Die jong man se stem klink rasper; rou.

“My longe is die seerste, maar my wonde raak nou gelukkig vinnig gesond,” sê Tyrone Bruwer (34) van Secunda in Mpumalanga Woensdag moeisaam vanuit die Netcare-Milpark-hospitaal in Johannesburg.

Hy is net sowat ses dae af van die ventilator wat hom suurstof gegee het nadat hy Sondag 14 Junie byna in dieselfde brand omgekom het wat die lewe van ’n vriendin, Odette Dagnicourt (33), en haar sesjarige seuntjie, Jean-Stevens (JS), geëis het.

Tyrone, wat erg op sy hande, linkerbeen en in sy gesig gebrand het, was 15 dae onder verdowing en het eers ná die ventilator verwyder is, uitgevind Odette en haar seuntjie is in die treurspel dood. Hy vertel hulle was lank goeie vriende.

Die puin van die huis in Bostonstraat, Secunda. Fo
Die puin van die huis in Bostonstraat, Secunda. Foto: Verskaf

“Die sielkundige was hier by my. Ek was onder die indruk Odette-hulle lewe nog. Toe sê hy daar is iets wat hy met my moet deel: Odette en JS het dit nie gemaak nie.”

Tyrone bly ’n oomblik stil.

“Dis natuurlik baie sleg. Ek weet ek het my bes gedoen om hulle daar te probeer uitkry. Ek kan nie myself blameer nie. Ek kon nie meer doen nie . . . Ek het gedink hulle het dit gemaak. Ek was geskok.”

Tyrone Bruwer (34) van Secunda het die brand oorle
Tyrone Bruwer (34) van Secunda het die brand oorleef waarin sy vriendin en haar seuntjie gesterf het. Foto: Facebook

Huisgenoot het vroeër berig Odette se familie en vriende het in die eerste ure en dae ná die treurspel aanvanklik verbete na Odette, JS en sy sussie, Shianette (12), gesoek.

Shianette, het hulle uitgevind, het die tragedie wonderbaarlik vrygespring. Sy het die Saterdagaand by haar tante, Odette se suster, by wie hulle die vorige aand gebraai het, oorgeslaap.

Die familie het gehoop Odette en JS kon dalk uit die brandende woonstel vlug omdat nooddienswerkers hulle nie op die toneel kon opspoor nadat die brand geblus is nie. Maar teen die Dinsdag is hul verkoolde lyke wel bo in die dubbelverdiepingwoonstel gekry.

Tyrone was in daardie stadium onder sterk verdowing in die hospitaal nadat hy daarin geslaag het om uit die huis te vlug.

“Die laaste wat ek onthou, is toe ek onder op die bank wakker word van die rook . . . en die gille,” vertel Tyrone, wat die vorige aand saam met Odette-hulle gebraai het. Hy vertel hy het hulle nog die aand huis toe gevat en onder op die bank geslaap.

Tyrone Bruwer (34) van Secunda het ernstige brandwonde in ’n huisbrand opgedoen. Foto: Facebook/Tyrone Bruwer
Tyrone Bruwer (34) van Secunda het ernstige brandwonde in ’n huisbrand opgedoen. Foto: Facebook/Tyrone Bruwer

Die vermoede bestaan ’n elektriese verwarmer het die oggend omstreeks sesuur die brand bo in Odette se kamer laat ontstaan.

“Ek het dadelik boontoe gehardloop, maar dit was net rook en vlamme. Ek kon hulle nie sien nie. Ek weet nog steeds nie hoe dit gebeur het nie, maar ek het my kop oopgeval op pad af met die trappe.”

Tyrone het weens die rookinaseming sy longe erg seergemaak. Hy weet nie hoe of waar nie, maar in sy soektog na Odette en JS het hy ook erg gebrand.

“Ek kan niks verder onthou nie. Ek weet nie hoe het ek daar uitgekom nie. Die laaste wat ek onthou, was ek in die ambulans; ek kan nie eens onthou hoe ek daar gekom het nie.”

Hy vertel wanneer hy hopelik teen die einde van die week ontslaan word, sal hy graag met die eienaars van die huis en mense op die toneel wil praat.

“Ek moet vir myself duidelikheid kry. Daar is nog baie antwoorde wat ek nie het nie.”

Vir nou probeer hy nog tot verhaal kom oor wat gebeur het. Hy besef hy was gelukkig om die tragedie te oorleef.

“Ek het verbasend genoeg nie pyn nie. My longe is nog die seerste. Die wonde aan my gesig en bene het reeds baie genees, dis net my linkerhand wat nog ’n probleem is.”

Tyrone, wat as gehaltebeheerspesialis by die plaaslike Sasol-aanleg werk, vertel sy werkplek was sover baie ondersteunend.

“Ek is dankbaar, ek weet ek gaan seker ’n tyd lank nie kan werk nie.”

Hoe voel hy oor die toekoms?

“Ek voel steeds dieselfde oor die toekoms. Ek dink die hele ding gaan net van my ’n beter mens maak. Ek vra glad nie vir die Here hoekom nie. Ek was altyd na aan die Here; ek dink die ding het my nou net nog nader aan Hom gebring.

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe