katinka so weggekwyn dat sy buitendien nie nou sterk genoeg is om nog ’n operasie te ondergaan nie. 

Haar man, Manie, het voorheen aan Huisgenoot vertel dat die dokter haar liggaamsgewig bo 50 kg wou kry. Katinka het wel die afgelope drie maande 5 kg aangesit.

“Ek weeg nou 42 kg, maar ek sukkel steeds om te eet,” vertel sy. 

manie en die kinders besoek katinka in die hospita
Manie en hul twee kinders het nie omgegee om Kersfees saam met Katinka in die hospitaal deur te bring nie. Foto: Verskaf

Benewens die maagseer wat steeds lol, gee haar een been ook probleme. 

Katinka sukkel reeds 12 jaar lank met sellulitis in haar linkerbeen, en dit besorg haar af en toe ondraaglike pyn. Omtrent twee jaar gelede het sere begin vorm wat later septies geraak het. 

“Die been gee vir my steeds baie moeilikheid en op hierdie stadium kan ek hom nie regtig beweeg nie. Dis baie geswel en omtrent drie keer my ander been se grootte,” vertel sy.

Haar mediese probleme spoel ook nou vir die Steyns oor in finansiële bekommernis. “Die geld is besig om knap te raak,” sê sy. 

Party dae is darem makliker as ander, sê sy. “ ’n Mens praat jouself moed in en dink maar dat daar ander mense is wat groter moeilikhede as jy het, en dan gaan jy maar weer aan.” 

Bedags as Manie, ’n konstruksievoorman, by die werk is en hul twee kinders Marina (8) en Manie jr. (5) by die skool is, sorg sy dat sy besig bly. 

“Ek lees en het ’n loopraam wat my help tot in die kombuis waar ek steeds probeer om kos te maak. Maar ek raak baie gou moeg. Hoewel dit baie moeilik is, probeer ek steeds my bes om so ver as moontlik normaal aan te gaan.” 

Dis veral haar geliefdes wat haar laat aanhou veg. “As dit nie vir my man en twee kinders was nie, het ek lankal opgegee."

Katinka se grootste wens vir Kersfees is dat sy dit vanjaar saam met haar gesin by die huis kan vier. “Ek wil nie nog ’n Kersfees in die hospitaal spandeer nie; dit was glad nie lekker nie,” onthou sy Kersdag in die Mediclinic Hoëveld op Trichardt (naby Secunda) waar sy laas Desember wakker geword het en moes verneem dat ’n seer in haar maag gebars het. 

Haar volgende doktersbesoek is in Januarie volgende jaar. “Hy (die dokter) is tevrede met my vordering. Ek sal ook graag wil terugkeer werk toe, maar weens covid-19 is my baas en dokters bang,” sê Katinka, wat vir ’n sekuriteitsfirma werk. 

“Ek glo teen Januarie-maand behoort ek volstoom aan te gaan en ek hoop om dan 50 kg te weeg,” sê sy.

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe