Marnu Prinsloo en sy ma, Annezell Janse van Rensbu
Marnu Prinsloo en sy ma, Annezell Janse van Rensburg. Foto: Facebook.

Toe hul seun op 11 Augustus vanjaar sy laaste pille drink, het sy ouers gedink hul klein Marnu (6) sou eindelik van die kanker ontslae wees.

“Ons was in ekstase. Ons het vir hom ’n deurry-partytjie gehou om sy nuwe lewe te vier,” vertel Annezell Janse van Rensburg (29) aan Huisgenoot.

Dan voeg sy ietwat somber by: “Dit was so twee of drie weke voor ons uitgevind het hy het ’n terugslag gehad.”

Die egpaar het toe die nuus gekry dat Marnu, by wie akute limfoblastiese leukemie aanvanklik in 2017 gediagnoseer is, se kanker nou ook na sy sentrale senuweestelsel versprei het.

“Ek sukkel tot vandag toe om dit te aanvaar, maar ’n mens moet maar, al is jy hoe seergemaak,” vertel Annezell oor die diagnose van 25 Augustus vanjaar.

Marnu Prinsloo
Foto: Facebook.
Marnu Prinsloo
Foto: Facebook.

Al moes hulle reeds drie jaar gelede ook soortgelyke slegte nuus verwerk, het dit dinge nie makliker gemaak nie.

Marnu is egter sy positiewe, vriendelike self. “Ons het net vir hom gesê sy siekte is terug, maar hy het eerlikwaar nie ’n saak nie,” sê Annezell met ’n laggie.

Marnu se sussie, Mariné (3), verstaan nog nie lekker waardeur haar boetie gaan nie – Annezell en haar man, Pieter Prinsloo (29), verkies dit eintlik so.

Marnu Prinsloo
Foto: Facebook.

Annezell onthou hoe verpletterd sy en haar man, ’n houtwerker, was toe die siekte aanvanklik gediagnoseer is.

“Dit was verskriklik. Ek kan dit nie eens in woorde beskryf nie,” sê Annezell.

“Dieselfde dag dat ons gehoor het Marnu het kanker, was die dag wat ons uitgevind het ons verwag ’n dogtertjie,” sê sy met die trane wat baie vlak lê.

Sedertdien, net soos die drie jaar tevore, pendel die gesin van hul tuiste in Secunda na die Steve Biko-hospitaal in Pretoria, waar Marnu nou weer gereeld chemoterapiebehandeling sal ondergaan.

Omdat Marnu se kanker teruggekeer het, beteken dit hulle kan nog terugslae in die toekoms verwag, sê Annezell.

Hulle moet dit nou oorweeg om ’n geskikte stamselskenker vir ’n beenmurgoorplanting vir hul seuntjie te kry. 

Marnu Prinsloo
Foto: Facebook.

Maar om ’n geskikte skenker te kry, is nie maklik nie, en as hulle niemand in Suid-Afrika vind nie, sal hulle iemand teen groot onkoste oorsee moet probeer opspoor.

“Al word ek partykeer negatief, weet ek God is altyd daar,” sê Annezell.

“Ons het ’n baie sterk ondersteuningsbasis van familie en vriende, en ons hou vas aan God. God gee vir ons baie krag en moed,” vertel sy.

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe