Arlo Smith (15) van Secunda het Dinsdag met ’n swaar hart teruggegaan dokter toe. 

Twee weke gelede, soos met elke besoek sedert die ongeluk toe hy met sy fiets oor ’n laagwaterbrug gestort het, het die dokter vir hom vertel vele operasies sal nog uitgevoer moet word.

Maar Dinsdag het die spesialis eers verslae na die jongste X-straalplate gekyk, en toe na Arlo en sy ouers. “Julle, kyk hier,” het die dokter gesê. "Die been groei terug.”

Die aktiewe jong Arlo Smith hoop dat hy weer sal k
Die aktiewe jong Arlo hoop dat hy weer sal kan sport beoefen. Foto: Verskaf

Toe ons Dinsdagaand met Arlo se ma, Liezel, praat, was sy ook verslae.

“Die gevoel wat ek vandag by daardie dokter gekry het beat enige hartseer of struikelblok of enige ding wat ek al beleef het in my lewe,” vertel sy.

Huisgenoot het onlangs berig oor die lang herstelpad wat vir Arlo voorlê ná die ongeluk op 23 September.

Die ongeluk

Arlo het die middag nadat sy rugbyoefening afgestel is saam met sy vriende naby die skool gaan fietsry toe die ongeluk gebeur het. Hy het alleen met ’n bepaalde paadjie gery. 

Om 'n draai het hy beheer oor sy fiets verloor en met ’n spoed teen ’n sementmuur gebots. Daarna het hy meters ver deur die lug getrek en van die laagwaterbrug sonder relings afgery en in die spruit beland.

Arlo is per ambulans eers na die Mediclinic Highveld in Trichardt geneem waar bepaal is hy het sy elmboë gebreek en byna heeltemal vergruis. Hy moes ook steke aan sy kop kry.

Arlo Smith, 'n gr.9-leerder aan die Hoërskool Secu
Arlo, 'n gr. 9-leerder aan die Hoërskool Secunda, word per ambulans hospitaal toe geneem. Foto: Verskaf
Arlo Smith is ernstig in die fietsongeluk beseer e
Arlo is ernstig in die fietsongeluk beseer en moes ook steke aan sy kop kry. Foto: Verskaf
Arlo Smith moes aan beide sy elmboë geopereer word
Arlo moes aan albei sy elmboë geopereer word. Foto: Verskaf

’n Eerste operasie van vyf en ’n half uur het gevolg.

’n Week later het hulle hom na dr. Melt van Niekerk, ’n spesialis ortopediese chirurg van Awesome Hands, na die Mediclinic Kloof-hospitaal in Pretoria gebring.

Met die tweede operasie het hy gesien wat die omvang van die skade werklik is.

Arlo Smith herstel in die hospitaal. Foto: Verskaf
Arlo herstel in die hospitaal. Foto: Verskaf
Arlo Smith het beide sy elmboë in die grusame fiet
Arlo het albei sy elmboë in die fietsongeluk vergruis. Foto: Verskaf
'n Lang herstelpad lê voor vir Arlo Smith van Secu
'n Lang herstelpad lê vir Arlo voor. Foto: Verskaf

Nie net het Arlo, deels weens die vuil spruitwater, kwaai infeksie in sy arms ontwikkel nie; die dokter het ook gesien die senuwees in die regterarm is morsaf.

Huisgenoot het toe berig: “Die dokter het met Arlo se beentjies in sy hand gestaan. Hy moes die groeiplate ook verwyder. Daar was niks om dit mee vas te hou nie. In die derde operasie (die afgelope) Saterdag moes hy sy geskeurde triseps heg. Dit was vir Arlo sy seerste operasie nog.”

'n 'Wonderwerk'

Arlo vertel dit was ná die operasie op Saterdag 17 Oktober dat die Here met hom gepraat het. “Jesus het vir my gesê dit gaan nou vir ’n rukkie verby wees. Ek gaan nie nog operasies kry nie. Ek sê toe vir my ma sy moet net glo en vertrou. Ek het net so 'n gevoel in my hart gekry dat dit nou vir ’n rukkie verby is.’

Maar met Dinsdag se besoek vertel Arlo was die vrees steeds daar.

"Jesus het vir my gesê dit gaan nou vir ’n rukkie verby wees. Ek gaan nie nog operasies kry nie."

“Ek het baie gestres, want die dokter sê mos elke week as ek gaan daar is kans vir ’n operasie.”

Liezel het ná hul besoek Dinsdag vertel: “Gewoonlik neem ons eers die X-straalplate, maar vandag het hy twee weke gelede se plate oopgemaak en het ons daarna gekyk. Ag, en Arlo was maar down. Hy het nie ’n lekker naweek gehad nie. Hy het baie pyn en toe sê hy ons moet gaan X-straalplate neem en terugkom."

Liezel het, toe sy die X-straalplate sien, dadelik vermoed sy sien been wat groei in die regterarm. “Ja, sê die vrou toe vir my. Sy sien ’n groeiplaat wat nie voorheen daar was nie. Ek het gesê: ‘Dit kan nie wees nie, die ding is dan uit.’"

Terug in die dokter se spreekkamer het hy gekyk.

“Julle, hier is been."

Die eerste plaat van Arlo Smith se regterarm wys s
Die eerste X-straalplaat van Arlo se regterarm wys sy vergruisde elmboog. Al die versplinterde bene, sy groeiplaat inkluis, moes verwyder word. Foto: Verskaf

“Hy sê toe vir ons hy het dit nog nie voorheen gesien nie. Ek het gevra of dit Arlo se groeiplaat is. Hy sê toe dis nie net sy groeiplaat nie, maar sy kraakbeen. Ek sê: ‘Maar dokter het mos daardie aand vir my gesê kinders kan ’n mens soms verbaas.' Hy kyk na my: ‘Hierdie is nie verbaas nie. Dis nie wat ek bedoel het met verbaas nie. Hierdie is ’n wonderwerk. Dit het ek nog nie voorheen gesien nie.’”

Die jongste X-straal-plaat van Arlo Smith se regte
Die jongste X-straal-plaat van Arlo Smith se regterarm toon dat sy arm weer na "normaal" terugkeer met die groeiplaat, wat teruggroei. Foto: Verskaf

“Ek sê toe ek wil lag en huil en skree. Ek het hoendervleis. Hy sê toe: ‘Jy kan maar alles doen, ek voel ook so.’ En so, asof hy ons wil oortuig, sê hy: ‘Ek het regtig met daai beentjies in my hand gestaan en dit in ’n asblik gegooi. Dit was wég.’”

Volgens die dokter het Arlo se regterarm so verbeter dat dit nie nodig gaan wees vir nog ’n volgende operasie nie. 

Arlo se linkerarm, wat erg beseer was maar nie so erg soos die regterarm nie, het ook verbeter. Die been het ook begin teruggroei.

“Hy het die linkerarm se stut afgehaal en glo ons sal reeds in Januarie die penne kan uithaal. Dít terwyl hy twee weke gelede nog bekommerd was oor die groei van die been en dat ons met dieselfde situasie kan sit as aan die regterkant. Die been het soveel gegroei, hy wil selfs in Januarie die penne uithaal.”

Hoop vir 'n nuwe toekoms

Liezel is steeds verstom.

Tot Dinsdag, toe die dokter die stut aan sy linkerarm verwyder het, was Arlo van haar, sy pa, Eddie, en sy broer, Lieward (16), afhanklik om hom met alles te help.

“Mense moet asseblief nie ophou bid nie. Ek weet die Here gaan nog met Arlo werk. Ek dink wat vandag hier gebeur het, wys die Here vir mense: ‘Dit wat hulle vra, ek doen dit vir hulle. Glo net in my.’ Dis ’n klein wonderwerk. Dis beentjies in ’n arm, maar dis ’n massiewe ding.”

Die gesin het sedert die ongeluk die Facebookgroep Prayers for Arlo Smith begin, waar mense hom bemoedig.

Arlo Smith voor die ongeluk wat sy lewe sou verand
Arlo voor die ongeluk. Foto: Verskaf
Arlo Smith voor die ongeluk wat sy lewe sou verand
Arlo Smith was voor die ongeluk baie aktief. Foto: Verskaf

Arlo, wat langs sy ma sit en luister het, klink opgewonde toe ons gesels. Ons vra hom waarna hy die meeste uitsien.

“Ek sien die meeste uit na die sport en dalk getuig. Ek weet nie. Ek wil. Die dokter het gesê ek sal dalk selfs weer kan rugby speel.”

Arlo vertel daar was baie tye wat hy gevoel het hy wil moed opgee.

“Veral aan die begin. Ek kon niks vir myself doen nie. My ma moes alles vir my doen. Tot gisteraand (Maandagaand) voor my linkerstut afgekom het.”

Wanneer Arlo terugkyk na wat hy uit die reis tot dusver geleer het, sê hy: “Ek sal eerder twee keer dink voor ek iets doen, anders kan sulke goed gebeur. Ek weet nie wat nog nie. Dit het my baie nader aan die Here gebring.”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe