“My hart is in stukke. Ek kan dit steeds nie glo nie,” het sy ma, Annezell Jansen van Rensburg (29), Dinsdag aan Huisgenoot gesê.

Marnu is Sondag 7 Maart oorlede. Akute limfoblastiese leukemie is in 2017 by hom gediagnoseer, en die kanker het na sy sentrale senuweestelsel versprei. 

“Hy het die oggend nog met my gesels en gesê hy voel beter,” vertel sy verslae. “Hy het so hard baklei. Ons het regtig gedink hy gaan dit maak,” sê Annezell. 

Marnu Prinsloo
Foto: Facebook.

Marnu het aanvanklik sy behandeling in Julie 2019 voltooi, maar hy het 25 Augustus 2020 ’n terugslag gehad en moes weer vir behandeling gaan. 

Hy moes ook ’n beenmurgoorplanting ontvang. 

“Daar was reeds vier moontlike skenkers in Europa, en ons het gehoop dat hy sal deurdruk en dat die kanker in remissie sal gaan sodat hy die beenmurg kan ontvang. Nou is dit te laat.” 

Marnu was in die Steve Biko- akademiese hospitaal in Pretoria se onkologie-afdeling toe hy ’n terugslag beleef. Hy het begin opgooi en ’n hoë koors gehad.

Hy is na die intensiewesorgeenheid oorgeplaas. 

Marnu Prinsloo
Foto: Facebook.

Annezell sê sy was die oggend voor sy dood nog by hom in die hospitaal. 

Later die middag het hulle ’n oproep van die dokters ontvang dat hulle moet hospitaal toe kom. Dit gaan nie goed met Marnu nie. 

“Toe ons daar aankom, was dokters besig om hom te probeer bybring, maar dit was klaar te laat.

“Ek kon nie eens behoorlik vir hom groet nie. My hart is gebreek. Hy was so ’n positiewe, vriendelike en opregte seuntjie. Die chemo was net eenvoudig te sterk vir sy klein lyfie.” 

  • Klein Marnu word Vrydag in Secunda begrawe.
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe